Shotgun-kortfilm: In die verloop van
’n Groot verlies en die impak daarvan op twee mense se verhouding, is die spilpunt waarom Emma Kotze en Philip Rademeyer se kortfliek, In Die Verloop Van, wentel.
Ná ’n moeilike aand word Jana (Kotze) en Chris (Wilhelm van der Walt) wakker; elkeen vasgevang in hul eie gedagtes. Iets swaar en onuitgesproke lê tussen hulle. Soos hulle deur hul oggendroetine gaan, word die vorige aand se gebeure geleidelik onthul.
Emma en Philip het saam die storie en konsep ontwikkel en Philip het die draaiboek geskryf. Hy was ook verantwoordelik vir die regie van dié intieme blik op hoe die lewe, te midde van tragedie, pyn én vreugde onverpoos voortgaan. Hulle het ’n paar vrae oor die fliek beantwoord.
Emma, buiten dat jy ’n teater- en filmaktrise is, was jy ook betrokke by die draaiboek. Waarom geniet jy dié deel van die kreatiewe proses?
Vir my is storievertel in die teater en op film die dryfveer agter my werk. Dis ’n ongelooflike voorreg om stories te vertel en mense in die proses op reis te kan neem. Dit is hoekom dit lekker is om ook agter die skerms te werk, omdat jy meer beheer het wat die narratief betref.
Wat het aanleiding gegee dat julle juis dié verhaal, oor Jana en Chris, wou vertel?
Emma: Die eerste bepalende faktor was dat dit ’n kortfliek is. Ons het baie navorsing gedoen oor wat hierdie flieks laat werk en dit sluit ’n spanningslyn in wat vir slegs tien tot twintig minute aaneengestring moet word, én ’n onthulling.
Die storie het ontstaan toe ons begin praat het oor die alledaagsheid van verlies. Die titel sinspeel op die krasheid en brutaliteit van die feit dat die lewe net aangaan, maak nie saak wat gebeur nie. Ons het besluit om in te zoem op hoe erg basiese, alledaagse aktiwiteite kan wees en dat ’n mens nie daarvan kan ontsnap nie. As skrywers moes ons die storie eerlik hou, want dis onmoontlik om te sê dat almal dieselfde tipe situasie op dieselfde manier sal ervaar.
Philip: Die onderwerp van die fliek is nie iets waaroor daar baie of maklik gepraat word nie – in ons navorsing en onder ons eie vriende het ons gevind daar is ’n tipe geheimhouding daaroor, of dit nou uit ’n gevoel van verlies van privaatheid, skuld of skaamte kom. Dit was ook van die begin af belangrik om die storie oor die vrou én die man te maak, want alhoewel die gebeure mans en vroue op verskillende wyse beïnvloed, word beide daardeur geraak.
Julle twee het al gereeld voorheen saamgewerk. Waarom werk jul kreatiewe vennootskap so goed?
Philip: Ek en Emma ken mekaar al lank, van universiteitsdae af. Ons is nie net kollegas nie, ons het ook ’n hegte vriendskap. Dié vriendskap help wanneer ons saamwerk, omdat ons begrip het van mekaar as ménse, en nie net as akteur/skrywer/regisseur nie. Ons kan baie lekker idees uitruil, en op mekaar se idees bou, omdat ons gemaklik is met mekaar en ook omdat ons mekaar se professionele insigte respekteer.
Verder het ons dieselfde aanvoeling wanneer dit by kreatiewe werk kom, so ons was van die begin af op dieselfde bladsy in terme van die storie en hoe ons wou hê dit moet lyk en voel.
Emma: Ek hou baie van konsepskryf en storieontwikkeling, terwyl Philip gesout is met dialoog en karakterbou. Ons fliek het min teks, maar wanneer daar wel iets gesê word, vang hy dit só goed was. As regisseur laat Philip my altyd net terugkom vir nog! Hy het ’n duidelike visie, maar hy laat akteurs toe om op hul eie manier uit te kom by die plek waar hy hulle wil hê. Hy pak die proses met emosionele intelligensie aan.
