Boodskappe van die borge

Waldimar Pelser

Sedert daardie dapper, visionêre besluit in 2011 om Afrikaanse films in Prins Albert te vier, het die kykNET Silwerskermfees gegroei tot ’n gesogte platform vir speelfilmpremières, ’n vertoonvenster vir die beste kortfilms in die bedryf, en ’n broeikas vir ontluikende talent. Elke jaar debuteer talle rolprente hier, werk wat dikwels grense verskuif. Die kortfilmprojek het dosyne skrywers, regisseurs, vervaardigers en akteurs hul eerste kans gegee om te wys wat hulle kan doen en om op die silwerdoek te skitter. Mentors vir hierdie projek het dikwels uit die kykNET-stal gekom, en baie van die regisseurs wat met ’n kortfilm by die fees gedebuteer het, het later self bekende filmmakers en mentors geword, of hulle in die televisiebedryf begewe. Sommige van hulle, wie se werk vir die eerste keer by die Silwerskermfees gesien is, het later van die gewildste programme op kykNET geskep. In 2023 het die fees sy fokus verbreed om dokumentêre films, lineêre televisie en stroominhoud in te sluit. Dit het opwindende geleenthede vir die fees geskep om ’n nog wyer gehoor te bereik. Die eerste kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie se prysuitdelingsgeleentheid by die CTICC het die fees op ’n hoë en glansryke noot afgesluit. Hierdie jaar bou ons voort op hierdie nuwe benadering met sy breër fokus in terme van platforms en inhoud. Ons sien daarna uit om ’n fantastiese verskeidenheid opwindende nuwe werk te ervaar en die beste van hierdie aanbiedings te vier by die tweede Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie, wat op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai sal word.

– Waldimar Pelser, M-Net-kanaaldirekteur: Premium-kanale

Geordin Hill-Lewis

Die Stad Kaapstad is verheug om filmliefhebbers van heinde en verre te verwelkom na die Moederstad vir die 2024 kykNET Silwerskerm Filmfees. Dis ’n geleentheid wat geen ernstige filmfoendie wil misloop nie. Dié Kampsbaai-fees is bekend vir die premières van Afrikaanse filmproduksies van uitsonderlike gehalte en ook as ’n lanseerplatform vir die loopbane van talle plaaslike filmmakers – om nie eens te praat van die rykdom aan werkswinkels en film-meesterklasse wat tydens die fees aangebied word nie. Kaapstad se wêreldbekende filmbedryf groei steeds en is besig om ’n plek onder die top filmstede van die wêreld te verstewig. Baie dankie aan die Silwerskermfees-organiseerders en -deelnemers vir julle groot bydrae tot rolprentvervaardiging in die Moederstad. Geniet die fees, en geniet Kaapstad!

– Geordin Hill-Lewis, Burgemeester van Kaapstad

Phila Dube

Openserve verbind jou met die stories wat ons verbind. Ons is opgewonde om vanjaar saam met die kykNET Silwerskermfees te werk, en só ons toewyding aan naatlose konnektiwiteit en die geleenthede wat dit vir individue, ondernemings en die Suid-Afrikaanse ekonomie skep, ten toon te stel. Waar jy ook al gaan, is ons breëband- en telekommunikasie-infrastruktuur daar om jou te vermaak en aan die praat en verken en ingelig te hou. Openserve is Suid-Afrika se grootste telekommunikasie-infrastruktuurverskaffer, met die grootste vaste breëbandnetwerk in die land. Ons is trots daarop om innoverende oplossings te verskaf wat vir die uiteenlopende behoeftes van individue en besighede voorsiening maak. Deur ons robuuste netwerk word ons nasie se inspirerende stories, wat plaaslike en internasionale gehore betower, wyd en syd versprei. Die toegang van meer Suid-Afrikaners tot breëband-internet was nog altyd vir Openserve ’n prioriteit, want daardeur word meer geleenthede vir vooruitgang in elke sfeer van ons samelewing geskep. Ons vennootskap met die Silwerskermfees is ’n viering van die vermoë wat konnektiwiteit het om die krag en impak van ons stories te versterk.

– Phila Dube, Hoof Operasionele Beampte: Openserve

Nicola van Niekerk

Afrikaanse inhoud gaan van krag tot krag op Showmax, met reekse soos Donkerbos, Spinners, Trompoppie en Koek wat lof inoes, ook buite die Afrikaanse teikengehoor, sowel plaaslik as internasionaal. As Afrikaanse inhoud meer Suid-Afrikaners as ooit tevore bereik en boei, verdien die Silwerskermfees baie van die erkenning vir die manier waarop hulle ’n rykdom nuwe talent vir die rolprentbedryf deur middel van hulle mentorskapprojek gewerf het. Soveel van die filmmakers met wie ons nou by MultiChoice en Showmax saamwerk, het hul eerste kortfilms met ondersteuning van die Silwerskermfees gemaak, of hul films het daar gedebuteer, of hulle het die eerste keer met ’n toesigvervaardiger by die fees kontak gemaak. Die Silwerskermfees speel ’n sleutelrol daarin om die bedryf bymekaar te bring en terselfdertyd ruimtes vir nuwe stemme te skep. Dit is beide ’n viering van ’n Afrikaanse bedryf wat die lat voortdurend hoër stel, en een van die dryfkragte daaragter. Showmax is dus baie trots om ’n borg vir vanjaar se fees te wees, en om twee speelfilms – Die Bloedhonde en Gebokste liefde – asook ‘n vollengte dokumentêr – The Station Strangler – op so ’n sterk program te hê. Dank en waardering aan almal betrokke.

-Nicola van Niekerk, Waarnemende hoof van inhoud: Showmax

Astrid de Vos

Dagbreek Trust is geruime tyd al ʼn trotse ondersteuner van kykNET se Silwerskermfees. Ons geniet die energie wat hierdie projek in die bedryf losmaak om ons op TV-skerms en in teaters uit te daag en te vermaak. Dit bou vertroue, ontwikkel vaardighede en talente en stel standaarde vir die Afrikaanse filmbedryf. Van gevestigde storievertellers tot groentjies kan iets waardevols uit die program leer en saamneem. Hierdie paar dae van opwindende vertonings en gesprekke smee nuwe bande en inspireer nuwe werke. Ons sien uit daarna om skouers te skuur met almal wat ʼn naam het of naam wil maak, en wens Waldimar en sy span sukses toe met hierdie belangrike inisiatief.

-Astrid de Vos, Uitvoerende Direkteur: Dagbreek Trust

Onke Dumeko

Die National Film and Video Foundation (NFVF) is verheug om een van die borge en vennote van hierdie unieke Afrikaanse filmfees te wees. Die Silwerskermfees het ’n uitstekende platform gevestig om plaaslike talent en ongelooflike verfilmingsplekke in Suid-Afrika ten toon te stel, terwyl dit meesterklasse en werkswinkels van ongeëwenaarde gehalte aanbied. As die NFVF gee dit ons groot plesier om saam te werk met hierdie fees wat ooreenstem met ons mandaat om die diverse oudiovisuele sektor in die land te laat groei en te ondersteun. Aan al die fliekvlooie wat vanjaar se fees gaan bywoon: Geniet die room van Afrikaanse filmproduksies en die pragtige uitsigte oor Kampsbaai!

– Onke Dumeko, Bedryfshoof, NFVF

Borge

Donateurs

Vennote