kykNET kondig program vir hibriede tiende Silwerskermfees aan

kykNET se tiende Silwerskermfees word tussen 23 en 26 Maart 2022 as ’n opwindende hibriede fees aangebied. Omdat dit gelyktydig by die Bay Hotel in Kaapstad se Rotunda én op die Silwerskermfeeswebwerf plaasvind, kan fliekliefhebbers van dwarsoor die land vanjaar saam fees vier.

Die registrasiefooi vir die virtuele fees beloop R190 vir vier dae se puik plaaslike filmpremières. Die inkomste hieruit sal aan die Tribuo-fonds geskenk word, wat in die lewe geroep is om vermaakliheidskunstenaars wat as gevolg van die Covid-19-pandemie in finansiële nood is, by te staan.

Vanjaar se Silwerskermfeesprogram sluit nege vollengtefilms in wat meeding om die gesogte Silwerskermfeestoekennings asook 17 kortfilms wat met die ondersteuning van kykNET en die Silwerskermfees vervaardig is.

Benewens die speel- en kortfilms sal gehore wat die fees in Kampsbaai of virtueel bywoon,  talle bedryfsgesprekke kan meemaak. Daar sal vraag-en-antwoordsessies met die vervaardigers en sterre van die rolprente wees ná afloop van elke speelfilmvertoning. Die program sluit ook ’n aantal vars bestaande films in wat nog nie wyd in Suid-Afrika versprei is nie.

SPEELFILMS IN KOMPETISIE

Alhoewel die speelfilms in kompetisie tydens vorige Silwerskermfeeste uitsluitlik rolprente was wat hul wêreld- of Suid-Afrikaanse debuut by die fees gemaak het, sluit vanjaar se program ook speelfilms in wat deur kykNET en M-Net befonds is, maar reeds in teaters of op DStv se BoxOffice vrygestel is omdat die fees weens Covid-19 uitgestel moes word.

Dié drie rolprente is Kaalgat Karel, Klein Karoo 2 en vanjaar se amptelike Suid-Afrikaanse Oscar-inskrywing in die kategorie Beste internasionale film, Barakat. Hierdie drie rolprente sal voor die fees amptelik afskop op die Silwerskermwebwerf wys op onderskeidelik 3, 10 en 17 Maart.

Die fees se hibriede speelfilmprogram tussen 23 en 26 Maart bestaan uit die volgende speelfilms:

Die 2022 Silwerskermfees is Beurtkrag se wêreldpremière. Vir dié blinknuwe speelfilm het die glanspaartjie Ivan Botha en DonnaLee Roberts kragte saamgesnoer met regisseur Jozua Malherbe om die draaiboek van die gelyknamige 2015 Silwerskermfeeskortfilm tot ’n vollengterolprent te verwerk.

Travis Taute se senutergende aksiefliek spog met ’n fantastiese rolverdeling met, onder andere, Gail Mabalane en Hlomla Dandala. En Jarrid Geduld lewer ’n kragtoer as ’n brandweerman wat op die vlug slaan wanneer hy van die moord op sy vrou verdink word. Indemnity het reeds op internasionale stroomdienste gehore gaande gehad en kritici het die puik kinematografie lof toegeswaai.

 Down So Long is ’n eksperimentele satiriese komedie-drama wat draai om Joseph Mabena. Hy woon saam met sy vrou en hulle uitgebreide familie in ’n oorvol huis in die informele nedersetting Hangberg, waar almal gedurig onder mekaar se voete is en almal alles van mekaar weet. Angie Mills (regisseur) en Damir Rodonic (vervaardiger) het die storie so outentiek moontlik vertel deur slegs van twee professionele akteurs gebruik te maak. Die res van die rolverdeling kom uit die Hangberg-gemeenskap.

’n Vorige Silwerskermfeeswenner Etienne Fourie, wat ná sy bekroning vir Die windpomp ook feesgehore bekoor het met Dis koue kos, skat en Liewe Kersfeesvader, is in die regisseurstoel vir dié riller – ’n nuwe genre vir hom. Stiekyt is vervaardig deur Homebrew Films, wat vir hul puik televisieprogramme bekend is.

Nes Beurtkrag is Vlugtig ’n verwerking van ’n Silwerskermkortfilm. Vir Vlugtig, die speelfilm, is dieselfde regisseur, Marinus Gubitz, aan die stuur van sake. Talle spelers wat in die kortfilm te siene was, is weer op die skerm, maar dié keer is die talentvolle Jane de Wet ook deel van die rolverdeling. Jane, bekend om haar rolle in Showmax se The Girl from St. Agnes en kykNET se Spoorloos: Steynhof het in 2019 die Silwerskermtoekenning vir Mees belowende jong ster verower vir haar spel in Griekwastad.

