Kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Alma op pad

In Alma op pad vertel regisseur en draaiboekskrywer Jana-Marie Hey ’n grootwordverhaal wat geïnspireer is deur ’n ware familie-sloertoer. Die film, wat in 1993 afspeel en deurdrenk is met fyn tydgebonde detail, word deur die oë van ’n jong meisie vanaf die agtersitplek van haar gesin se motor vertel.

Jana-Marie vertel meer oor die film:

Alma op pad is geïnspireer deur ’n ware familie-ervaring. Wat het jou gemotiveer om juis hierdie spesifieke herinnering as grondslag vir die kortfilm te gebruik?

Ek het vir ’n vriend van my oor ’n mislukte familie-sloertoer na die Drakensberge (ek het in KwaZulu-Natal grootgeword) vertel en hy het gesê dit klink na ’n goeie storie vir ’n kortfilm. Maar daar was nog nie genoeg konflik nie. Toe het ek gedink, wat as die hotelle nie net vol was nie? Wat as daar ook ’n persoonlike stryd is? Tóé raak dit ’n storie.

Coming-of-age-films was nog altyd my gunsteling-genre en ek wou die storie graag vanuit die perspektief van ’n kind op die agtersitplek vertel. Ek was ook baie geïnteresseerd in die hiperbewustheid wat veral oudste kinders ontwikkel in ’n huis waar daar baie onderliggende konflik is.

Die groot probleem was dat Alma steeds net ’n passiewe protagonis was. Ek het, met die hulp van my Silwerskermfees-mentor Etienne Fourie, konsep ná konsep geskryf, op soek na ’n manier om vir Alma meer doelgerigtheid te gee. In hierdie tyd het my ma op ons ou videokamera afgekom en skielik was alles duidelik. Ek het self nooit ons vakansies afgeneem nie. Dít was my pa se groot vreugde. Daardie kamera was soos ’n deel van ons gesin, ’n verlenging van my pa. Dit het oral saam met ons gegaan.

Die film speel in 1993 af en is deurspek met nostalgie. Watter visuele en stilistiese keuses het jy gemaak om die era geloofwaardig en outentiek vas te vang?

My agtergrond in die filmbedryf lê in die kunsdepartement, so ek kan met selfvertroue en groot entoesiasme kreatiewe besluite neem. Omdat ek self in daardie tyd grootgeword het, kon ek staatmaak op my eie herinneringe, familiealbums en ou tuisvideo’s om die era te herroep. Elke kostuum, elke rekwisiet, elke deel van die stelontwerp is met sorg gekies. In ’n kortfilm is tyd en geld beperk, so alles wat voor die kamera verskyn moes iets bydra tot die storie.

Aanvanklik was daar kommer oor die koste van ’n periodefilm, maar dit was vir my belangrik dat die storie voor die era van selfone, iPads en die internet afspeel. Ek wou daardie verlore ure op die agtersitplek van ’n motor vasvang wanneer kinders niks het om te doen nie, behalwe om stories uit te dink, by die venster uit te staar of hul ouers se dinamika van agter af dop te hou.

Ons het baie tyd spandeer aan liggingverkenning. Ek wou die omgewing so generies en universeel moontlik hou, sodat kykers hulself daarin kan herken. Huise sonder hoë, elektriese heinings is iets wat vandag al hoe skaarser raak. Gelukkig is daar steeds sulke juwele van tydloosheid in die noordelike voorstede van Kaapstad. Ek het rondgery, huise uitgekyk en uiteindelik by een aangeklop. Ons was ook besonder gelukkig om by die Bergrivier-oord in die Paarl te kon skiet. Dit is ’n klassieke Suid-Afrikaanse vakansieplek.

Die motor self was natuurlik ’n kern-element. Ons het dit op Facebook Marketplace raakgeloop. Die eienaar wou dit eintlik verkoop, maar ons het hom oortuig om dit eerder aan ons te verhuur. Die leerstoele het presies geruik soos wat ek dit onthou het. Ek weet nie wat Mercedes-Benz in daardie dae gebruik het nie, maar hulle maak dit nie meer só nie.

Aan die einde van die film sien ons tuisvideo-materiaal. Wat het dit vir jou beteken om persoonlike familie-beeldmateriaal in die film in te sluit?

Ek het nog altyd daarvan gehou wanneer films eindig met foto’s of beeldmateriaal van die mense op wie die storie gegrond is. Dit tref net anders. In ’n stadium was ek bekommerd dit mag dalk selfbehep oorkom. Of dat ek my familie te veel sou blootstel. Maar ek het besluit om op die raad van my mentors te vertrou en vir ons redigeerder, Canya Cruywagen, vrye teuels gegee. Ek het ure se tuisvideo’s vir haar gestuur en was verbaas oor die materiaal wat sy gekies het. Dit was eintlik ’n verligting om ’n tree terug te staan en iemand anders toe te laat om daardie keuses te maak. Dit het my die nodige afstand gegee om dit vir ’n slag soos ’n kyker te beleef.

Laudo Liebenberg vertolk die rol van Pa. Hoe het jy Laudo vir die rol gekies?

Ek het van die begin af aan Laudo gedink vir die rol. Dit was vir my belangrik dat Pa fisiek groot en dominerend moes wees. Beslis nie pateties nie. My eie pa was lank en het breë skouers gehad, en Laudo dra daardie selfde gebiedende teenwoordigheid. Hy het regtig ’n sterk aanvoelbare teenwoordigheid.

Ek en Laudo het tydens voorbereiding baie gesels oor daardie generasie mans en hoe hulle nie geleer is om hul emosies te verwerk nie. Daar was ’n konstante verwagting dat hulle hard en onaantasbaar moes wees. Ek dink Laudo het daardie innerlike spanning ongelooflik goed vertolk.

Tydens die groot stry-toneel in die motor het daar oomblikke gekom waar sy intensiteit my tot trane gedryf het. Ek het agter die monitor gesit en gehuil, want hy het my só sterk aan my pa laat dink. Terselfdertyd het hy ook sagtheid en sensitiwiteit na die rol gebring.

Alma se pa moedig haar aan om aan te hou stories vertel en films te maak. Is dit iets wat jou eie pa vir jou gesê het?

Die eerste weergawe van die draaiboek het nie daai oomblik tussen Alma en haar pa in gehad nie. Ek was bang dat dit te soetsappig sou wees en ek het geweet Pa is die tipe man wat nie sommer jammer sou sê nie – daai woorde aan haar was die beste wat hy kon doen.

My pa het dit nooit vir my in soveel woorde gesê nie, nee. Maar hy het my besluit om film te gaan studeer ten volle ondersteun (en befonds). Ek en hy het saans laat saam flieks gekyk wanneer die res van die gesin gaan slaap het.