Welkom
Nkateko Mabaso, Hoof- uitvoerende beampte: M-Net

In hierdie onseker tye wend ons ons tot die kreatiewe bedrywe om ons te help om te kontekstualiseer, te bevraagteken en sin te maak van die wêreld om ons. Ons vermoë om aan te pas en te innoveer bepaal hoe ons die toekoms sien.

Ons is trots op die gehalte van ons plaaslike produksies. Die feit dat ons speelfilms ook in die internasionale arena erkenning kry, getuig van uitnemendheid. M-Net is en sal altyd daartoe verbind bly om die stories te vertel van die gemeenskappe in wie se diens ons staan.

Die kykNET Silwerskermfees is geskep nie alleen om ’n platform aan plaaslike talent te bied nie, maar ook om die fondamente te lê vir loopbane in die film- en TV-bedryf. Ons sien uit daarna om gedurende hierdie webinaar in gesprek te tree met internasionale vennote en om uit hierdie interaksie inspirasie te put en te groei as gevestigde globale spelers op die kontinent van Afrika.

Karen Meiring, MNET: Direkteur van kykNET-kanale

Tien jaar gelede het ons na nuwe, volhoubare maniere gesoek om vars, opwindende talent en inhoud vir kykNET te vind. Die idee van die kortfilmkompetisie is gebore en die eerste kykNET Silwerskermfees is in Augustus 2011 in Prins Albert geloods.

Die Silwerskermwebinaar 2020 is die begin van ’n groter, volhoubare gesprek met inhoudsvervaardigers en filmmakers oor genres, formate en platforms heen om nuwe landskappe en ruimtes te verken en te ontgin.

“Geen grense” sou ’n goeie tema vir ons eerste webinaar wees – geen grense tussen lande, denke, formate of bedrywe nie; ’n geleentheid waarop ons in nuwe vennootskappe kan voortbou.

Ons wil hiermee ook SilwerSkermgeSprekke/SilverScreentalkS vestig as ’n gereelde instelling op ons webwerf.

Daar is immers altyd behoefte om te deel en verder te gesels, want só word ’n toekoms geskep deur aan oorspronklike idees te herkou en implementeerbare konsepte te ontwikkel.

Ons verwelkom al ons internasionale deskundiges, Dorothee Wenner en Kisha Imani Cameron, al ons paneellede en al die fasiliteerders wat aan vanjaar se webinaar deelneem. Baie dankie vir julle entoesiasme en bereidheid om julle kundigheid te deel.

Daar is eindelose potensiaal vir Afrikaanse films en inhoud, juis omdat dit outentiek en verteenwoordigend is van ’n diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap gewortel in ’n unieke Afrikataal.

Ons is baie opgewonde oor ons eersteling en sien uit na die kroos wat gaan volg.

Geniet die eerste Silwerskermwebinaar en benut die netwerkgeleenthede wat dit bied, ten volle.

Jan du Plessis, MNET: Direkteur van M-Net-kanale

In Februarie 2020 het die rolprentwêreld sy rooi tapyte oopgerol vir ’n roemryke jaar. Ja, draai die horlosie net ’n paar maande terug: Bong Joon Ho se Suid-Koreeanse meesterstuk Parasite het die wêreld in vervoering. Dis vars, vindingryk, ryg die een ná die ander internasionale toekenning in, maak skoonskip by die Oscars en herskryf selfs die geskiedenis as die eerste buitelandse, anderstalige wenner in die Beste film-kategorie. Op dieselfde verhoog laat nog ’n baanbreker die vreugdevure aan die fliekfront hoog brand toe hy sy beeldjie (vir Beste draaiboekverwerking) opdra aan alle inheemse kinders wat wil sing, dans en stories skryf. Taika Waititi is die eerste persoon van Maori-herkoms om ’n Oscar op te raap.

