The 10th Silver Screen Festival dates announced

Rolprentmakers, filmstudente, en fliekvlooie van oraloor moet beslis hul 2022-kalenders oophou vanaf 23 tot 26 Maart. Dís die nuwe datums vir kykNET se spesiale 10de Silwerskermfees wat dié keer ‘n byderwetse hibriediese baadjie aantrek.

Dit beteken die fees sal vir die eerste keer in tandem uitrol by die Bay Hotel se Rotunda in Kaapstad

en virtueel op die Silwerskerm-webwerf waar besoekers onder meer toegang sal hê tot presies dieselfde vollengte rolprente, kort flieks en industrie-besprekings.

Terwyl ‘n beperkte aantal gaste onder streng Covid-regulasies die fees by die Rotunda sal bywoon, kan enigiemand regoor die land met internet dus die fees geniet voor hul eie klein skerms waarookal hulle verkies.

Daarbenewens sal van die vollengte films gedurende die fees by ‘n aantal uitgesoekte rolprent-teaters en addisionele venues in Kaapstad vertoon word.

Alhoewel daar ‘n geringe registrasiefooi vir die aanlynfees sal wees, sal die opbrengs daarvan, asook die kaartjieverkope by die venues wat oop is vir die publiek, geskenk word aan die TRIBUO fonds. Dié fonds is verlede jaar weens die impak van die Covid-19-pandemie gestig om vermaaklikheidskunstenaars in finansiële nood by te staan.

Die oogmerk van die fees was van die begin af om plaaslike  talent – voor en agter die kamera – te ondersteun en te ontwikkel en ‘n seminale vertoonvenster te skep vir hul filmprojekte.

Sedert die kykNET Silwerskermfees in 2010 in die lewe geroep is, het meer as 160 plaaslike kortfilms en vollengte rolprente hul buiging by dié fees gemaak. Daaronder tel ‘n aantal spogfilms wat later talle internasionale toekennings ingeryg het asook kommersiële films wat broodnodig is vir die voorbestaan van die plaaslike rolprentbedryf.  Voorts het ‘n hele paar van die land se voorste filmmakers se eerste werk  by die fees die lig gesien as kortflieks.

Die kykNET Silwerskermfees het tradisioneel jaarliks in Augustus plaasgevind, maar in 2020 het dit voorlopig die vorm van ‘n drie-dae lange webinaar aangeneem om plaaslike rolprentmakers die geleentheid te gee om skouers te skuur met internasionale foendies terwyl die Covid-pandemie die vervaardiging van nuwe werk vertraag het.

Teksontwikkeling en mentorskap het die afgelope jaar ook ‘n belangrike deel gevorm van die fees se aktiwiteite om topskrywers en -rolprentmakers se inskrywings in die kortfilm-kategorie te slyp vir die 10de Silwerskermfees.

Die volledige program vir die 10de kykNET Silwerskermfees sal vroeg in 2022 bekend gemaak word.

Volg die Silwerskerm só op sosiale media:

Facebook   –    @Silwerskermfees

Twitter       –  @SilwerskermFees

Instagram  –  Silwerskermfees