Philip, die storie van In Die Verloop Van is gelaai met onuitgesproke emosie. Watter uitdagings en moontlikhede bied die genre van kortflieks vir jou as skrywer en rolprentmaker?
Die grootste uitdaging van ’n kortfilm is ook dié element wat dit werklik kragtig kan maak – om binne ’n baie kort tydperk ’n storie te vertel en kykers iets te laat voel. Jy het nie 90 of 120 minute om ’n gekompliseerde verhaal te vertel of om jou karakters en wêreld uit te bou nie.
Die uitdaging met hierdie fliek is dat ons die karakters tydens ’n tragedie wat hul verhouding beproef, ontmoet. So die draaiboek, regie, spel, ontwerp en kamerawerk moet van die eerste oomblik af daardie emosioneel gelade wêreld vasvang.
Film is ’n visuele medium, so as skrywer wou ek myself uitdaag om so min as moontlik dialoog te gebruik. In my teaterwerk praat die karakters báie, so ek wou hier iets anders probeer en ’n spesifieke gevoel effektief weergee.
Philip, vertel asseblief van jou ervaring op stel en van Emma en Wilhelm in die hoofrolle?
Ek het al verskeie kere met Emma én Wilhelm gewerk. Ons verstaan mekaar, ons praat dieselfde taal wanneer dit by kreatiewe werk kom, en ons het al ’n shorthand ontwikkel – as ek tussen takes terugvoer gee, kan ek een woord vir hulle sê en hulle weet wat ek daarmee bedoel. Hulle is beide ongelooflike spelers – hulle verstaan subtiele emosie en weet hoe om met ’n kamera te speel.
Emma, wat was jou aanslag as speler om Jana se ervaring van verlies oor te dra?
Die gebeurtenis waarom die fliek wentel is vreeslik sensitief. Vir my was die grootste uitdaging om ’n rouheid oor te dra. Ek het persoonlik nog nie beleef wat met Jana gebeur het nie, maar ek hét al baie verliese ervaar, en dit was my aanknopingspunt.
Klank en kleur vervul belangrike funksies in die fliek. Het julle reeds tydens die skryfproses op dié strategie besluit?
Emma: Die fliek maak baie sterk op die visuele staat, meer as enigiets anders. Om mense se aandag te behou met ’n redelik eenvoudige konsep, moes ons baie aandag aan die visuele elemente skenk. Kleur weerspieël deur die loop van die fliek ’n spesifieke gevoel.
Die klank het later ontwikkel, al was ons van die begin af oortuig daar sou nie ’n klankbaan wees nie. Die vergroting van alledaagse klanke het natuurlik gekom en versterk die konsep waarmee ons speel: daai onafwendbaarheid van die broodrooster se klank; van die motorhuis se deur wat oopgaan. Die tegniese span was ongelooflik: Meekaaeel Adam is die fantastiese kinematograaf; Matthew Swanepoel het die redigering behartig en John Claassen was verantwoordelik vir die klank terwyl ons geskiet het, terwyl die na-produksie klankontwerp en -meng deur Pressure Cooker Studios gedoen is.
Philip, In Die Verloop Van is in die nuwe Shotgun Shorts-afdeling – waarom maak dié afdeling jou opgewonde?
Dis ’n uitstekende inisiatief. Die kortfilm-kategorie is gewoonlik vir nuwe en opkomende rolprentmakers, maar Shotgun Shorts bied meer gevestigde skeppers die geleentheid om ’n kortfliek te maak. Deel van die opdrag van hierdie kategorie was om jouself op kreatiewe vlak uit te daag, en dit het dus vir skrywers en regisseurs die geleentheid gebied om dinge te probeer wat hulle dalk nie andersins sou nie.