Kaapse vampiere wys hul slag(tande) in die kortfilm Net ons

Die vader van alle bloedsuiers, Graaf Dracula, en sy vampiervriende maak al sedert die dae van Hollywoodstilfilms hul merk op ons skerms. Tot dusver het hulle nog hul lyf skaars gehou hier op eie bodem, maar nou herskryf die kortfilm Net ons die Suid-Afrikaanse fliekgeskiedenis. Soos hul eweknieë in die Twilight-reeks is onse Silwerskermfeesvampiere nogal sexy ook, maar hulle praat Afrikaaps en het ’n sagte plekkie vir die Seepuntpromenade en hul Afrika-herkoms.

Net ons is ’n ongewone liefdesverhaal wat draai om twee eeue oue vampiere – Angel en Lorenzo, vertolk deur die Arendsvlei– sterre Crystal Donna Roberts en Cantona James.

Angel en Lorenzo was lank ’n paartjie en Angel sukkel om vrede te maak met die einde van hul verhouding, veral tydens die eensaamheid van die nasionale ramptoestand en grendeltyd. Daarom lok sy hom na die plek waar hulle lank gelede ontmoet het om kwansuis van sy besittings terug te gee. Ongelukkig daag Lorenzo nie alleen op by die promenade nie. Sy nuwe, menslike meisie wag in die motor.

’n Paar interessante feite oor Net ons: 

  • Angel en Lorenzo se dialoog bevat poësie geskryf deur Diana Ferrus en Ronelda Kamfer. Een van die gedigte is Ferrus se welbekende “I Have Come to Take You Home”, die ode aan Saartjie Baartman wat die Franse regering oortuig het om ná 192 jaar haar oorskot na haar tuisland te repatrieer.
  • In Net ons se terugflitse hoor ons die N!uu-taal waarvan daar nog net een vlot spreker oor is, Ouma Katriena Esau.
  • Die N!uu in Net ons word gesing deur Ouma Katriena se kleindogter, Claudia Snyman, wie sy nou leer om die taal te praat.
  • Die klankbaan sluit ook musiek in van Garth Erasmus van The Khoisan Gypsy Band.
  • Die kunswerk wat op die agtersitplek van die motor te sien is, is verskaf deur die Khoena Kunsinstituut wat kuns geskep deur inheemse groepe bevorder.
  • Net ons is die tweede film waaraan die vervaardiger Dominique Jossie en regisseur Nadine Cloete saamwerk. Die ander film op hul kerfstok is die kortfilm Address Unknown, wat in 2021 ’n SAFTA gewen het 

Maak seker jy kyk op Vrydag 25 Maart om 15:00 na Net ons