Wat maak twintig tone in ‘n hangkas?

In die Silwerskermfeeskortfilm Twintig tone in ’n hangkas behoort die helfte van die titel se tone aan ’n verleidelike rebel wat pas uit die tronk ontsnap het. Die ander tien tone is aan die voet van die ou wat ’n pragtige woning se voordeur vir haar oopmaak. Let wel: Nie een van dié twee is veronderstel om daar te wees nie en kort voor lank daag die regte eienaar, ’n polisieman, op. En só beland twintig tone gesamentlik in ’n hangkas.

Twintig tone in ’n hangkas is die handewerk van skrywer en regisseur Morné Strydom. Emma van Heyn, Pietie Beyers en Eden Classens smeul as die drie hoofkarakters.

Morné, wat jare lank in die advertensiebedryf gewerk het en ’n paar Loerie- en Pendoringtoekennings opgeraap het, vertel dat dié ongewone storie as ’n dare begin het. Een van Morné se vriende, die Britse akteur Charlie Bewey, wat in The Twilight Saga gespeel het, het hom probeer aanspoor om sy droom na te jaag om films te skryf. Toe daag Charlie hom uit om ’n kortfilmdraaiboek te skryf wat hy in Venice Beach, Los Angeles, kan skiet.

“Ek het geweet dit moes ’n contained konsep met minimale cast en locations wees, want Charlie sou self die film befonds,” vertel Morné. “En toe dink ek: Wat is meer contained as om binne in ’n kas te sit? En toe dog ek: Wat as die grootste deel van die storie in ’n kas afspeel met twee vreemdelinge wat daarin beland en verlief raak?”

Só het Twintig tone in ’n hangkas aanvanklik die lig gesien met die Engelse titel Snap. Daarna het Charlie egter Los Angeles verlaat en die draaiboek het stof vergader – totdat die vervaardiger Aisha Williams daarna gekyk en Morné oortuig het om dit in Afrikaans oor te skryf en as ’n Silwerskermfeeskortfilm te ontwikkel.

Omtrent 70% van Twintig tone in ’n hangkas speel in ’n hangkas af. Om in ’n kas te skiet sou egter baie beperkend gewees het. Daarom het die filmspan ’n losstaande kas gebou met panele wat verwyder kan word.

Nog ’n interessante feit oor dié kortfilm is dat Eden Classens se polisiemankarakter geen dialoog het nie. Tog is hy op skerm vir meer as vier minute uit die sewentien minute waarin die storie afspeel.

Om uit te vind hoe hierdie netelige situasie ontknoop, kyk op Vrydag 25 Maart om 10:30 na dié hangkasdrama vol kinkels en kabels.