Kortfilm deur gevestigde filmmakers: Totsiens, Selina

Met die kortfilm, Totsiens, Selina, bring regisseur Lourensa Eckard hulde aan ’n vrou wat ’n vormende invloed op haar lewe gehad het. Lourensa en vervaardiger Wynette Theart het die draaiboek saam geskryf.

Hulle besin saam oor dié Silwerskermfees-projek:

Lourensa, wat het aanleiding gegee tot die skryf van Totsiens, Selina?

Vir my is dit ’n baie persoonlike verhaal. Ons huishulp Johannah Masilela, wat my en my suster help grootmaak het, is oorlede ná sy ’n tyd lank siek was. Totsiens, Selina is dus gegrond op ’n persoonlike ervaring, maar daar is tog verskille tussen ons verhaal en dié van die film.

Totsiens, Selina vertel ’n bekende verhaal, maar ook een waarvan baie (wit) kykers dalk eerder sou wou wegskram omdat dit ’n mens met ’n taamlik ongemaklike werklikheid konfronteer. Waarom dink julle behoort mense dus juis die fliek te kyk?

Lourensa: Ek wil nooit vir mense preek of voorskryf nie, en wat ek met hierdie film probeer doen het, was net om ’n verhaal te vertel wat vormend in my lewe was. Dit is ’n huldeblyk aan ’n vrou wat bygedra het tot wie ek vandag is. Ek weet daar is baie wit Suid-Afrikaners wat soortgelyke ervarings het, maar eerder as om hulle daarmee te konfronteer, wil ek ’n ruimte skep waar kykers dalk net kan sit met hul emosies. Dis emosies wat moeilik is om te verwoord, maar meeste van ons het al iets soortgelyks beleef.

Lourensa, dit is jou tweede kortfliek vir die Silwerskermfees ná jou debuut met Marie se laaste dag verlede jaar. Hoe het die ervaring verskil?

Ek is nie seker of ek gegroei het nie; dit was net so uitdagend soos die eerste film wat ek gemaak het. Met hierdie film het ek wel ’n groter verantwoordelikheid gevoel om gestand te doen aan die temas en kwessies wat die grondslag van Totsiens, Selina lê.

Wynette en Lourensa, julle het die draaiboek saam geskryf – vertel so bietjie van die proses en oor hoe julle saamwerk, ook in jul verskillende rolle as regisseur en vervaardiger?

Wynette: Ons is uiters eerlik met mekaar wanneer ons saamwerk en hoewel ons soms teen mekaar skuur oor idees, is dit altyd tot voordeel van die projek. Ons het die teks aanhou deurtrap totdat dit vir ons albei reg gevoel het. Dit was belangrik dat ons altwee deur die teks geroer word waar dit ons bedoeling was om emosie te wek. Lourensa weet ook presies wat sy wil sê en hoe om dit in ’n storie te omskep.

Lourensa: As vervaardiger is Wynette ’n uiters praktiese denker, maar daarteenoor is sy ook ’n baie emosionele en diep skrywer. Saam wou ons iets skep wat Johannah kon eer, en solank die teks dít doen, is ons gelukkig.

Wynette, wat verg die produksieproses van ’n kortfliek soos dié en voor watter spesifieke uitdagings kom ’n mens te staan wanneer jy ’n kortfilm maak?

Een van die groot uitdagings is die filmstel of location. Dis dikwels baie moeilik om die perfekte plek te vind. Een van ons vriende en jarelange kollega, Xolani Nhlapo (ook vanjaar by die fees met sy dokumentêr Felix by die koppie)het ons gehelp om Selina se huis te vind. Dit was presies wat ons in gedagte gehad het, maar ons moes geld spandeer op vervoer na Evaton, waar die huis geleë is, en moes fyn dink oor logistiek as gevolg van die slegte paaie daarheen.

Die skietdae was bloedig warm en daar was geen elektrisiteit naby nie, met die gevolg dat ons koelerbokse met baie, baie ys moes aanry en bid dit hou sodat ons kos en water koel bly deur die dag. Maar ons het dit gemaak werk met die span se samewerking. Die akteurs het nie een keer gekla nie!

As vervaardiger floreer ek wanneer ek te staan kom voor sulke uitdagings. Dit was een van die uitdagendste, maar lekkerste shoots wat ek nóg gedoen het.

Die fliek het ’n baie sterk rolverdeling met drie vroue as die spilpunt. Vertel asseblief veral oor Lorraine Burger as Susan, Clementine Mosimane as Selina, en Maki Mokhitli as Mary.

Lourensa: Ons kon nie glo dat dié wonderlike akteurs ingestem het om saam met ons te werk nie. Clementine is ’n lewende legende en dit was ’n absolute eer om saam met haar te werk. Sy het ’n baie moederlike geaardheid, maar is ook ’n rock star wat produksie betref. Ons het haar (en al ons akteurs) op die hande probeer dra, maar sy het aanhou sê dat sy nie spesiale behandeling wil hê nie – sy is deel van die span. Dit was ook die res van die akteurs se houding.

Wynette: Lorraine is geweldig talentvol en was só kosbaar vir ons! Lourensa het haar van die begin af as Susan gesien en sy was perfek. Sy was ook baie, baie waardevol vir die skryfproses en het ons bygestaan met die verwerking. Maki is lieflik en beeldskoon. Haar professionaliteit, soos die res s’n, was iets om te beleef. Dis só lekker om te sien hoe hulle die teks lewe gee. En ja, drie sterk vroue wat elkeen in hul eie reg ’n onlosmaaklike, uiters belangrike rol in Jakobus (Erasmus Esterhuizen) se lewe speel.