



Kortfilm deur opkomende filmmakers: Min of meer
Jana (Liezl de Kock) wil ’n meermin wees, en haar man, Jakob (Tiaan Slabbert), doen alles in sy vermoë om van dié fantasie ’n werklikheid te maak. Haar eerste professionele optrede as ’n meermin ontaard egter in ’n ramp en só kom hartverskeurende geheime van onder Jana se vin uit …
Dié kortfilm is die aktrise Cindy Swanepoel se debuut as regisseur, met Anél Wood wat die draaiboek geskryf het. Cindy en Anél, wat saam die fliek onder die vaandel van hul maatskappy Swan Dive Collective vervaardig het, vertel meer oor die wêreld van Min of meer.
Waar het die idee of konsep vir Min of meer ontstaan?
Anél: Die storie van ’n vrou wat soos ’n meermin leef en nooit haar meerminstert uittrek nie, is een wat Cindy al lank graag wou vertel. Ek was bevoorreg genoeg om dié idee van haar, wat reeds vol magiese potensiaal was, in ’n teks te omskep en ’n wêreld rondom die meerminkarakter te bou.
Cindy: Hierdie is ’n storie wat ek al vir soveel jare in my kop het. Ek wou aanvanklik self die karakter van Jana speel, maar ek wou ook myself uit my gemaksone as aktrise haal en kyk hoe ek as regisseur vaar. Ons het besluit om die storie vir die Silwerskermfees voor te lê, juis omdat die fees geleenthede bied om iets te probeer wat jy nog nooit gedoen het nie. En toe die Silwerskermfees die filmkonsep aanvaar, was dit amper asof alles net gesê het: “Ja! Ja! Doen dit! Doen dit!”
Anél, vertel asb. hoe jy op Cindy se aanvanklike idee in ’n draaiboek omskep het.
Eerstens wou ek vir die karakter wat Cindy in haar kop gehad het, ’n rede gee waarom sy nooit haar meerminstert uittrek nie. Daardie motivering het gelei tot keuses en karakters wat die storie verder sou inkleur, soms donker en soms lig. Ek wou Cindy se mal-lekker idees, soos hoe die vrou se huis lyk en hoe sy by kinderpartytjies optree, soveel moontlik ruimte en lewe gee.
Tog moes ek seker maak dat daar genoeg intrige is en dat die kyker steeds met empatie in hierdie effe absurde wêreld kan inkoop. Ek wou die karakters volrond maak met hoop en drome en foute en konflik. My skryfstyl neig maar altyd na “lag met ’n traan”, en dis presies wat Cindy vir die storie wou hê. Ek is mal oor stories wat my die een oomblik hardop laat lag en die volgende oomblik my hart aangryp of verskeur. Ek hoop dít is kykers se ervaring wanneer hulle die film sien.
Is Min of meer die eerste kortfilm wat julle saam aangepak het?
Anél: Ek en Cindy bedryf Swan Dive Collective, wat die film vervaardig het, saam en ons het al ’n aantal video- en verhoogproduksies geskep. Hierdie is egter ons eerste filmprojek wat ons, te danke aan André Badenhorst (produksieontwerp) en Alan Sayers (kinematograaf en redigeerder), ook as ’n stukkie kuns beskou.
Hoe lyk jul kreatiewe vennootskap? Werk julle lekker saam?
Anél: Ek en Cindy is albei dromers met koppe vol stories wat ons graag wil laat lewe kry. Dis net ’n geluk dat ons eers vriendinne en toe vennote kon word, want ons dink en droom baie dieselfde, maar werk vanuit ’n plek van respek en liefde vir mekaar. Dit is belangrik in ’n bedryf waar die werk dikwels persoonlik en uitdagend is. Ons is albei baie kreatief en daarom verken ons elke moontlike hoek van ’n idee totdat ons by ’n besluit kom wat ons albei opgewonde maak. Die gevolg is dat ons altyd passievol voel oor dit wat ons doen. So, ja, dit is heerlik om saam te werk, maar ons noem dit eerder “speel”.
