kykNET Silwerskermfees: Nuwe formaat vir 2020
 

Die kykNET Silwerskermfees, ’n hoogtepunt op die jaarlikse vermaakkalender, gaan vanjaar ’n nuwe baadjie aantrek en in ’n ander formaat aanlyn aangebied word met ’n fokus op produksie, die ontwikkeling van kortfilms en ander opwindende en belangrike aspekte van die filmbedryf.

“Die impak van die pandemie het die produksie van alle nuwe werk wat vir vanjaar se fees vervaardig sou word, vertraag,” sê Karen Meiring, direkteur van M-Net: kykNET-kanale. “Ons moes gevolglik al ons projekte en ons benadering tot vanjaar se fees heroorweeg. Met hierdie uitdagings het ons ook nuwe geleenthede raakgesien en ons is opgewonde oor die betrekking van internasionale vennote om saam te werk, te inspireer en noodsaaklike bedryfskennis te deel met Suid-Afrikaanse filmmakers.”

Die eerste kykNET Silwerskermwebinaar sal 2 tot 4 September plaasvind en sluit in gassprekers en fasiliteerders van dwarsoor die wêreld. Die fokus sal wees op internasionale vennootskappe, befondsing en nuwe maniere van vervaardiging in die film- en televisiebedryf. Sprekers sluit in verteenwoordigers van SXSW, Berlinale, die Sydney-filmfees, die Britse Filmraad en Fremantle Media in Australië.

Die volledige program sal beskikbaar wees op Woensdag 12 Augustus 2020. Registrasie vir dié drie dae lange webinaar kos R150 en sluit toegang tot alle sessies, eksklusiewe premières van Suid-Afrikaanse filmmakers, virtuele wegbreekruimtes (“breakout rooms”) vir intieme vraag-en-antwoord sessies asook ’n werkswinkel oor befondsing wat deur Wesgro gefasiliteer sal word. Twee eksklusiewe premières van plaaslike speelfilms sal via die DStv-platform BoxOffice vertoon word.

Die tiende jaarlikse kykNET Silwerskermfees was oorspronklik beplan om vanaf 24 Augustus in Kampsbaai plaas te vind. As gevolg van die verandering in formaat is die Kortfilmkompetisie verleng met ’n nuwe fokus op draaiboekontwikkeling. Ander fees-inisiatiewe sal ook voortgaan met uitgestelde sluitingsdatums.

Een van hierdie projekte is die Draaiboeksoekkompetisie, wat by die 2019 kykNET Silwerskermfees aangekondig is. Hierdie inisiatief fokus op die ontwikkeling van nuwe tekste.

Die sluitingsdatums vir die Draaiboeksoek-inskrywings is uitgestel tot 29 Januarie 2021. Daar sal dus veel meer tyd vir ontluikende skrywers en skeppers wees om hulle idees te ontwikkel en te verfyn. Lees hier meer oor die Draaiboeksoek-kompetisie.

Filmmakers wat bestaande films wil inskryf vir moontlike vertoning by die 2021-fees, het ook tot 29 Januarie 2021 tyd om in te skryf. Lees hier meer oor bestaande films.

Die 2021 kykNET Silwerskermfees word vir Augustus volgende jaar beplan.

Die kykNET Silwerskermfees is in 2010 in die lewe geroep as ’n inisiatief om die plaaslike filmbedryf te ondersteun. By die eerste Silwerskermfees is net een speelfilm in Prins Albert vertoon, maar sedertdien het meer as 160 kortfilms en vollengtefilms by dié fees gedebuteer. In die afgelope jare het dit gegroei tot een van Suid-Afrika se mees prominente filmfeeste. Die Silwerskermfees en sy finansiële ondersteuning van die bedryf is tekenend van kykNET en M-Net se verbintenis tot die ondersteuning en ontwikkeling van plaaslike talent.

“Ons fokus en vasberadenheid sal altyd wees om filmmakers ’n platform te gee om hulle stories te vertel,” sê Meiring.

Volg kykNET Silwerskermfees op alle sosialemediaplatforms vir die jongste feesnuus.

Facebook  |  Twitter  |  Instagram