Kortfilm deur ’n gevestigde filmmaker: Hier

In Hier lewer die regisseur en draaiboekskrywer Robert dos Santos ’n intieme verhaal waarin die grense van tyd verbuig word en die visuele skouspelagtig lyk. Met slegs drie akteurs verken die film temas soos tydreise, geheue en oorlewing, terwyl dit tussen verskeie genres beweeg: romanse, spanning, misterie, wetenskapsfiksie, aksie en drama. Teen die agtergrond van ’n epiese visuele landskap bied Hier ’n seldsame storie-ervaring binne die kortfilmformaat.

Robert het uitgewei oor die inspirasie vir die prent en vertel waarom dit relevant en betekenisvol is vir Suid-Afrikaanse én internasionale gehore.

Wat het jou geïnspireer om onderwerpe soos tydreis en oorlog in die film uit te beeld? En waarom is dit nou die regte tyd om hierdie storie te vertel?

Ek wil epiese, aangrypende stories vertel wat groter as die lewe self is, maar wat steeds persoonlik en intiem voel. Ek wil hê gehore moet agteroor sit en sê: “Wow, dit was nou ’n lekker ervaring!” – maar ook dat hulle iets het om oor te gesels as hulle agterna huis toe ry.

Die tyd vir so ’n tipe film is nou gepas omdat dit iets sê oor waarheen Suid-Afrikaanse film en televisie op pad is, en iets aan kykers bied wat hulle nou graag wil sien. Ons bewonder internasionale filmmakers al veels te lank vir die grensoorskrydende stories wat hulle vertel, terwyl ons die vlerke van ons eie drome knip. Ek glo regtig dat ons bedryf die afgelope dekade met rasse skrede vooruitgegaan het, en dat ons nou gereed is om films te maak wat die wêreld kan oorrompel. Met stromingsdienste en ’n wêreldwye honger na veelsydige inhoud was daar nog nooit ’n beter tyd om die tradisionele Hollywood-formule verder te neem nie.

Films ding deesdae mee met sosiale media en kortformaat-inhoud, wat beteken ons moet kykers tegemoet kom terwyl hulle vermaak soek wat tegelyk prettig én epies in omvang is.

Met slegs drie akteurs moes die dinamiek tussen die karakters sterk en oortuigend wees. Hoe het julle die akteurs voorberei op die intense spanning wat tussen die karakters heers?

Ons het in ’n bioskoop geoefen om ons heeltemal  in die wêreld van die film in te werp en behoorlik te fokus. Dit was ’n knus, gemaklike ruimte – ons het op die vloer op die rooi mat gesit met biltong en springmielies, en die teks oor en oor gelees om ons karakters se motiverings en bedoelings volkome te verstaan. Ons het ’n oop ruimte geskep waar ons die teks kon bevraagteken, terugvoering kon gee en die vertolkings saam kon beplan.

David Viviers, Anja Taljaard en Milton Schorr is ongelooflike akteurs. Hulle oudisievideo’s was van só ’n hoë gehalte dat min voorbereiding eintlik nodig was. Elkeen het met ’n duidelike, deurdagte idee van die karakters gekom, in so ’n mate dat my rol bloot was om die momentum te behou, eerder as om alles van nuuts af te laat begin.

Hoe lank het die verfilming geduur, en wat was die moeilikste toneel om te skiet – en waarom?

Die gevegstoneel was die grootste uitdaging, maar ook die lekkerste ervaring wat ek nóg op stel gehad het. Aangesien ek tans besig is met die ontwikkeling van ’n aksiereeks vir MultiChoice, was dit ’n belangrik geleentheid om aan myself te bewys dat ek ’n oortuigende aksietoneel kon skiet, selfs al was dit op ’n kleiner skaal.

Ons het aanvanklik ’n volle dag vir die gevegstoneel uitgesit, maar moes dit binne vier uur klaar kry weens weerstoestande en die beskikbaarheid van die akteurs. En ons het dit wraggies reggekry.

Wat beteken die titel Hier vir jou binne die konteks van tydreise en geheue?

Die enigste ding waarvan ons ooit seker kan wees, is die oomblik waarin ons is – hier en nou. Wanneer jy deur tyd reis, is ‘hier’ al wat jy regtig het.

Kan jy onthou wat die eerste woord of sin was wat jy geskryf het toe jy met die projek begin het?

Ek onthou nie die presiese eerste woord nie, maar ek onthou hoe die idee begin het. Ek was saam met die vervaardigers Byron Davis en Chris Harvey in ’n konferensiekamer, besig met ’n dinkskrum vir nuwe konsepte, en ons het vreeslik gesukkel om goeie idees te kry.

In ’n stadium het Chris uitgegaan, en uit pure frustrasie het ek ’n wilde idee in die lug gegooi in reaksie op iets wat Byron gesê het. My voorstel was dat ons onsself moes uitdaag om verskillende genres – romanse, spanning, misterie, wetenskapsfiksie, aksie en drama – in een samehangende storie te verweef. Byron was dadelik in, en toe Chris terugkom, stap hy ’n vertrek binne waar ons reeds dié blink idee vier. Die storie het dus begin as ’n kreatiewe uitdaging: kan ons ses genres kombineer en dit steeds natuurlik laat voel?

Die prent voel soos ’n epiese historiese drama. Hoe het julle dit reggekry om iets van so ’n omvangryke skaal binne die beperkings van ’n kortfilm uit te beeld?

Met die opkoms van sosiale media en stroomdienste, en die afname van tradisionele inkomstestrome soos DVD’s en loketverkope, het ons geweet ons moet slim te werk gaan met ons hulpbronne. Ek het die voorreg gehad om ervaring op te doen van die hele produksieproses – van skryf en regie tot post-produksie en verspreiding. Ons span by And Films is obsessief oor pre-produksie. Ons glo daarin om twee keer te meet en te pas, en net een keer te sny.

Tog sou niks moontlik gewees het sonder ’n ongelooflike span nie. Chris Lotz het asemrowende visuele werk gelewer. Sumaya Wicomb het ’n wêreld geskep wat aards én omvangryk is. Ons akteurs het emosionele diepte en presisie ingebring.

Morné du Toit en die klankspan het klanklae bygevoeg wat die grootskaalse atmosfeer verskerp het, terwyl Edward King se musiek intiem én beeldend was. Dit alles het bymekaar gekom onder leiding van die vervaardigers, Byron Davis en Suraya Suliman. Om op te som: die skaal is te danke aan die talent en toewyding van elke spanlid.