Cindy: Om saam met Anél te werk is ongelooflik. Sy is so talentvol. Sy verstaan altyd wat ek wil hê en ons maak so ’n goeie span. Sy het haarself so goed van haar taak as vervaardiger van dié film gekwyt, maar veral ook as skrywer. Ek is ongelooflik dankbaar vir haar.
Cindy, hierdie was jou eerste uittog as regisseur. Hoe sou jy die ervaring opsom?
Dit was regtig ongelooflik. Dit was een van dié lekkerste ervarings van my loopbaan tot dusver, deels omdat dit iets heeltemal nuut was. Ek het soveel pret gehad en ek sal bittergraag weer wil regisseer.
Die emosionele impak van die vertelling – die snaaks en die hartseer daarvan – berus in ’n groot mate op die spel van Liezl de Kock en Tiaan Slabbert. Hoe is daar op hulle as hoofspelers besluit?
Cindy: Liezl se oudisie was ongelooflik. Sy het so ’n goeie begrip van “lag met ’n traan”. Daar’s heeltyd ’n hartseer in haar oë, en dít is wat die karakter nodig gehad het. Tiaan se oudisie was aanvanklik vir die rol van Thea die Meerman, maar toe kom die voorstel dat hy eerder Jacob moet speel. Ek het dadelik gedink, ja, want as iemand komedie goed verstaan, is hulle gewoonlik ook baie goed met drama. Hoe meer ek na sy spel gekyk het, hoe mooier het dit vir my geraak. Altwee van hulle het ongelooflike spel gelewer.
Anél: Die kinderlike verwondering wat in Liezl de Kock se oë blink, asook haar fisieke krag en bewegingsvermoë, was nie net gepas nie, maar noodsaaklik vir die aktrise wat die rol van Jana sou vertolk. Haar oudisie was natuurlik ook baie sterk en oortuigend. Aan die ander kant het ons geweet dat die rol van Jana se man, Jakob, ’n heerlike uitdaging sou wees vir ’n komiese akteur, aangesien hy byna nie ’n woord in die film praat nie. Tiaan Slabbert is ’n akteur in wie se vermoë ons geglo het – iemand met beide komiese tydsberekening én emosionele diepte. Ons het geweet hy sou ons antiheld met nuanse vertolk.
Jacob het geen dialoog tot teen die einde van die film nie. Is die liggaamsgebruik in die draaiboek ingeskryf, of is dit iets waarmee Tiaan vorendag gekom het?
Anél: Mens wil nie graag in die teks te veel voorsê hoe ’n karakter moet beweeg of voel nie, want dit is iets vir die akteur en regisseur om te verken, maar ek het oomblikke ingeskryf waar Jakob kon asemhaal en inneem wat om hom gebeur, en dan ook wys waar hy besluite neem of nié. Ek wou hê dat die kyker hom aan die skouers wil ruk en uitroep: Sê iets, Jakob! Die besluit om sy karakter stil te maak was ook om te wys dat elke mens trauma en konflik verskillend verwerk, en dat ons mekaar in stilte ook die afgrond in kan help, en nie net deur woorde nie.
Tematies is Min of meer ’n veelvlakkige verhaal en spreek dit veral die gebruik van maskers om ons seer te verdoesel (of bloot te oorleef) aan. Wat is vir julle die belangrikste boodskap wat dié film oordra?
Cindy: Dis presies dit. Dit gaan oor hoe ons in ontkenning kan leef en hoe ons wonde eintlik erger word as ons dit ignoreer. Ook hoe ons mekaar in staat stel om ’n leuen te leef, soos wat Jacob vir Jana doen deur haar meerminfantasieë aan te moedig. Uiteindelik, as ons nie ons waarhede oopkrap nie, dan gebeur dít wat jy juis probeer vermy het.
Anél: Vir my tref die boodskap van versoening met jou verlede én die aanvaarding van jou hede, die hardste. Ons as mense is geneig om te dink dat die verlede ons hede bepaal en dat ons altyd moet streef na “meer”, maar dan is dit soms skielik te laat wanneer ons besef dat daar elke liewe dag iéts is wat ons sal mis as dit môre weg sou wees.