Project Description

10 vrae aan Karen Meiring

In die eerste van ’n reeks onderhoude met Silwerskerm-rolspelers en -sterre deel feesstigter Karen Meiring haar herinneringe en interessante brokkies inligting oor die begindae van die Silwerskermfees. Vind uit hoe en waarom die fees ontstaan het en hoekom ons TV- en filmbedryf dalk heeltemal anders daarsonder sou lyk.

  1. Die eerste Silwerskermfees het in 2011 gestalte gekry op Prins Albert, ’n klein dorpie in die Karoo, met net een nuwe speelfilm. Wat is die storie daaragter?

Die Silwerskermfees het om verskeie redes ontstaan. Dit was vir my belangrik dat kykNET die film- en TV-bedryf omarm deur ’n geleentheid te skep waar jong, gevestigde en veteraan filmmakers en belangrike rolspelers vir ’n paar dae lank kan skouerskuur, saampraat en hul ervaring deel, en waar nuwe talent geidentifiseer en ontgin kan word.  Destyds het kykNET nie baie vervaardigers vir veral teksgedrewe produksies gehad. Die behoefte was nie net vir nuwe talent nie, maar ook vir diversiteit in aanbod en aard. En ons móés iets doen om die Afrikaanse filmbedryf te stimuleer om meer en beter films te maak.

Met al die films van vandag vergeet mens maklik hoe yl ons filmbedryf toe was. In 2010 is daar byvoorbeeld net een Afrikaanse film vrygestel en in die 1980’s en 90’s was jy gelukkig as daar enigsins ’n Afrikaanse rolprent by teaters gedraai het.

Danksy ’n goeie verhouding met Nu Metro se Danie van der Merwe en Ricky Human, en ons gedeelde behoeftes vir inhoud en betrokkenheid in die industrie, sluit ek en Jan du Plessis toe ’n vennootskap met Nu Metro om saam ’n fees aan te pak.

Oom Jans Rautenbach was die aansporing om die fees in Prins Albert te loods. Hy was die eerste beskermheer van die fees en op Prins Albert het Laetitia van Dyk ’n klein filmteater wat na oom Jans vernoem is. Soos wat ons gemaak het met die eerste KKNK het ons net media en spesiale gaste genooi vir ’n spesiale ervaring. Ons het ons vooruitsigte en visie vir die eerste Silwerskermfees met dié invloedryke groep gedeel. Dit was ’n uitsonderlike uitstappie met van ons voorste resensente en rolspelers. Toevallig was Prins Albert ook die plek waar ’n Saak van geloof die enigste nuwe rolprent wat ons kon wys – geskiet is.

Ná Prins Albert het ons van 5 tot 11 Augustus 2012 ’n Silwerskermfees aangebied by Nu Metro teaters in Pretoria en die Kaap. Omdat daar nie genoeg nuwe inhoud was nie, het ons die fees aangevul met bestaande klassieke Afrikaanse films. Met die keuse van films wou ons onder meer gevierde akteurspare byeenbring. Ons het dit aangebied as premières, en die akteurs almal genooi om daar te wees vir die eerste vertonings.  Die films was Die Bankrower met Marius Weyers en Sandra Prinsloo, My broer se bril met Cobus Rossouw, Môre Môre met Sybil Coetzee en Hans Strydom, Katrina met Jill Kirkland en Babbelkous met Katinka Heyns en Tobie Cronjé.

  1. Is daar enige staaltjies wat jy kan deel oor die eerste fees?

Die naam van die fees het nogal ’n herrie veroorsaak. Taalpuriste het daarop aangedring dat dit nie “Silwerskermfees” moet wees nie, maar “Silwerdoekfees”. Maar deesdae praat ons nie meer van ’n “silwerdoek” nie en ’n “TV-doek” of “selfoondoek” klink nie reg nie. Met tweede-skerm-ervarings en digitale platforms in die vooruitsig het ons besluit dit moet juis die Silwerskermfees wees.

