Hier is die 10de kykNET Silwerskermfeeswenners!

Die wenners van kykNET se opwindende, hibriede 10de Silwerskermfees is vandag (Saterdag, 26 Maart) tydens twee toekenningseremonies aangekondig wat trots geborg is deur die Stad Kaapstad. Die fees se blinknuwe glasbeeldjies, geslyp deur die kunstenaar Lothar Böttcher, is by die Tegniese Toekenningsgeleentheid in die Theatre on the Bay uitgedeel, waarna die wenners van die hooftoekennings by ‘n spoggerige geleentheid in die Bay Hotel se Rotunda vereer is.

Suid-Afrika se eerste ekologiese gruwelfliek Gaia het die Silwerskermfees se gesogte toekenning vir Beste Speelfilm opgeraap. Dié grondverskuiwende plaaslike rolprent met Jaco Bouwer, Tertius Kapp en Jorrie van der Walt as vervaardigers, het ook die toekenning vir Beste Regisseur aan Jaco Bouwer besorg. Voorts het Gaia die toekennings vir Beste Grimering en Haarstilering, Beste Redigeerder en Beste Klankontwerp ingepalm.

Nege speelfilms het vanjaar meegeding om dié gesogte pryse en vanjaar se amptelike inskrywing vir die Oscars, Barakat, het ses toekennings losgeslaan, insluitende die prys vir Beste Draaiboek. Dié teks is neergepen deur die veelbekroonde filmmakers Amy Jephta en Ephraim Gordon wat hul eerste treë in die bedryf in 2017 by die fees gegee het met ‘n kortfilmwenfliek.

Vanjaar se Beste Kortfilm, Leemtes en leegheid herskryf Silwerskermfeesgeskiedenis. Dis die eerste keer dat ‘n kortfilm as die Gehoorgunsteling aangewys word. Boonop word die vervaardiger en regisseur van dié roerende film, Gabriella Blumberg en Jordy Sank, deur die NFVF geborg om een van die wêreld se vernaamste filmfeeste, die Berlinale in Berlyn, by te woon. Dié aankondiging is by die fees se hooftoekenningseremonie gemaak.

Dit was egter nie die enigste verrassing by vanjaar se plegtighede nie. Die Beste Akteur en Aktrise in ‘n kortfilm, Marlo Minnaar en Carla Smith, se uitmuntende werk word beloon met ‘n mentorskapsessie deur die fees se beskermheer, Arnold Vosloo.

Drie van die skrywers wat hul idees neergepen het vir die Draaiboeksoekkompetisie het ook vandag gehoor dat hulle R50 000 elk gewen het. Die pryse is toegeken aan AnnMaree Barry, Jan Lampen en Mariska Denysschen.

Twee legendes in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, die Silwerskermfeesstigers Jan du Plessis en Karen Meiring, is ook vir hul uitsonderlike bydrae tot die plaaslike filmbedryf vereer.

Die volledige lys Silwerskermfeeswenners:

SPEELFILMS

BESTE SPEELFILM

Gaia

BESTE REGISSEUR – SPEELFILM

Gaia – Jaco Bouwer

BESTE AKTEUR – SPEELFILM

Stiekyt – Paul du Toit

BESTE AKTRISE – SPEELFILM

Barakat – Vinette Ebrahim

BESTE DRAAIBOEK

Barakat

BESTE MANLIKE BYSPELER – SPEELFILM

Stiekyt – Albert Pretorius

BESTE VROULIKE BYSPELER – SPEELFILM

Barakat – June van Merch

BESTE OORSPRONKLIKE MUSIEK – SPEELFILM

Barakat – Kyle Shepherd

BESTE KOSTUUMONTWERP – SPEELFILM

Barakat – Ayesha Khatieb

BESTE GRIMERING EN HAARSTILERING – SPEELFILM

Gaia – Sulani Saayman

BESTE PRODUKSIEONTWERP – SPEELFILM

Barakat – Sumaya Wicomb

BESTE KLANKONTWERP – SPEELFILM

Gaia – Tim Pringle

BESTE KINEMATOGRAAF – SPEELFILM

Stiekyt – Eduan Kitching

BESTE REDIGEERDER – SPEELFILM

Gaia – Leon Visser

KORTFILMS

BESTE KORTFILM

Leemtes en leegheid

**Die wenfilm se vervaardiger en regisseur wen ook ‘n prys van die NFVF om die Berlinale te besoek.

BESTE REGIE – KORTFILM

My Beskermer – D.W. Smith (Diana Mills Smith)

BESTE AKTEUR – KORTFILM

Aan/Af – Marlo Minnaar

(wen ook mentorskapsessie met Arnold Vosloo)

BESTE AKTRISE – KORTFILM

Skyn – Carla Smith

(wen ook mentorskapsessie met Arnold Vosloo)

BESTE ENSEMBLE – KORTFILMS

Skyn

BESTE OORSPRONKLIKE MUSIEK – KORTFILM

Bennie Bingo – Ryno Posthumus

BESTE PRODUKSIEONTWERP – KORTFILM

Baber

BESTE REDIGEERDER – KORTFILM

Die Horries – Regardt Visser

BESTE KINEMATOGRAAF – KORTFILM

Baber – Justin Youens

BESTE DRAAIBOEK – KORTFILM

Leemtes en leegheid – Jordy Sank, Terence Makapan

BESTE BESTAANDE WERK

Ekstasis

GEHOORGUNSTELING

Leemtes en leegheid

SPESIALE BENOEMING

My beskermer

DRAAIBOEKSOEKWENNERS

(wen elk R50 000)

Mariska Denysschen

Jan Lampen

AnnMaree Barry

UITSONDERLIKE BYDRAE-TOEKENNINGS

Karen Meiring

Jan du Plessis