



Kort dokumentêr: Verander
As kind het die akteur, skrywer en vervaardiger Luan Jacobs lang stories op die stoep met pres. Nelson Mandela gesels. Vir hom was sy pa, Lourens Jacobs, se baas bloot ‘Oom’. Vir Lourens was sy taak as die hoof van sekuriteit vir pres. Mandela egter ’n opwindende opdrag in ’n tyd toe demokrasie in Suid-Afrika aangebreek het, maar ook uitdagend as gevolg van politieke spanning en verdeeldheid. Luan vertel hoekom hy genoop gevoel het om ’n dokumentêr, Verander, oor sy gesin se ervaring te skep.
Verander is ’n baie persoonlike storie vir jou en jou familie – waarom dié dokkie?
Ek het nooit gedink dat my ouers se betrokkenheid by die geskiedenis van ons land sulke kragtige stories sou oplewer nie. Ek was nog altyd gefassineer deur hul ervaringe en het met bewondering na hulle gekyk. Eers toe ek self ’n volwassene geword het, het ek ten volle besef hoe merkwaardig hulle werklik is. Dis toe dat hulle stories begin resoneer het.
Om hul stories te vertel, voel vir my noodsaaklik. Ek glo vas dat daar steeds genesing in ons land nodig is, en juis hier, waar die persoonlike en die professionele ontmoet, kry my werk betekenis.
Die storie draai om jou pa se ervaringe van sy tyd saam met pres. Mandela, maar ook van sy loopbaan en persoonlike lewe oor etlike dekades. Het dit baie ompraatwerk geverg om hom te oortuig om aan die dokumentêr deel te neem?
My pa is ’n introvert en ons stories was nog altyd iets wat net aan ons behoort het. Daarom was dit ’n dapper stap van hom om in te stem tot die proses. Vooraf het ek vir hom verduidelik dat daar beslis kommentaar sou kom, goed én sleg. Maar ons het al met die jare stewige velle gekweek. Al was daar aanvanklik ’n mate van angs, veral vir die onbekende, het Lara Lourens se betrokkenheid as regisseur alles verander. Sy het ons veilig laat voel, en aan ons die ruimte gegee om opreg te wees.
Was daar ooit tye of onderwerpe wat té uitdagend gevoel het om aan te raak?
Ons het vooraf besluit dat ons ’n oop boek sou wees. Ons het gelag. Ons het gehuil. Maar bowenal, ons was net ons eerlike self. Daar wás moeilike vrae. Die onderwerpe was rou en opreg. Ek glo dis danksy Lara se unieke aanslag dat ons so brutaal eerlik kon wees. Ons het nie weggeskram van moeilike onderwerpe nie; inteendeel, dit is juis daar waar die behoefte aan diskoers lê in ons land.
Interessant genoeg, het ek as vervaardiger nooit die vrae voor die tyd gesien nie. Dít was doelbewus, want dit sou my perspektief beïnvloed het. Lara het toe twee strukture opgestel: een vir my as vervaardiger, sodat ek die logistiek kon bestuur, en een vir haar, waarin sy die kreatiewe proses kon lei.
Dit voel soos ’n absolute gelukskoot dat jou pa ná al die jare nog al daardie kratte foto’s en aandenkings het. Hoe het julle besluit wat om in te sluit?
My ma was nog altyd iemand wat stories koester. Sy en my pa het oor die jare alles sorgvuldig bewaar in kratte vol materiaal, dokumente en herinneringe. Selfs wanneer ons in die aande saam nuus gekyk het, het ons ’n speletjie gespeel: om my pa in die agtergrond raak te sien tussen die president se doen en late. Dit het selde lank gevat!
Een van die groot uitdagings met die maak van die film was om te kies wat om te gebruik; daar was eenvoudig te veel. My pa het steeds sy uniforms, sy valskerm, en talle items wat hy deur sy loopbaan gebruik het. Elkeen dra ’n storie.
In terme van die stories wat julle oor pres. Mandela en pres. F.W. de Klerk vertel – hoe het julle besluit wat om te deel?
Ons het doelbewus tematies gekies watter stories om te deel, nie net oor hulle politieke nalatenskap nie, maar ook oor hul menswees, soos gesien uit ons eie ervarings. Hierdie projek was vir ons ’n eerbetoon. ’n Kans om hul nalatenskap te eer en om te vra: Wat kan ons vandag nog by hulle leer? Wat dra ons na die volgende generasie oor?
In baie opsigte voel dit asof hierdie name al begin aanbeweeg het na die wêreld van mites. Daar is reeds ’n hele generasie vir wie Mandela en De Klerk slegs figure in handboeke of stories van ander mense is. Daarom was dit vir ons belangrik om ons eie verhaal ook te vertel. Hopelik laat dit die gehoor nie net met ’n bepaalde perspektief nie, maar ook met ’n gevoel van genesing en empatie.
Hoe het dit gebeur dat Lara Lourens die regie en draaiboek behartig het?
Lara Lourens en Kaz McFadden, die lynvervaardiger, is ’n gedugte span. Ons het al ’n lang en betekenisvolle pad saam gestap en intussen het sy en Kaz baie goeie vriende van my geword. En dít het beslissend meegewerk toe ons moes besluit wie die regie van hierdie dokumentêr sou behartig. Ons het geweet ons het iemand nodig wat nie net die tegniese vaardighede het nie, maar wat ons gesin se storie met respek sou hanteer. Iemand wat ons harte sou oopmaak en nuwe perspektiewe sou help ontgin.
Wat was die grootste uitdaging wat julle moes takel?
Die opsporing en hantering van video-argiefmateriaal was een van die uitdagendste aspekte van die projek. Argiefmateriaal is ontsaglik duur, en ons moes kreatief en strategies te werk gaan om die begroting só te struktureer dat ons steeds alles kon akkommodeer. Wat die proses nóg meer kompleks gemaak het, was die feit dat lyfwagte, soos my pa, nie herkenbaar in die media mag verskyn nie. Dis deel van die diskresie wat die beroep vereis. Dit het beteken dat ons alles in die historiese beeldmateriaal letterlik sekonde vir sekonde moes deurgaan, op soek na die oomblikke waar hy dalk net-net in die raam verskyn.
Beplan julle om dié dokkie ook na oorsese filmfeeste te neem?
Beslis, ja. As ons stories soos hierdie kan versprei wat dialoog en genesing bring, sal ons alles gee om dit te versprei. En alhoewel die film tans slegs as ’n kortfilm bestaan, het ons meer as ses ure se bruikbare materiaal.