Dié suksesverhale is goeie nuus vir filmmakers van oraloor – almal droom groot en glimlag breed. Maar nou, steeds in 2020, verskans maskers ons emosies.

Die pandemie het onverbiddelik die “pause”-knoppie gedruk op grootskaalse Hollywoodprojekte en ’n rits beplande plaaslike M-Net-flieks. Terwyl die blote maak van ‘n rolprent tans gepaard gaan met allerlei nuwe struikelblokke agter die skerms, wonder ’n mens hoe die bedryf in sy geheel in die toekoms gaan lyk – twee, vyf, tien, twintig jaar van nou af.

Nou is dit tyd vir oopkop wees. Met ’n goeie skeut kreatiwiteit, verbeeldingskrag én chutzpah kan ons aanhou om ons stories te vertel. Dalk selfs beter. In die vroeë 1920’s het gehore immers tou gestaan vir die eerste “talkies”. Nou reik ons plaaslike flieks, soos Griekwastad en Knuckle City, direk op DStv BoxOffice uit – en kykerrekords spat.

Fliekmaak is nou eenmaal ’n spansport, en M-Net bly elke speler se grootste ondersteuner. Ons hoop dat hierdie virtuele skouers skuur, sal sorg vir blink nuwe idees vir die pad vorentoe. Want ons stories móét vertel word.

Ricky Human, Programhoof: kykNET Silwerskermwebinaar

Toe die pandemie toeslaan en ons planne vir die 10de Silwerskermfees omverwerp, het ons besluit om die “pause”-knoppie te druk en ons heel eerste kykNET Silwerskermwebinaar aan te bied. In ’n tyd waarin filmmakers oral onsekerheid trotseer, het ons die webinaarprogram gebou rondom internasionale gassprekers en plaaslike filmmakers wat gretig is om hul kennis te deel in werkswinkels en besprekings oor kwessies soos internasionale filmverspreiding, finansiering en na-produksie. Daar is ook ’n spesiale opleidingsessie oor hoe om jou projek onder vervaardigers se aandag te bring en in die Pitch to Us-sessie kry jy die geleentheid om jou beste, blinkste idees aan ons te verkoop.

In die nuwe normaal besef ons opnuut hoe belangrik dit is om by bedryfsleiers dwarsoor die wêreld kers op te steek. Saam kan ons die toekoms van jong en opkomende filmmakers vorm en kan ons die gedeelde uitdagings van die groter filmbedryf verken en die hoof bied.

In die gees van die Silwerskermfees is daar ook opwindende filmvertonings op die webinaarprogram. Jy kry die eerste geleentheid om premières in verskeie formate op ’n digitale platform te beleef en ook om te hoor wat die betrokke filmmakers oor hul werk en skeppingsproses te sê het.

Die eerste Silwerskermwebinaar beloof om ’n stimulerende, inspirerende ervaring te wees. Sluit by ons aan en leer hoe om hierdie uitdagende tyd te omhels.

Meer omtrent die Silwerskermfees

Die kykNET Silwerskermfees is in 2010 begin as inisiatief om die plaaslike filmbedryf te ondersteun. ’n Dekade later het die fees het gegroei tot een van Suid-Afrika se voorste filmfeeste met sy unieke fokus op talent in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf.

Die eerste Silverskermfees is gehou op Prins Albert, ’n klein Karoodorp, waar slegs een speelfilm met die baie gepaste titel, ’n Saak van geloof, vertoon is. Die geloof in die potensiaal van so ’n filmfees was egter nie misplaas nie. Sedert die fees se begin is reeds sowat 160 kortfilms vervaardig met verskeie vollengte films wat by die fees debuteer het.

Die fees getuig van kykNET en M-Net se verbintenis tot die ontginning van plaaslike talent deur voorsiening te maak vir ’n invloedryke platform en finansiële steun.

