Kortfilmprojek – opkomende filmmakers: Die skynwerper
Die sielkundige riller, Die skynwerper, spog met ’n ongelooflike rolverdeling wat veterane soos Dawid Minnaar en Antoinette Kellermann insluit, asook die Donkerbos– en Dinge van ’n kind-akteur Ben Albertyn in die hoofrol as Nelis. Die storie, met Linsen Loots en Dewet van Rooyen as draaiboekskrywers en Van Rooyen ook as regisseur, vertel van Nelis wat ’n afgesonderde bestaan saam met sy verlamde pa (Minnaar) voer. As hy sy werk verloor, steek hy hand op om aan die realiteitsreeks Die skynwerper deel te neem, maar ná ’n mislukte oudisie raak hy agterdogtig oor die reeks se aanbieder, wie hy glo sy lewe vanuit die skadu’s manipuleer …
Dewet van Rooyen het meer oor dié rillerprent vertel.
Kan jy die oorsprong en betekenis van die titel Die skynwerper verduidelik? Was dit van die begin af die titel, of is daar eers later daarop besluit?
Die film het nooit ’n ander titel gehad nie, so dit het reeds rondom die begin van die skryfproses bo-aan bladsy een gestaan. Die woord ‘skynwerper’ is obskuur, maar dit was die twee betekenisse daarvan wat dit vir ons gepas maak vir die storie. Eerstens die letterlike: ’n soek- of kollig, en tweedens word dit in sommige kontekste as ’n metafoor vir die Heilige Gees gebruik. In die storie verteenwoordig die titel dus beide die figuurlike kollig waarin Nelis homself bevind, asook sy beskouing van Maartin Minnaar as ’n verlosserfiguur.
Feitlik sonder uitsondering praat mense van Die ‘skrynwerker’ wanneer hulle die eerste keer met die film te doen kry. Ook Nelis, in die toneel waar hy die naam van die reeks op ’n soekenjin intik.
Hoe het die idee vir die film ontstaan? Is dit iets waaraan jy al lank werk?
Die idee vir die kortfilm het ontstaan rondom 2015, toe ek dit in twee sinne in ’n notaboek neergeskryf het: ’n Bleeksiel vermoed hy neem deel aan ’n Derren Brown-episode. Die tweede sin gee die einde weg, so daaroor sal ek swyg, maar die storie het vorm aangeneem nadat ek ’n effense obsessie met die Britse TV-persoonlikheid en mentalis Derren Brown ontwikkel het.
Brown se werk met sielkundige manipulasie en indoktrinasie om doodgewone mense dinge te laat doen wat hulle andersins nie sou oorweeg nie, het my gefassineer. In een van sy reekse het hy deelnemers onder die indruk geplaas dat hul oudisie vir deelname aan sy program onsuksesvol was, net om hulle dan later die sentrale figuur in ’n vreesaanjaende scenario te maak. Alles natuurlik sonder dat hulle daarvan bewus was.
In Die skynwerper vermoed Nelis ná sy onsuksesvolle oudisie dat hy in die geheim verfilm word en dat daar verwagtinge van hom is.
Die rolverdeling sluit reuse in die Suid-Afrikaanse filmbedryf in. Hoe was dit om met veterane soos Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar te werk?
Dit is natuurlik ’n voorreg om met sulke legendes van Suid-Afrikaanse teater en film te werk. Die oomblik wanneer hierdie akteurs lewe gee aan die dialoog wat jy maande gelede in ’n koffiewinkel in Houtbaai geskryf het, bly vir my ’n hoogtepunt van die filmmaakproses.
Daar is tye wat jy jouself moet keer om nie deur hul spel meegesleur te word nie – anders mis jy goed en maak jy foute – maar die ervaring maak jou bewus van hoe gelukkig jy is om sulke gesoute kunstenaars te kon oortuig om aan jou projek deel te neem.
Die rol van Nelis word briljant vertolk deur Ben Albertyn. Hoe het die oudisieproses verloop?
Ek het van die begin af vermoed dat Ben die regte eienskappe vir die rol van Nelis het, maar ek het ook al besef dat ’n mens te subjektief raak wanneer jy op sekere aspekte van hierdie proses begin fikseer, en dat die akteur wat die verantwoordelikheid van die hoofrol het, behoorlike oorweging verg.
Daar was drie akteurs wat oudisies vir die rol afgelê het, en hoewel die ander twee ons beslis laat regop sit het, was dit Ben wat die soektog bepaald geëindig het. Vir my slaag Ben daarin om Nelis êrens tussen protagonis en antagonis staan te maak. Sy instink is verstommend.
Iets wat steeds skaars is in Afrikaanse films, is naaktheid, veral manlike naaktheid. Die badtoneel is aangrypend en Pa se kwesbaarheid kan nie hier weggesteek word nie. Hoe het jy besluit om dít in te sluit en hoe het jy en die akteurs dié toneel aangepak?
Die badtoneel was noodsaaklik om die dinamika tussen Pa en Nelis te balanseer.
Aanvanklik word Pa geskets as ’n verbitterde afknouer met ’n emosionele houvas op Nelis. Deur hom só kwesbaar te sien, word jy gevra om hom vir ’n oomblik in ’n ander lig te beskou; dalk simpatie vir hom te hê.
Dit was my eerste ervaring met die verfilming van ’n naaktoneel, so ’n mens is maar versigtig en onseker oor hoe om die proses aan te pak. Die badkamer waarin ons moes werk was amper komies klein. Daar was slegs spasie vir die twee akteurs, die klankpersoon en ek. En vir die groter deel van die ononderbroke twee-en-’n-half-uur waarin ons aan die toneel verfilm het, was ons diep binne-in mekaar se persoonlike ruimtes. Dit was bedompig, beknop en ’n ergonomiese maraton, maar dit was nooit ongemaklik as gevolg van die naaktheid nie.
’n Tema wat uitstaan in die film is geweld en in Die skynwerper word die kyker nie die gru-tonele gespaar nie. Kan jy meer vertel oor die funksie van dié tonele in die storie?
Dit was nodig om die ontrafeling van Nelis se geestestoestand oortuigend uit te beeld soos hy beweeg van lafaard na held in die storie. Die geweld, soos die naaktheid, is funksioneel en nie bloot daar om sensasie op te dis nie. Ek kan nie juis verder hieroor uitbrei sonder om spoilers te gee nie.
Wat was een van die grootste uitdagings wat jy moes aanpak tydens verfilming?
Ek was altyd bewus daarvan dat die teks ambisieus is met die aantal verskillende locations waarin ons moes verfilm. So die enkele grootste uitdaging was tydsbestuur. Min sit en min slaap was aan die orde van die dag, maar dit is die kombinasie van ’n vaartbelynde tegniese span en ’n groep deurwinterde akteurs wat gesorg het dat min op die vloer agtergelaat is.
Hoe belangrik is die Silwerskermfees vir jou as ’n Suid-Afrikaanse filmmaker?
Die Silwerskermfees gee my die befondsing en ondersteuning om ’n storie te vertel wat andersins op die rak sou bly sit. Dit gee my die geleentheid om in verwondering saam met uitstekende akteurs en tegnici te werk. Om nuwe vaardighede aan te leer. Dit gee my ’n gehoor – for better or for worse. Dit is die grootste plaaslike samekoms van kreatiwiteit en kundigheid in hierdie bedryf, en dit maak my deel daarvan. So dit is vir my baie belangrik.