Onafhanklike kortfilm: The Last Ranger

The Last Ranger is ’n film wat besin oor mentorskap, herinnering en die stryd om dit wat ons nog oor het, te beskerm. Dit fokus op natuurbewaring as ’n diepgaande menslike daad. Die prent begin as ’n rustige storie oor die pad na volwassenheid, maar ontvou dan in ’n aangrypende meditasie oor nalatenskap, verantwoordelikheid en die emosionele band tussen mens en natuur.

Regisseur Cindy Lee vertel meer oor haar Oscar-benoemde film en die ware gebeure wat die storie geïnspireer het:

The Last Ranger begin as ’n besadigde verhaal oor mentorskap en eindig as ’n dringende oproep tot bewaring. Wat het jou tot hierdie projek gelok?

The Last Ranger het vir my die geleentheid gegee om ’n eg menslike storie te vertel – oor mentorskap, grootword, en om verantwoordelikheid te neem vir die aarde waarop ons leef, terwyl dit terselfdertyd ’n sterk boodskap oor natuurbewaring uitdra. Ek was nog altyd ’n kampvegter vir diereregte. Lank voor The Last Ranger het ek ’n kort draaiboek met die titel Horn geskryf oor die gruwels van renosterstropery. Toe my broer David met die draaiboek vir The Last Ranger by my aankom, het dit gevoel asof ’n storie waaroor ek al jare gedink het, my uiteindelik bereik.

Die film is fiksie, maar dit is gegrond op die ware verhaal van Thandi die renoster. Hoe het julle die balans gekry tussen ’n fiktiewe verhaal en dokumentêre akkuraatheid?

Vir my spruit daardie balans uit twee dinge: bedoeling en respek. The Last Ranger is losweg gebaseer op die ware verhaal van Thandi, ’n renoster wat in 2012 saam met twee ander gestroop is. Sy was die enigste een wat oorleef het. Haar storie was ons emosionele anker – ’n werklike geval van ’n oorlewende wat deursettingsvermoë simboliseer. Ons het nou saamgewerk met dr. William Fowlds, die veearts wat Thandi se lewe gered het, en wat oorspronklik my broer geïnspireer het om die film te skryf.

Hoewel die storie fiktief is, was ons daarop bedag om die waarheid te respekteer. Ons maak dit duidelik dat dit geïnspireer is deur ’n ware verhaal, dat dit nie ’n dokumentêr is nie, en dit gee vir ons kreatiewe vryheid.

Ons hoofdoel was om bewustheid te skep oor renosterstropery en die verwoestende impak daarvan op ons dierelewe, op toerisme en op Suid-Afrika as geheel. Thandi se verhaal was vir ons ’n rigtingwyser, en ons het getrou gebly aan haar waarheid. Selfs die statistiek aan die einde van die film is 100% akkuraat. Ons het dus op ’n ware, hartverskeurende fondament gebou en dit verwerk in ’n emosionele, fiktiewe, mooi verhaal, maar met eerlikheid aan die kern van alles. Dít is hoe ons balans kon kry.

The Last Ranger is vanjaar vir ’n Oscar benoem. Watter faktore het daartoe gelei dat hierdie spesifieke storie internasionaal aandag getrek het?

Ek dink nie internasionale gehore het al ooit iets soos The Last Ranger gesien nie. Die landskap, die taal, die toneelspel, die tema – dis alles uniek, en dit kon net uit Suid-Afrika gekom het. Dit is ook op die wrede werklikheid gegrond en dit is emosioneel aangrypend. Baie kykers was diep geskok oor die statistiek aan die einde. Hulle het geen idee gehad hoe verskriklik die situasie werklik is nie.

Al is die film fiktief, is die boodskap wat dit uitdra sterk en indringend. Dit eindig ook op ’n hoopvolle noot, wat dit nog groter impak gee. Daar is iets kragtigs aan ’n storie wat jou na ’n baie moeilike plek binne jouself vat, en jou dan op ’n sensitiewe manier herinner dat verandering steeds moontlik is. Thandi het oorleef. Sy het ses kleintjies. ’n Nuwe veldwagter is gebore. ’n Jong meisie het haar lewenstaak ontdek. Die aflosstokkie word aan die volgende generasie aangegee. Daardie sin van nalatenskap en vooruitgang, glo ek, is iets waaraan gehore ’n behoefte het.

Ons lewe in ’n tyd van wêreldwye trauma en verlies. En hoewel The Last Ranger emosioneel uitdagend is, bring dit ook hoop. Dit sê: “Ja, die wêreld is verwond, maar mense gee steeds om, hulle skop teë, en hulle gee nie boedel oor oor die toekoms nie.” Hierdie storie het op presies die regte tyd met die regte boodskap gekom toe mense dit die nodigste gehad het.

Watter nalatenskap hoop jy sal die film hê?

Dit lê ons almal ongelooflik na aan die hart. Ons het nie The Last Ranger gemaak om ’n Oscar te wen nie – ons het dit geskep om ’n verskil te maak. Dít was van die begin af ons bedoeling. Nou dat die film in die wêreld vrygestel is, probeer ons seker maak dit bereik die mense wat dit die nodigste het. Ons wys dit in skole en wil dit graag in die kurrikulum ingesluit sien. Ons wil hê jongmense moet dit sien, gemeenskappe moet dit ervaar, en die mense wat in wildreservate werk moet dit ook sien – want húlle bepaal wat in die toekoms gaan gebeur. Die prent word reeds ingespan om op te voed, mense tot aksie aan te spoor en gesprekke aan die gang te sit. Dít is presies wat ons gehoop het sou gebeur.

Ja, The Last Ranger handel oor ’n hartverskeurende kwessie wat dringend noodsaaklik is. Maar dit was nog altyd vir ons belangrik dat dit gehore vervul met ’n gevoel dat beter moontlikhede steeds bestaan. Litha, ons jong hoofkarakter, is nie net ’n toeskouer nie – sy vind haar roeping. Sy stap in iets groter as haarself in. En ek hoop dit laat jong kykers voel hulle kan óók, dat hulle ook ’n rol het om te speel. As hierdie film selfs net een jong mens nader laat voel aan die natuur, en hulle laat glo dat hulle ’n bydrae tot beskerming kan lewer, dan het dit sy doel bereik.

Wat is jou indrukke van die impak wat die film reeds op gehore maak?

Met The Last Ranger het ons die invloed wat stories kan hê, eerstehands aanskou. Mense wat normaalweg nooit ’n dokumentêr oor die wildlewe sou kyk nie, was diep geraak en het begin praat oor renosterbewaring. En dit is omdat dit nie net ’n storie oor diere is nie; dit gaan ook oor mense. Dís vir my waar verandering begin: deur die dinge wat ons aan mekaar bind. Om ’n storie te vertel wat mense emosioneel raak terwyl dit die kollig laat val op iets dwingend noodsaaklik – dis die soort werk wat ek nog altyd gehoop het om te skep.