Project Description

Skryf in vir die 11de kykNET Silwerskermfees

Inskrywings vir die 11de Silwerskermfees, wat in 2023 in Kaapstad gehou sal word, is nou oop.

Die Silwerskermfees is ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse vermaakwêreld se kalender en het al menige filmmakers die geleentheid gegee om eerste treë in die filmwêreld te neem. Kortfilms het speelfilms geword; regisseurs, skrywers en ander lede van tegniese spanne is raakgesien en loopbane is in die bedryf van stapel gestuur. Daar was selfs internasionale sukses met films wat nie net op feeste wêreldwyd gewys is nie, maar ook toekennings ingepalm het.

En nou kan jy jou idee vir ’n kortfilm voorlê. Nuwe Stemme-kortfilms wat vir die Silwerskermfees vervaardig word, se dialoog moet 80% Afrikaans wees. Die film kan in enige genre wees – van komedie tot drama, animasie tot rillers.

Daar is ’n inskrywingsfooi van R350 en die inskrywings sluit op 3 Mei 2022.

Hoe skryf jy in?

Kliek hier en registreer. Jy sal dan kan inskryf, maar maak asseblief seker jy vul die inskrywingsvorm volledig in.

Konsepte vir Nuwe Stemme-kortfilms moet tussen 250 en 300 woorde lank wees en moet ook die speeltyd van die film, wat tussen 3 en 30 minute mag wees, insluit. Die keuringsproses het ’n paar fases en die besluit oor watter konsepte uiteindelik vervaardig sal word, lê alleenlik by M-Net.

Die top-40-konsepte sal in Mei 2022 aangewys word. Daarna sal ’n verdere keuringsproses volg. Ná hierdie tweede fase van die proses sal suksesvolle voorleggers die geleentheid gegee word om die teks uit te brei, ’n begroting op te stel en ’n regisseursvoorlegging te doen. Indien jou voorstel ná hierdie fase suksesvol is, sal die kortfilm finansiering ontvang, asook die nodige leiding en mentorskap van die Silwerskermfees om die konsep te vervaardig.

In die finale fase van vervaardiging sal die deelnemer die film voltooi soos bepaal word in die standaard-opdragkontrak van M-Net. Die finale kortfilm moet teen November 2022 voltooi wees.