Die baanbrekerdokumentêr Call of the Wild neem mense met én sonder sig op ’n unieke safari

Hoe beskryf jy ’n asembenemende Afrika-sonsondergang, ’n skouspelagtige trop olifante of ’n majestueuse leeu by ’n watergat aan ’n blinde persoon? Die betowering van die Afrika-bos is so visueel.   

Die vervaardiger, regisseur en draaiboekskrywer Brett de Groot se grensverskuiwende dokumentêr Call of the Wild spreek dié dilemma aan deur beide siende én blinde natuurliefhebbers op ’n unieke reis deur die bos te neem. Ons gaan saam met Anika, ’n visueel gestremde kind met ’n besonderse gawe om voëlgeluide te onderskei, op die eerste gedokumenteerde safari waarin klank die toergids is. 

Dié buitengewone safari is deur die klankspesialiste Derek en Sarah Solomon ontwerp. Danksy hul innoverende konsep en Brett se revolusionêre filmtegniek kan jy met nuwe ore die wonder van die natuur beleef – van ’n seekoei se onderwatergeluide tot ’n voëlsangkoor met sonopkoms. 

Om reg te laat geskied aan Anika se ervaring moes Brett die manier waarop natuurlewe tradisioneel in dokumentêre verfilm word, opsyskuif. 

Brett sê een van sy grootste uitdagings was om sy regie aan te pas vir die jong, blinde Anika wat geen begrip het van hoe ’n filmkamera werk nie: “Siende mense is bewus van die kamera, weet instinktief waar om te kyk en hoe om met gesigsuitdrukkings te reageer,” verduidelik Brett. “Daarom moes ek ’n nuwe vorm van regie ontwikkel en was daar absolute stilte op stel sodat Anika my stem kon volg.”

Vir hierdie doeleinde en om terselfdertyd nie inbreuk op die aard van die klanksafari te maak nie, moes Brett en die filmspan slegs met handseine en witborde kommunikeer. 

Maar hoe verseker ’n mens verder dat ’n dokumentêr toeganklik is vir blindes en siendes? 

Brett het só te werk gegaan:

  • Die gebruik van ondersteunende sintetiseerderklanke berei die oor voor om die natuurgeluide duideliker waar te neem. Die musiek het ook hiermee ’n belangrike rol gespeel. Dit is spesiaal gekomponeer om nie die natuurklanke te oordonder nie.   
  • Die verfilming was uiters tegnies met drie verskillende kameras – een in die lug, een op Anika se voertuig en een op ’n aparte voertuig wat Anika s’n gevolg het om haar volle natuurbelewenis vas te vang. Albei die voertuie was toegerus met ultra-sensitiewe klanktoerusting.  
  • Die hele dokumentêr is ontwerp sodat siende kykers nie bloot op hul sig staatmaak nie. Die idee was om mense wat wel kan sien “met hul ore pleks van hul oë te laat luister”. Om dit te bewerkstellig is die natuurlewe op ’n ongewone manier verfilm wat die gewone vinnige uitken van diere byna onmoontlik maak. Jy beleef eers die klank en dan die beeld. 

 

Anika wou baie graag hê dat dit ’n positiewe storie moet wees wat nie te veel op haar tragiese verlede as weeskind fokus nie. Brett: “Omdat sy teruggetrokke is, het Call of the Wild die kollig op haar laat val op maniere wat as ’n gentle exercise in storytelling beskryf kan word.

Call of the Wild wys Vrydag 25 Augustus om 11:30 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.