Dokumentêr: By die soutwater
By die soutwater, ’n dokumentêr deur Marguerite Venter en die Two Oceans Aquarium-stigting, belig ’n ander kant van die V&A Waterfront in Kaapstad. Hiér werk ’n span van die stigting, ’n toegewyde groep marinespesialiste, wetenskaplikes en vrywilligers, onverpoos om stedelike seediere, van seevoëls tot robbe, in dié werkende hawe waar toeriste boonop ook saampak, te beskerm.
Tog, ten spyte van hul toewyding en die werk wat hulle doen om konflik en die impak van uitbreidings by die hawe op die diere te beperk, trotseer hulle ook hartseer met hul waarneming van die lyding van diere. Dít is ’n seer wat hulle volhardend bly aanpak in hul strewe na ’n beter verhouding tussen mens en dier.
Marguerite, wat as regisseur, vervaardiger en mede-redigeerder aan dié dokkie gewerk het, vertel meer.
Jy het ongetwyfeld ’n groot liefde vir die natuur – waar het hierdie liefde posgevat?
Ek dink ek is so gebore. Ek was nog altyd lief vir die natuur, van die Vrystaatse vlaktes tot die berge in die Kaap. Ek voel altyd ’n verbintenis met die natuur en dit slaan my asem voortdurend weg.
Ek het as kind ’n klein kameratjie gehad, en onthou dat ek my broer eenmaal gevra het om die film te laat ontwikkel. Hy het duidelik meer verwag, want sy enigste kommentaar toe hy die foto’s vir my bring, was: ‘Wie neem ’n hele film vol foto’s van die wolke?’ Die Vrystaat se wolke is die mooiste.
Jou dokumentêr is vanuit ’n unieke hoek en vol deernis. Is robbe jou gunstelingdiere?
Ek kon nog nooit ’n gunstelingdier kies nie, diere is almal spesiaal op hul eie manier. My gunstelingeienskappe van robbe is dat hulle vreeslik komieklik is en hulle is definitief slimmer as wat hulle lyk.
Met die maak van die dokumentêr wou ek graag hê mense moet robbe op ’n ander manier sien, en ek wou empatie vir hulle kweek. Robbe is nie ’n bedreigde spesie nie, maar dit beteken nie hulle moet in pynlike situasies verkeer nie. Soos enige ander dier is hulle belangrik in eie reg.
Hoe persoonlik voel elke reddingsaksie vir jou? Kry jy soms kans om saam met die Two Oceans-span uit te gaan?
Ek gaan so gereeld as moontlik saam wanneer daar reddingspogings is. Die kamera is my buffer en dit help my om nie in die oomblik meegevoer te raak deur emosie wanneer ek diere in sulke moeilike situasies afneem nie.
Ek raak wel emosioneel wanneer ek redigeer en deur die beeldmateriaal werk. Maar ek glo dis ook hierdie emosie wat my help om te redigeer op ’n manier wat die kyker laat voel of hulle deel van die oomblik en betrokke is.
Wat wel baie spesiaal was, is dat die rob wat ons as nommer 91 van sy tag af ken, en aan die begin van die dokumentêr van verstrengeling bevry word, dieselfde rob met die groot litteken is waarna Claire Taylor, dierewelsynspesialis, aan die einde van die dokumentêr verwys. Dit was baie spesiaal om hom ná amper twee jaar weer te sien – beslis ’n volsirkel-oomblik vir my.
Alhoewel die verstrengeling van robbe ’n donker prentjie skilder, is daar dalk ander aspekte wat jou meer hoopvol laat voel oor die beskerming van ons seelewe?
Dis moeilik, want as jy in die bedryf werk en gereeld verstrengelde robbe sien of honderde seeskilpaaie waarvan meeste plastiek geëet het, dan weet jy wat werklik aangaan in die see. Dan besef jy hoe weerloos diere teen die mens se doen en late is … Maar daar is altyd hoop vir die mensdom en hul bereidwilligheid om oordeelkundige veranderinge te maak.
Dit is ook een van die redes hoekom ek dokumentêre maak. Ek doen wat ek kan. Ek is nie opgelei om met diere te werk nie, maar ek kán films maak. Ek kan vir mense wys wat aangaan, en dan kan hulle vandaar besluit watter rol hulle in die krisis wil speel.
Die meeste mense dink jy moet iets groots doen om ’n verskil te maak, maar iets kleins in jou alledaagse lewe is genoeg. Deur te doen wat jy kan, groot of klein, maak jou deel van die oplossing en nie die probleem nie. Dít is ’n goeie begin.
Hoe het ’n Kovsie in Kaapstad beland?
Ek het van kleins af gehoop om in die Kaap te eindig. Ek en my ouma, wat oorspronklik van die Kaap was, het baie vakansies op ’n trein in Bloemfontein geklim en Kaap toe gery. Daar het ons meeste van die tyd by familie in Muizenberg gebly en my liefde vir die Kaap is ongetwyfeld gedurende daardie vakansies gebore. Ek het in 2000 die geleentheid gekry om Kaap toe te trek en dit aangegryp. Wie sal nie!
Wat sou jy as ’n alternatiewe beroep gekies het?
My hoop toe ek op skool was, was altyd om ’n wildlewe-fotograaf te wees. Of om ’n baie ou hotel met houtvloere op ’n klein dorpie te besit, waar interessante mense kom en gaan.