  1. In 2012 het die fees verskuif Kampsbaai toe met ’n allemintige 10 kortfilms en 5 speelfilms wat hul debuut gemaak het by die fees. Hoe het dit gebeur?

Die kortfilms was danksy ons Silwerskermfees kortfilm-kompetisie. Die doel daarmee was om die nuwe vervaardigers en filmmakers te vind waarna ons gesoek het. Ek en Jan du Plessis het verder koppe bymekaar gesit en met ’n “pre-buy”-befondsingsmodel begin om vervaardigers te help met die vooraf-finansiering van hulle films. Meer speelfilms kon deur hierdie model realiseer vir die tweede fees.

Om die gepaste venue te vind waar almal saam kon bly, films kyk en gesprekke bywoon om ’n gedeelde ervaring te skep, was ’n groot uitdaging.  Dit moes iewers wees waar filmmakers spesiaal sou voel, met die regte atmosfeer en ligging waaroor hulle sou praat, en wat hulle weer sou laat terugkom. Die fasiliteite moes aan al ons behoeftes voldoen vir ’n volwaardige fees.  Eers het ons ’n wynlandgoed oorweeg, wat nie uitgewerk het nie. Toe begin ek rondvra en voelers uitsteek vir voorstelle.  Saartjie Botha herinner my toe aan die Rotunda en die Bay Hotel in Kampsbaai, waar ek al talle suksesvolle funksies bygewoon het en vervaardiger Jaco Loubser help my met die regte kontak. En siedaar – dis tien jaar later en ons is nog steeds daar!

  1. Wat onthou jy van die eerste Kampsbaai Silwerskermfees?

Die oggend met die opening het ons almal die kortfilmkompetisie-deelnemers verwelkom en toegespreek. Ek sal nooit die prentjie van die gehoor vergeet nie – die tasbare opgewondenheid en verwagting van honger filmmakers.

Ek onthou ook die spanning voor die eerste première en die verligting toe mense uit die Rotunda stap en daar is ’n ongekende buzz. Die spontane kuier en diep gesprekke tot vroeg in die oggendure.  Die organiese netwerk van vervaardigers wat vergaderings opstel met filmmakers om nuwe idees te bespreek wat sou lei tot ’n volgende film en projek.  Die ongelooflike talent wat die kortfilms na vore sou bring.  Kortfilms wat die potensiaal gehad het om ’n reeks of vollengte film te word en ook later het. Dit was alles ongelooflik opwindend en ’n fees vir die volgende jaar kon onmiddellik bevestig word.

Die eerste fees het ook ons vermoede bevestig dat ons ons op die regte pad is om nie voorskriftelik te wees met die kortfilmkompetisie nie, sodat die filmmakers se eie unieke stemme en potensiaal na vore kan kom en hulle hul visie ongehinderd kan laat realiseer.

  1. Hoe dink jy het die fees die afgelope dekade ’n bydrae gemaak tot die Suid-Afrikaanse filmindustrie?

Die fees het geleenthede, hoop en verwagting geskep. Dit het ’n nuwe energie en dinamika na ons inhoudslandskap toe gebring en ’n platform daargestel om ons eie stories visueel te vertel.

Die kortfilmkompetisie het jaar na jaar nuwe talent en diversiteit verseker en ons kon saam met M-Net daarop fokus om nuwe vollengte films te ontwikkel. Talle van dié speelfilms het ook wêreldwyd ons eg-Suid-Afrikaanse stories vertel. Die “authenticity” van die stories en die gehalte van die films sorg dat baie van die films uitgenooi word na belangrike internasionale filmfeeste, waar dit dikwels gesogte pryse wen.

  1. Wat onderskei die fees van ander filmfeeste?

Dit is ’n klein fees met ’n groot impak. Die Silwerskermfees sluit nie internasionale films in nie en ons vertoon ook nie net films nie. Ons doelwit is om die plaaslike bedryf te ondersteun en te ontgin. Mentorskap en vennootskappe speel daarom ’n baie belangrike deurlopende rol.