  • Gaia – 25 Maart om 20:00

Gaia is die eerste ekologiese gruwelfliek in Afrikaans. Sedert dit by die hoog aangeskrewe South by South West-fees in die VSA in Maart verlede jaar gepremière het, het dié grensverskuiwende rolprent wêreldwyd lof in entoesiastiese resensies ontvang. Gaia het Variety se gesogte Top 15 Horror Movies-lys vir 2021 gehaal en is ook op die ign.com-top-13-lys en die Forbes-top-10 ingesluit. Gaia het verskeie internasionale toekennings by prestige-ryke filmfeeste opgeraap, insluitend die prys vir Beste kinematografie by South by South West.

(Loer vanaf 26 Januarie in by die Silwerskermwebwerf vir die lokprente en volledige opsommings van dié rolprente.)

KORTFILMS IN KOMPETISIE

Vanjaar se kortfilms, wat deel vorm van die projek om jong filmmakers se talent te slyp, sluit films in ’n verskeidenheid genres in wat uiteenlopende temas verfrissend aanpak.

  • In ’n paar van die kortfilms op vanjaar se Silwerskermfeesprogram bevind karakters hulself op die verkeerde tyd op die verkeerde plek – altyd ’n goeie resep vir ’n sielkundige riller met ’n kinkel in die kabel. In Baber is dié donker plek ’n makabere barbierswinkel op die Kaapse Vlakte, waar die eienaar en sy dogter van plan is om meer as net ’n kliënt se hare te laat waai. Irshaad Ally van Suidooster-faam, wat die rol van die kliënt vertolk, is ook te sien in Verstikking – dié keer as ’n skatryk sakeman wat na ’n rooftog in ’n ondergrondse parkeerarea op ’n eienaardige manier wraak neem. In Aan/Af beland ’n doodgewone ou in die woonstel van sy bejaarde Duitse buurvrou waar alles beslis nie pluis is nie.
  • Ongewone aksiehelde is op ongewone missies in twee van die kortfilms en vir die eerste keer spog die fees met ’n post-apokaliptiese wetenskapsfiksie-kortfilm in Afrikaaps. Moorddadige masjiene maak jag op die laaste oorblywende mense in die Kaap in die grensverskuiwende My beskermerDie ander aksiefilm is Nagvoëlwat gaan oor ’n superheld wat tikverslaafdes les laat opsê in die hoop om lid van die Suid-Afrikaanse Superheldliga te word.
  • Gesinsverhoudings – veral dié tussen ouers en hul kinders – word op ‘n vars, uiteenlopende manier benader in Bennie Bingo, Bittersoet en Sporadies Nomadies. Ons praat hier van ‘n verlore seun wie se vreemde transformasie en gepaardgaande selfopgelegde stilswye ‘n familie se jaarlikse tradisie – ‘n bingo-kampioenskap – lelik beduiwel in ‘n sweet komedie-drama;  ‘n oupa met Alzheimers wat skielik by ‘n Kersete waar die ma reeds ‘n probleem het met haar seun se gay-romanse, skielik iets oor sy eie liefdeslewe onthou wat niemand weet nie; en ‘n sukkelende rocker-muso pa wie se vervreemde matriekdogter noodgedwonge by hom aansluit op ‘n road trip.  Die uitdagings en dinamika van moderne gesinne lewer beslis boeiende kykstof.
  • Hoe ver sal jy gaan as jy getroud is en bitter graag ‘n kind wil hê, maar die biologiese klok se batterye vinnig besig is om pap te word en jou en jou eggenoot se pogings lewer net mooi niks op nie? Ons vind uit in Katvis. Nog ‘n interessante “take” op swangerskap is die kortfliek Skyn, waarin ‘n sukkelende kelnerin onkant gevang word met ‘n broodjie in die oond ná ‘n dronk aandjie en ‘n vreemdeling in haar bed.
  • Die liefde kan enige plek toeslaan – byvoorbeeld in ’n hangkas, soos in Twintig tone in ‘n hankas, of tussen twee eeue oue vampiere op die Kaapse Vlakte. Dít gebeur in Net ons. In Die Horries is daar geheime agente met die uitsluitlike missie om jou die horries te gee ná ’n nag se gefuif. Maar wat gebeur as ’n Horrie gevoelens ontwikkel vir ’n Horrie-kollega?
  • Vrywater speel af in ’n heel ander fantasie-ruimte. ’n Kolonie seewateraanbidders met eiesoortige rituele hoop op die vervulling van ’n langverwagte profesie. Maar dit berus alles op die optrede van ’n rebelse uitverkorene wat dalk eerder haar eie hart gaan volg.
  • In skrille kontras tot dié flieks word sosiale kwessies realisties aangespreek in films soos BergieDie groensone en Leemtes en leegheid. In Bergie word ‘n wetstoepassingsbeampte wat haweloses moet verwyder, gekonfronteer met die lyding van ander. Die groensone gaan oor ’n seun en sy bejaarde pa wat gedurende die grendeltyd saam in ’n woonstel vasgekeer is. In Leemtes en leegheid worstel ’n weduwee in haar 70’s met die dood van haar man.