Blindelings: Donnalee en Ivan se nuwe speelfilm is ’n senutergende riller

Die geliefde akteurspaar en filmmakers Ivan Botha en Donnalee Roberts het met hul groot lokettreffers, die romantiese avontuurfilms Pad na jou hart en Vir altyd, derduisende Suid-Afrikaanse harte verower. Hul jongste rolprent, Blindelings, mik weer reguit na ons hartkamers toe – maar dié keer jaag dit ’n angswekkende adrenalienskoot deur jou are wat gaan maak dat jy jou vingernaels verinneweer. 

Met Blindelings wys Ivan en Donnalee hul slag in ’n nuwe genre: ’n senutergende sielkundige riller. 

Blindelings plaas kykers in die skoene van ’n blinde pianis met sinestesie wat eers na ’n klavieruitvoering agter die verhoog ’n nagmerrie-ervaring het en later op ’n afgeleë plaas geteister word.  

Donnalee lewer uitmuntende spel as die blinde René, en Ivan behartig die regie. 

Hulle vertel ons saam meer oor Blindelings se storie, temas en karakters, en wat dit geverg het om so ’n buitengewone speelfilm te maak. 

 

  • Wat het julle geïnspireer om Blindelings te maak? Hoe is die saadjie vir die storie geplant?

As storievertellers droom ’n mens altyd daarvan om in verskillende genres te werk. Dis dalk nie alombekend nie, maar ons is absoluut mal daaroor om na psigologiese rillers te kyk. Die film en storie het organies ontwikkel. Ons het as ’n skryfspan saam met Liani Jansen van Rensburg en Ernst van Wyk aan die intrige en karakters geskaaf om ’n spanningsvolle film te maak wat die gehoor geleidelik intrek en mettertyd laat wonder watter karakters hulle kan vertrou.  

Die boodskap en temas van ons film is altyd uiters belangrik vir ons. Wat is die dieper boodskap? Ons het al baie gesels oor die gevare van blindelingse vertroue – veral vandag waar jy dikwels op sosiale media, byvoorbeeld, mense bevriend sonder om elke faset van daardie persoon te ken. Blindelings se storie slaan ’n ander koers in met hierdie angswekkende gedagte as die tema in ’n genre wat 100% geskik is daarvoor. 

 

  • Wat presies is sinestesie? Hoe dra dit by tot die spanning in die film?

Daar is talle gedokumenteerde gevalle van sinestesie – ’n toestand waarby sintuie wat nie gewoonlik saamwerk nie, met mekaar verbind is. Mense wat blind of doof of stom is, maar ook sommiges sonder so ’n gebrek, se sintuie vermeng. Die stimulasie van een sintuig lei tot sensasies en ervarings in ’n ander een. Jy kan byvoorbeeld klanke voel, woorde ruik of kleure hoor.  

In die blinde René se geval laat haar emosionele reaksies op klanke haar verskillende kleurkolle sien. Dit help haar om ’n situasie te beoordeel.

Ivan:  Die kleurkolle wat musiek en mense se stemme by René ontlok, was ’n heerlike visuele element om in die regie mee te speel en die angs en vrees wat René ervaar, uit te beeld. Ek kon kykers met tye in René se skoene plaas en hulle die gebeure en karakters vanuit haar perspektief laat beleef. 

Donnalee: René sien wat sy hoor in terme van die emosies en energie wat in stemme lê. Sy het ’n baie fyn aanvoeling daarvoor. Dit skep multidimensionele karakters en verskillende lae van betekenis in die storie. Binne die tema van blindelingse vertroue, het ons gedink dis vars en uniek. 

 

  • Donnalee, dit is ’n uitdagende rol. Wat het Blindelings jou as aktrise geleer? 

Ek was vir  meer as ’n maand lank elke dag vir elf ure lank letterlik blind gewees met behulp van kontaklense wat spesifiek vir dié kondisie en my oë gemaak is. Dit was die eerste keer in my loopbaan dat ek so ’n rol so moes speel en ek het daarna my sintuie opnuut waardeer. Dit is ongelooflik hoe die menslike liggaam kompenseer wanneer een van jou sintuie weggeneem word. Ek het ontsettend gehoorsensitief geraak en kon byvoorbeeld afstand deur klank begin skat.  

Wanneer mens op stel is, is dit ook so belangrik om met jou spel te reageer op wat in jou mede-akteurs se oë gebeur. My medespelers verdien daarom soveel eer. Die manier waarop hulle op soveel vlakke soveel meer van hulself gegee het om my te laat reageer op net wat ek voel en hoor, was fenomenaal. Ek het hul toneelspel die eerste keer in die redigeringsateljee gesien.  

Die rol van René het intensiewe navorsing geverg en ek het dae lank by die Cape Town Society for the Blind deurgebring, waar ek ook, byvoorbeeld, geleer het hoe om met ’n sigstok te beweeg. Ek kan vir ure lank gesels oor al dié voorbereiding en die ongelooflike maniere waarop blinde mense hul uitdagings oorkom.  

Vertel ons ’n bietjie meer oor Blindelings se karakters en oor hoe hulle by die tema inpas.

Ons wil nie te veel uitlap nie, want anders gaan dit vir die kyker weggee waarom hulle op die ou end nie een van die karakters gaan vertrou nie. 

Jacques Bessenger vertolk die rol van René se man, Paul. Hy is ’n huisagent wie se skip nog nooit ingekom het nie. Paul se bedoelings is meestal goed, maar sy aksies belig die vertroue-tema in die sin dat die mense wat die naaste aan jou is, jou ook die seerste kan maak. 

Ludwig Binge gee ’n misterieuse kwaliteit aan Albert – ’n musikant saam met wie René eens opgetree het. Albert word gedryf deur die blinde ambisie en begeerte om weer saam met René in die kollig te wees. 

Dan is daar Steyn, gespeel deur Wilhelm van der Walt. Steyn is ’n meestermanipuleerder wat hom as ’n ryk sakeman voordoen en weet hoe om kat-en-muis-speletjies te speel. 

 

  • Ivan, as jy nie in die regisseurstoel was nie, watter van dié manne sou jy wou speel? En hoe het jy jou rol as regisseur benader?

Beslis Steyn, maar waarom kan ek eers ná mense Blindelings gekyk het, verklap.  

Vanuit ’n kreatiewe oogpunt wou ek as regisseur net eerlik wees met die genre. Omdat ons met blindheid werk, was dit vir my belangrik om die gehoor soveel moontlik deel te maak van ’n blinde persoon se  ervaring. 

Ons het daarom minimale beligting gebruik en gespeel met die lig en donkerte wat gepas vir die verskillende karakters is. Ook handheld-kameras om die angs te beklemtoon. Ek het alles ingespan wat die storie op die skerm sou dien. 

Die wonderlike filmspan – van grimeerkunstenaars tot die stelontwerpers – het werklik baie moeite gedoen om die storie se atmosfeer te skep. Charl-Johan [Lingenfelder] se musiek rond alles mooi af en met ’n kameraman soos Tom Marais is elke raampie beeldskoon. Dan was daar ook die Silwerskermfeesbekroonde Leon Visser, ’n liefhebber van dié genre, wie se redigering die film na nuwe hoogtes geneem het. 

Blindelings wys op Donderdag 24 Augustus om 20:00 by die fees en sal vanaf 29 September op DStv BoxOffice te siene wees.