Kortfilmprojek – opkomende filmmakers: Marie se laaste dag
Die joernalis Lourensa Eckard is bekend as aanbieder van die aktualiteitsprogram In gesprek op kykNET en is ’n aanbieder vir M-Net se Carte Blanche. Maar al hou sy haar daagliks met grensverskuiwende onderwerpe besig, is Lourensa baie lief vir lag en humor. Dié dat sy haar debuut as regisseur en draaiboekskrywer maak met ’n komiese fliek wat ’n doodgewone vrou se perspektief op ’n belangrike tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis bied.
In Marie se laaste dag, wat Lourensa saam met die skrywer en teatermaker Mercy Kannemeyer geskryf het, ontmoet ons Marie (Mandri Sutherland), die jare lange sekretaresse van die minister van minerale hulpbronne, Hendrik van der Merwe (Deon Lotz).
Op die eerste dag van die nuutgevormde regering van nasionale eenheid (RNE) moet Marie vir haar baas ’n vergadering reël met die nuwe minister van verdediging, Mayihlome Khumalo (Dumisani Mbebe). Marie is gereed om die ideale van die nuwe Suid-Afrika te omarm en daarmee help Thandi (Rozanne McKenzie), minister Khumalo se sekretaresse met die vlamrooi lipstiffie.
Lourensa het so ’n paar vrae oor haar kortfilm beantwoord.
Wat het aanleiding gegee tot jou sprong van nuus en aktualiteit na fiksie en fliekmaak?
Ek wou myself uitdaag op ’n nuwe gebied. My alledaagse werk is baie ernstig. Maar ek geniet humor. Nuuskantore het mos die mense met die beste humorsin, want as jy nie lag nie, gaan jy huil …
Ek is ook mal oor lees en rolprente en toe besluit ek en Mercy Kannemeyer om ’n kans te vat en ons konsep in te skryf.
Hoe het jou en Mercy se skrywersvennootskap ontstaan?
Mercy het uit ’n televisie- en teateragtergrond as produksiebestuurder by In gesprek begin werk. Ons het aan die gesels geraak oor die politiek en hoe koalisies na die 2024-verkiesing gaan lyk. Ook hoe dit vergelyk met die verkiesing in 1994. Ek het gewonder oor die gewone mense wie se stories nié vertel is nie. Toe begin ons speel met die idee van hoe die eerste dag van ’n RNE in 1994 sou lyk.
Mercy het baie ervaring met teater- en televisietekste en ek het haar gevra of ek iets beet het. Ons het toe saam aan die storie begin bou.
Waarom het julle besluit om die storie uit Marie se oogpunt te vertel?
Dat dit ’n fliek uit ’n vrou se perspektief moes wees, was iets waaroor ek van die begin af sterk gevoel het. In enige organisasie, of dit nou vandag is of dertig jaar gelede, is daar iewers ’n vrou wat maar eintlik die show run; die sekretaresse of die admin-tannie. Die een wat al die antwoorde het en wat jou gaan uitsorteer.
Hierdie ministers by die RNE het ook maar sekretaresses gehad wat die bal aan die rol gehou het. My vraag was: Hoe het vroue daardie oorgang ervaar?
Daar is al soveel boeke geskryf en dokumentêre gemaak oor mans se ervaring van ons geskiedenis, spesifiek diensplig, maar die vroue wat ’n administratiewe rol gespeel het, se diensplig was op ’n manier om ’n brutale sisteem op te hou. Daar is vir hulle gesê: ‘Daar’s ’n vyand en hulle kom vir jou.’ En op ’n dag het daai goed weggeval. Sommige mense kon nie dadelik aanpas by die nuwe manier van doen nie, maar baie, soos Marie, was minstens bereid om te probeer.
Is Marie se storie gegrond op die waarheid?
Die karakter is suiwer fiksie en bied perspektief oor redelike onlangse geskiedenis. Ons het met Marie se storie die vraag gevra oor hoe die land se geskiedenis sou gelyk het indien ander besluite geneem is. Ek wou nie ’n geskiedkundig akkurate fliek maak nie, juis sodat mense kon wonder, ‘Wat as?’.
Die komediant Mandri Sutherland is die perfekte aktrise vir die rol. Het jy haar in gedagte gehad tydens die skryfproses?
Ja! Toe ek begin rondspeel met die karakter, het ek gevoel die fliek sal nie werk as Mandri nié betrokke kan wees nie. Marie het ’n soort onskuld, maar ook soveel die mag, en Mandri vang dit uitstekend vas.
Rozanne McKenzie is bekend as televisie- en radioaanbieder en stemkunstenaar, maar met dié fliek maak sy haar filmdebuut as Thandi, nie waar nie?
Rozanne het ook ’n nuusagtergrond, maar sy het drama gestudeer. Ek het nog altyd geweet sy het ’n fantastiese humorsin en is baie professioneel. Sy het Thandi haar eie gemaak. In teenstelling met Marie, wat ’n vaal muurblommetjie is wat haar eie behoeftes eenkant toe skuif, is Thandi sexy en in beheer. Ek wou nie hê Marie moes geskok wees deur haar nie, maar dat sy haar moes bewonder.
Vir jou debuut as regisseur het jy saam met ikoniese akteurs soos Deon Lotz en Dumisani Mbebe gewerk. Vertel ons daarvan.
Dit was geweldig intimiderend om met hierdie twee ervare mans te werk. Maar ek was verbaas en dankbaar dat hulle sonder blik of bloos ingestem het om deel te wees van die projek en dat hulle in die storie geglo het.
Aanvanklik het ek gedink: ‘Wie is ek nou om vir hierdie mense notas oor hul spel te gee?’ Maar hulle het my leiding uitgesoek. Dit het die projek van die begin af ’n spanpoging gemaak.
Wat was jou aanslag tot die regie?
Ek was van die begin af 100 persent eerlik met die akteurs oor hoe ek die storie sien, maar ek het hulle die vryheid gegee om die karakters hul eie te maak. Ek was dankbaar verras oor die eindresultaat. Van die eerste toneel af het die akteurs my idee en visie waar gemaak op maniere waarvan ek nie eers kon droom nie.
Wat is die rol van die Silwerskermfees om geleenthede soos dié te skep vir nuwe stemme?
Die mentorskap was van onskatbare waarde en het die proses minder intimiderend gemaak. Dit is waardevol wanneer gesiene mense in die bedryf die tyd neem om seker te maak jy voel nie oorweldig nie.