Die kaalkopwaarheid oor Bennie Bingo 

Daar bruis opgewondenheid deur die Swanepoel-tuiste wanneer die titelkarakter van die Silwerskermfeeskortfilm Bennie Bingo net betyds terugkeer huis toe vir die familie se “sensasionele”, jaarlikse bingo-kampioenskap. Om gestalte aan dié okkasie te gee, het die akteurs en filmmakers self groot pret gehad.

Elke haartjie moes letterlik op sy plek wees in die 100 jaar oue huis waar die film geskiet is. Èmil Haarhoff se haardos het summier net daar saam met sy skoene gewaai sodat hy Bennie kon word. Vir Jürgen Hellberg was die skêr egter glad nie nodig nie, want Bennie se pa het immers ’n welige snor. Hoe eg die een is waarmee hy in Bennie Bingo pronk, wil die filmmakers nie verklap nie. Wat ons wel weet, is dat die gipsarm van die tjokker, gespeel deur Rico Immelman, die ware Jakob was. Rico se gips is ’n paar dae voor verfilming afgehaal, maar die vervaardigers het so baie van dié voorkoms gehou dat hulle hom mooi gevra het om dit weer aan te sit.

Ná sy omswerwinge in Europa daag Bennie  by die huis in ’n ongewone uitrusting op. Dié gewaad is spesiaal deur die kostuumontwerper Madelaine Lotter vir Bennie gemaak. Die filmmusiek is ook oorspronklik – gekomponeer deur Ryno Posthumus.

Nog ’n amusante agter-die-skerms-brokkie is dat Bennie 17 koeksisters moes eet tydens die verfilming van ’n toneel tussen hom en sy Ouma Laurna. Susan Coetzer speel Ouma Laurna. Haar geheime talent op stel was blykbaar om die hoenders op die erf 100% na te maak.

Ontmoet die karakters van Bennie Bingo op Donderdag 24 Maart om 10:30.