Alhoewel kykNET se mandaat Afrikaanse inhoud is, fokus ons daarop om diversiteit, nuwe vervaardigers, filmmakers en skrywers vir meer as net Afrikaanse inhoud te ontwikkel.

  1. Die fees het ongetwyfeld baie werksgeleenthede geskep. Hoe het kykNET as ’n televisiekanaal baat gevind by die fees?

Werk skep werk en blootstelling skep nuwe geleenthede. kykNET het in 2010 net een dramareeks en een komediereeks per jaar vervaardig, en daar was net een sepie. Intussen het kykNET gegroei tot meer as een kanaal, en met Showmax en DStv Box Office ook in die prentjie, het die behoefte vir nuwe inhoud geweldig uitgebrei. kykNET vervaardig tans ses drama- en vier komediereekse per jaar, terwyl daar deurentyd drie sepies en een telenovela op lug is. Die Silwerskermfees was ons vernaamste bron vir nuwe vervaardigers, akteurs, skrywers en regisseurs.

Die fees het sinvolle sinergieë tot stand laat kom. Suidoosterfilms is byvoorbeeld gestig deur die Silwerskerm alumni Gambit films, saam met Homebrew films, om die sepie Suidooster te vervaardig. Omdat Suidooster in die Kaap geskiet moes word, maar daar geen ateljee beskikbaar was om dit te huisves nie, het dit weer direk gelei tot die ontwikkeling en bou van Atlantic Studios deur ’n groep vervaardigers wat saamgewerk om saam met ons dié leemte aan te spreek.  Atlantic Studios is nou die tuiste van die meeste kykNET programme wat in die Kaap vervaardig word.

Baie van die akteurs, regisseurs, tegnici en vervaardigers wat die eerste keer hul werk ten toon gestel het by die fees word, kon natuurlik ook ingespan word vir nuwe programme en films vir M-Net en kykNET.

  1. Die oudiovisuele landskap verander deurentyd. Hoe pas die fees daarby aan?

Ons hou jaarliks ons programsamestelling in pas met die jongste tendense deur internasionale gaste uit te nooi vir meesterklasse en relevante sprekers in te sluit in ons paneelgesprekke. Die essensie van die fees is om kennis te deel en ’n omgewing te skep wat juis nuwe denke inspireer

  1. As jy terugkyk na ‘n  dekade se Silwerskermfeeste, wat maak jou trots?

Ek is baie trots op hoe die fees gegroei het, ten spyte van beperkte begrotings. Ons en ons vennote kon as ’n span saamwerk om befondsing te verseker sodat dit ’n jaarlikse instelling word.

Ek is ook trots op die uitsonderlike films wat hul debuut gemaak het by die Silwerskermfees en daarna pryse verower het by internasionale feeste en internasionale verspreidingsooreenkomste gekry het.

Dit is ook wonderlike om te sien hoeveel van ons kortfilmmakers hul eerste treetjie in die bedryf by die fees gemaak het en hoe hulle vandag onder ons voorste rolprentmakers is en nou hul kennis deel.

Maar dan swel my hart ook van trots elke keer wanneer iemand vertel hoe baie hulle een van ons flieks geniet het.

  1. Wat is jou wens vir die fees vorentoe?

Die fees is in uiters bekwame hande met Ricky Human as programbestuurder en Christel Sampson as projekbestuurder. Hulle innoveer en brei elke jaar die feesaanbod uit en Christel sorg dat ons genoeg borgskappe het. En hulle is nie bang vir ’n uitdaging nie! In 2020, toe Covid-19 ’n impak op die fees en die hele bedryf gehad het, het hulle steeds ’n baie suksesvolle webinaar aangebied om seker te maak die fees bly ontwikkel.