Die 10de kykNET Silwerskermfees sou vanjaar op 24 Augustus 2020 in Kaapstad open. As gevolg van die Covid-19-pandemie, is dit egter nie moontlik om die sleutelfigure van die vermaaklikheidsbedryf gelyktydig te huisves nie. Die impak van die pandemie het ook die vervaardiging van die nuwe films wat vertoon sou word, vertraag. Die 10de Silverskermfees is dus uitgestel tot Augustus volgende jaar.

Die eerste kykNET Silwerskermwebinaar vind egter plaas van 2 tot 4 September 2020 om gedurende hierdie uitdagende jaar steun en nuwe inspirasie aan die filmbedryf te gee.

Die Silwerskermwebinaar fokus op vervaardiging, befondsing en na-produksie, kortfilmontwikkeling en ander opwindende, relevante bedryfskwessies. Sprekers sluit in plaaslike filmdeskundiges asook vooraanstaande, internasionele rolspelers. Vertonings en V&A-sessies met filmmakers word aangebied in vennootskap met M-Net en Suid-Afrika se eerste aanlyn fliekuitneemdiens, DStv BoxOffice.

Die webportaal vir die Silwerskermwebinaar is nie net ’n opwipblad nie. Dié portaal sal ook gebruik word vir toekomstige aanlyn geleenthede, vertonings en besprekings.

Ons borge
Ons vennote

If location is everything, Cape Town and the Western Cape have it all. Think towering mountains and rolling waves, bustling cityscapes and desolate landscapes, and much more. Some of the most popular locations in the Western Cape are found in Cape Town’s central business district, with a variety of urban looks and various types of architecture, as well as stunning natural beauty. We are so diverse that almost any country in the world can be replicated within a two-hour radius of Cape Town. The only limit is your imagination.

Die doel van Dagbreek Trust is die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Ons bewerkstellig dit deur kernbefondsing en projekbefondsing wat Afrikaans in sy volle diversiteit (oor rassegrense heen) bevorder met instellings wat hulle as betroubare vennote bewys. Ons visie is die volhoubare gebruik van Afrikaans deur ondersteuning van projekte wat die historiese bewussyn van Afrikaans, taalgemeenskaplikheid en konstruktiewe posisionering van die Afrikaanse taal aanmoedig.

Die span

MNET: Direkteur van kykNET-kanale: Karen Meiring

MNET: Direkteur van M-Net-kanale: Jan du Plessis

SILWERSKERMWEBINAARSPAN
Projekbestuurder: Christel Sampson
Programhoof: Ricky Human
Kreatiewe hoof: Haddad Viljoen
Webinaarinhoudsredakteur: Danie Marais
Webinaarkoördineerder: Nicky Meiring
Webinaarinhoudvertaler: Christine Kühn

VIR M-NET-KANALE
Hoof: Plaaslike produksie en onafhanklike films: Kaye Ann Williams

VIR KYKNET-KANALE:
Senior bemarkingsbestuurder: Leo Smit
Handelsmerkbestuurder: Cherize Dartnall
Handelsmerkkoördineerder: Suné Els

Senior publisiteitsbestuurder: Suzaan Keyter
Publisiteits- en EPG-koördineerders: Lindi Herbst en Herschelle Benjamin
Senior bestuurder: Teksgedrewe produksies: Nicola van Niekerk
Toesigvervaardigers: Wikus du Toit en Tina Kruger

WEBWERF-ONTWERP
SF Digital (Ontwerp van silwerkskermfees.co.za-webwerf) Marnus van Niekerk en Sharlene Safi
Clearwater Entertainment (Ontwerp van webinaargrafika) Hennie van Deventer en Eden Wessels

TEGNIESE ONDERSTEUNING VIR WEBINAAR
Red Pepper Pictures (Tegniese diensverskaffer) Cecil Barry en Wayne van Schalkwyk
Ovation Art (App en gasvryheidsbestuur) Melodie Schoeman en Marisa Buys

OUDIT VAN PITCH VIR ONS-STEMMING PWC