Speelfilm: Finding Optel

In die rolprent Finding Optel soek die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams na ’n hond wat in die buurt weggeraak het. Dit lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning.

Die film is deur die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown geregisseer, met Mikayla wat ook die draaiboek geskryf het en die hoofrol van Claire vertolk. Hulle vertel meer oor hul debuutrolprent wat deur Blended Films vervaardig is:

Waar het die idee vir die storie ontstaan?

Mikayla: In 2022 het ek my honneurs in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, en ek wou graag ’n draaiboek vir my finale opdrag skryf. Ek kon nie besluit tussen ’n speurverhaal of ’n verhaal oor verlies nie. My wonderlike dosent, Malan Steyn, het voorgestel dat ek die twee kombineer, en só is Finding Optel gebore!

Ek wou ’n oorspronklike verhaal skryf waarin elemente van my kinderjare vervat is. Ek het baie tyd by my ouma en oupa se huis deurgebring. Ek het lieflike herinneringe aan die parke, die winkeltjie, die oop strate waarin ons gespeel het, en aan hulle huis. Ek wou daardie herinneringe in die draaiboek vasvang.

Hoekom het julle besluit om dié projek saam aan te pak?

Mikayla: Finding Optel is gekeur vir Showmax se ope kategorie vir nuweling-skrywers en -regisseurs. Ek was baie op my senuwees om my eerste rolprent alleen te regisseer en ek wou hê Jesse moes die regisseur wees. Maar hy het my aangemoedig dat ons dit saam aanpak. Ek is bly ons het! Ons het ’n goeie span gemaak.

Jesse: Ons werk eintlik al vir baie lank saam. Toe ek op 12 my eerste selfoon gekry het, het ek allerhande video’s gemaak, en Mikayla was dikwels die hoofaktrise! Ons het deur die jare baie lawwe kortfilms gemaak en het ’n goeie idee van wat ons elk van ’n storie verwag. Ek het veilig gevoel met die wete dat Mikayla ook die belangrike besluite sou help neem. Haar visie vir die wêreld waarin die storie afspeel, beteken dat sy nie sekere opsies te veel deurdink soos wat dikwels met my gebeur nie.

Mikayla, jy het baie hoede gedra – draaiboekskrywer, regisseur en aktrise. Hoe het jy jou fokus behou?

Mikayla: Gelukkig was daar tyd om op elke rol afsonderlik te fokus. Ek het mentorskap vir die skryfwerk ontvang van Marianne de Klerk en die Blended Films-span, Dominique Jossie en Quanita Adams. Soos hulle sê: “Skryf is herskryf.” Ek moes verskeie weergawes lewer om binne die begroting te bly.

Tydens pre-produksie het ek en Jesse saam die visuele bord uitgewerk om seker te maak ons visie is dieselfde. Ander take het ons verdeel, maar ons het alle finale besluite saam geneem.

Tydens die verfilming het ek gefokus op my toneelspel. Die kere wanneer ek op stel nie self in ’n toneel was nie, het ek gehelp met die regie. Wanneer ek wel gespeel het, het Jesse die leiding geneem. Ons het tonele vooraf bespreek. Tydens post-produksie het ons notas saam deurgegaan, maar hy was hoofsaaklik verantwoordelik vir die redigering, kleurgradering en klank. Die werksverdeling het gehelp om ons produktiwiteit ’n hupstoot te gee.

Vertel meer van julle benadering tot die produksie-ontwerp en styl van die film.

Mikayla: Baie rolprente oor die Kaapse Vlakte fokus op bendegeweld. Hoewel dit ’n hartseer realiteit is, is dit nie die enigste waarheid van die plek nie. Daar is soveel skoonheid in daardie gemeenskappe. Ek wou hê Finding Optel moes ’n ander kant belig – een wat hoop bring. Die storie word uit Claire se perspektief aangebied: sy is vol lewe, kinderlik en verbeeldingryk. Ek wou daardie kinderlikheid deur die kunsregie en kinematografie oordra.

Jesse: Ons het van die begin af ’n sterk idee gehad oor die styl van die film. Ek hou van ernstige kunsfilms, terwyl Mikayla van snaakser, lighartiger films hou. Met dié kombinasie het ons gereken dit sal die film emosionele diepte gee, maar ook ’n prettige element behou. Ons wou ’n ander kant van die Kaapse Vlakte wys, en dit moes in die styl weerspieël word. Ons is beïnvloed deur rolprente soos Amélie en The Royal Tenenbaums, sonder om dit direk na te boots.

Die dialoog is eg en realisties. Hoekom was dit belangrik?

Mikayla: Ek hou nie daarvan om na ’n fliek te kyk en te dink mense praat nie regtig só nie. Ek het inspirasie by my familie gekry – hulle is ’n bedrywige spulletjie! Ek het geluister hoe uniek en verskillend elkeen praat, wat my gehelp het om die karakters se stemme te vind. Ons het ook die voorreg gehad om gesoute akteurs in die rolverdeling te hê. Ek en Jesse het hulle ruimte gegun om met die karakters en dialoog rond te speel. Dit het gevoel asof die rolle vir hulle geskryf is.

Jesse: Mikayla skryf graag dialoog gegrond op hoe ons gesinslede praat. Daar is iets besonders aan ons informele manier van gesels. Ons haal nog goed aan wat iemand 10 of 15 jaar gelede gesê het!

Die rolverdeling sluit bekende akteurs in. Hoe het dit gebeur?

Jesse: Dis te danke aan die span van Blended Films. Hulle het goeie kontakte in die bedryf en het akteurs aan boord gekry wat ons nooit sou kon droom om in ons debuutfilm te hê nie! Ons het ’n paar opsies vir elke rol gehad, en dikwels was ons eerste keuse beskikbaar.

Mikayla, het jy Claire van die begin af vir jou eie vertolking geskryf?

Ek het aanvanklik nie beplan om Claire te speel nie. Ek het gedink dit sou te veel hooi op my vurk wees om te regisseer én te speel. Maar ons vervaardigers by Blended Films en die span van Showmax het my aangemoedig om dit te doen, en ek is so bly ek het geluister! Dit was heerlik om Claire te speel. Ek hou van haar andersoortigheid en effe bemoeisieke geaardheid. Dit was maklik om met haar te identifiseer.

Wat wil julle hê moet kykers bybly ná die fliek?

Mikayla: Ek glo ons is nie gemaak om die lewe op ons eie aan te pak nie. Ons het ander mense nodig om ons deur moeilike tye te dra en die goeie tye saam te vier. Soos hulle sê: “Dit vat ’n hele gemeenskap om ’n kind groot te kry.” Ek dink dit geld ook vir volwassenes. Dit is Claire se reis na volwassenheid. Ek wil hê kykers moet die belangrikheid van gemeenskapslewe besef – en hoopvol voel nadat hulle die film gesien het.