Silwerskermfeesspeelfilms te sien op DStv BoxOffice

 

Indien jy een van die speelfilms by die Silwerskermfees misgeloop het, kan jy nou of binnekort daarna op DStv BoxOffice kyk. Dié gewilde platform was ook ’n amptelike borg van die 10de kykNET Silwerskermfees. Evane Gounden, die produkbestuurder van DStv BoxOffice, vertel meer.

  • Van wanneer af is die speelfilms wat by die fees hul première gehad het en nog nie op DStv BoxOffice was nie, beskikbaar op dié platform?

Vlugtig is reeds beskikbaar op DStv BoxOffice. Maak ook ’n knoop in jou oor om nie die volgende speelfilms mis te loop nie: 

Gaia – 25 April

Beurtkrag 16 Junie

Die DStv BoxOffice-datums vir Indemnity, wat eers by Ster-Kinekor-teaters draai vanaf 13 Mei, asook dié van Stiekyt en Down So Long, sal later aangekondig word. Hou asseblief ’n ogie op die DStv-webwerf waar ons gereeld die jongste inligting oor ons BoxOffice-speelfilms bekend maak.

  • Waarom borg DStv BoxOffice die Silwerskermfees?

DStv BoxOffice is die tuiste van die jongste en grootste nuwe plaaslike en internasionale rolprente. Daarom maak dit sin vir ons om die Silwerskermfees te ondersteun. Die fees laat die kollig val op die ongelooflike talent en kreatiwiteit in ons plaaslike filmbedryf, en DStv BoxOffice maak seker dat ’n wyer gehoor die fees se rolprente daarna kan geniet in die gemak van hul eie huise.

  • Is plaaslike films gewild op DStv BoxOffice? Hoe vergelyk dit met internasionale vrystellings? 

Ons eie eg Suid-Afrikaanse films vaar besonder goed op DStv BoxOffice en daar is fliekliefbhebbers wat ons platform uitsluitlik gebruik om na die jongste Afrikaanse rolprente te kyk. Afhangende van die genre en storielyn, stem die kykertalle van plaaslike films ooreen met die gemiddeldes van internasionale rolprente, maar die premium- Afrikaanse speelfilms is altyd uitskieters en is dikwels boaan die lys van die gewildste films. Die bemarking en ondersteuning van plaaslike filmmakers en verspreiders, asook die publisiteitsblootstelling van die Silwerskermfees, dra hiertoe by.

  • Wat is die een ding wat mense gewoonlik nie van DStv BoxOffice weet nie?

Die heel eerste rolprent wat jy op DStv BoxOffice kyk, is gratis en sodra jy ’n rolprent gehuur het, kan jy soveel keer as wat jy wil binne 48 uur daarna kyk.

  • Moet jy ’n DStv Premium-intekenaar wees om rolprente op DStv BoxOffice te kan huur?

Nee, glad nie. DStv BoxOffice is beskikbaar vir alle DStv-intekenare, ongeag die pakket waarop jy ingeteken is. Daarbenewens kan enigiemand met internettoegang, selfs al het hulle nie DStv nie, rolprente huur op ons DStv BoxOffice-stroomdiens.

  • Vir hoe lank is ’n rolprent op DStv BoxOffice beskikbaar?

DStv BoxOffice se vrystellings is gewoonlik tussen vier en ses weke beskikbaar op Explora PVR’s, maar as dit goed vaar, hou ons dit langer op dié dekodeerders. Op ons stroomdiens is dit beskikbaar vir die periode waarvoor die rolprent gelisensieer is.

  • Wat was van die plaaslike rolprenthoogtepunte op DStv BoxOffice in die afgelope jaar?

Films wat die afgelope twee jaar deel gevorm het van die Silwerskermfees, soos Griekwastad (2020), Poppie Nongena (2021), Barakat (2021) en Klein Karoo 2 (2021/2022) het almal baie goed gevaar. Onder die ander hoogtepunte tel rolprente soos Losing Lerato (2020) en Blessers (2021).

  • Wat is die voordeel van DStv BoxOffice?

Jy kan die rolprente van jou keuse huur sodat jou gesin dit in die gemak van jou eie huis kan geniet.

  • Watter plaaslike rolprente is jou persoonlike gunstelinge van alle tye en waar het jou liefde vir films ontstaan?

Ek moet twee noem – Vir altyd en Barakat. Donnalee Roberts en Ivan Botha was so sjarmant in Vir altyd en ek glo dat ons DStv BoxOffice-kykers ook hul spel in Beurtkrag gaan geniet. Barakat is ’n juweel wat die storie van ’n spesifieke Suid-Afrikaanse gemeenskap pragtig vertel.

Sonder dat ek dit eers besef het, is ek al van kleins af ’n storieverteller. Rolspel was vir my heerlik en ek het dikwels verskillende karakters nagemaak. Noudat ek deel is van Dstv BoxOffice, verbeel ek my kykers met verskillende smake om seker te maak dat hulle op ons platform sien waarvan hulle hou.

  • Vertel ons ’n bietjie meer oor jou rol by MultiChoice en DStv BoxOffice.

My loopbaan by die maatskappy het 14 jaar gelede begin toe ek navorsing oor video-op-aanvraag gedoen het. Daarna het ek saam met dié produk gegroei en vandag bestuur ek DStv BoxOffice se strategie. Dit beteken ek werk saam met prominente internasionale filmateljees asook onafhanklike en plaaslike vervaardigers. Ek probeer om altyd ons kykers se ervaring te verbeter en om ’n platform te skep wat ons plaaslike talent ten toon stel.