Die 13de kykNET Silwerskermfees beloof ’n betowerende ervaring

“Die Silwerskermfees bring denkers, doeners, makers en towenaars oor generasies en provinsies heen saam in die naam van film,” sê Waldimar Pelser. Vanjaar vind die fees van Woensdag tot Saterdag, 20 tot 23 Augustus, by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaas.

Waldimar, die direkteur van M-Net se Premium-kanale, beskryf die 13de Silwerskermfees as ’n viering van ’n wonderlike kunsvorm. “Vir dié medium om te floreer, moet wyd uiteenlopende vaardighede in die pot gegooi word wat die palet van gehore stimuleer.

“Mense wat na films kyk, wil graag iets voel,” sê hy, “want almal smag soms daarna om te ontvlug of net te reflekteer. Of om ’n katarsis te ervaar.”

Vir reeds meer as ’n dekade word dié gewilde fees as een van die mees gerespekteerde ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf beskou. En sedert sy ontstaan bou kykNET al die pad daarop voort.

“Elke jaar kry die Silwerskermfees dit reg om hulself te oortref,” sê Waldimar. Fliekvlooie kan gereedmaak om die beste van ons plaaslike produksies te sien.

“Die verskeidenheid van dit wat in Afrikaans geskep word, is duiselingswekkend en inspirerend. Dit gee kykNET opnuut rede om ’n beduidende belegging in Afrikaanse films te maak.”

Vir nuwe stemme in die bedryf is die fees ’n gesogte platform om te leer en te groei. Dit bied vir almal ’n ongelooflike ervaring, verduidelik Waldimar. “Dit wys nie net die talente van ons gevestigde en bekende filmmakers vir die wêreld nie, maar gee ook die sterre van môre ’n kans om die oog te vang.”

Verskeie meesterklasse, werkswinkels en paneelbesprekings tydens die Silwerskermfees gaan ’n nuwe generasie rolprentmakers met kennis en vaardighede toerus. Ervare mense in die bedryf gaan onderwerpe bespreek en deurtrap, soos die kuns van dokumentêre, die toekoms van die speelfilm, die voor- en nasorg in realiteitsvermaak, gehoorevolusie, en so meer.

Die 13de Silwerskermfees spog met ’n ryke oes van 21 kortfilms, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Ook word ses vollengtespeelfilms, waarvan drie debute van die betrokke regisseurs is, bekendgestel.

In 2025 is daar sewe dokumentêre prente op die program teenoor verlede jaar se vyf. Onderwerpe wat in dié films gedek word, is uiteenlopend – van die Marikana-slagting en die oorgang na demokrasie in 1994, tot die tragiese verdrinking van ’n bekende Springbok-rugbyspeler se babaseun. Laasgenoemde is verlede jaar as ’n konsep by die fees se Silwermark voorgelê.

Die Silwermark bied gedurende die fees weer geleentheid vir filmmakers om konsepte in verskeie Afrikaanse inhoudskategorieë direk aan kykNET en Showmax voor te lê.

Waldimar beskryf baie van die stories wat op die fees vertoon gaan word as wordingsverhale. “Heelparty gaan oor die veranderinge wat binne mense plaasvind wanneer groot uitdagings hulle tref. Soms is dit die geskiedenis, soms ’n intiem persoonlike terugslag, of ’n lewensveranderende gewaarwording.”

Kykers gaan, byvoorbeeld, kennis maak met die Temple Boys, ’n groep musikante van Ravensmead. Hulle gaan geneem word op die verlossingsreis van ’n bendelid met die bynaam Jan Bloed, en hulle gaan houe vat in ’n rofstoeiklub in Bothaville!

Die vollengterolprente op die 2025-program is Hen, My f*k, Marelize!, Khaki Fever, Finding Optel, Carissa en The Heart Is a Muscle.

Die swierige Silwerskermtoekennings vir Film en TV, waar die beste feesfilms saam met toptelevisie vereer word, vind op Saterdag 23 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) plaas.

By hierdie geleentheid word filmfeespresteerders en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar (April 2024 tot Maart 2025) beloon met die gesogte Silwerskermbeeldjies. Wenners van die ander filmkategorieë, wat, onder meer, toekennings vir tegniese prestasie insluit, word die oggend van 23 Augustus tydens ’n geleentheid by The Bay-hotel aangekondig.

Die blou tapyt word wyd en ver oopgerol en die publiek word by die fees verwelkom. Kaartjies is op Quicket te koop.

Mense wat die glansgeleentheid nie in persoon kan bywoon nie, kan die Silwerskermfeestoekennings op Sondag 24 Augustus om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) meemaak.

Die Silwerskermfees word deur Openserve, Stad Kaapstad, die Dagbreek Trust, Village ’n Life en die National Film and Video Foundation (NFVF) geborg.