Shotgun-kortfilm: Baas se honne

Met ’n klankbaan deur Peach van Pletzen en ’n rolverdeling wat skermgunstelinge soos James Borthwick en Albert Pretorius insluit, skep die draaiboekskrywer, regisseur en mede-vervaardiger van Baas se honne, Bennie Fourie, ’n donker komedie wat diepte uit die verspotte myn. Die storie draai om Gys (Pretorius), wie se morsige lewe hom in ’n besonder donker hoekie laat beland. Sy baas, Roelf (Carel Nel), moet sorg vir, en skoonmaak agter ’n hondjie wat hy uitdruklik nie wou hê nie. Nou dwing hy vir Gys om sy vuilwerk te doen en vir Buksie van kant te maak – dis óf sy werk óf die woef. Gys moet vinnig ’n plan maak …

Bennie vertel meer oor dié donker komedie.

Waar kom die idee vir Baas se honne vandaan?

Ek kan nie te veel name noem nie! Maar iemand wat ek goed ken is in die posisie geplaas waar hy sy baas se honde moes laat uitsit. Die baas wou nie gehad het sy vrou en kinders moes weet nie, want sy vrou het die honde teen sy sin gekry, en toe moes hy nou maak asof die honde weggeraak het. Maar dít was net die wegspringplek vir dié storie. Dit was vir my net so ’n absurde gedagte dat iemand só iets kan vra en verwag dat dit gedoen moet word. En toe het ek begin dink aan wat alles kan skeefloop.

As ’n donker komedie is Baas se honne baie anders as jou vorige werk. Hoekom het jy op dié aanslag besluit?

Ek is baie lief vir donker stories en ek word gelok na stories waar mense in moeilike situasies is, wat donkerder uitspeel as wat mense verwag. Ek is gewoond aan komedie, maar ek is baie afhanklik van dialoog-komedie en met Hotel, Taktiek en Vuil wasgoed het ek baie gesteun op grappies in die dialoog. Maar ek wou myself uitdaag om ’n fliek te maak wat nie eintlik op die dialoog van die komedie fokus nie, eerder op wat gebeur. Ek wou só kyk of ek ’n bietjie ernstiger komedie kan doen, soos die Coen-broers baie goed reggekry het met Fargo en daai klas van storie. Ek wou nie komedie ondermyn deur hoofsaaklik op dialoog staat te maak nie.

Die rol van Gys is so spesifiek – het jy dié karakter met Albert Pretorius in gedagte geskryf?

Ek het heeltyd met Albert in gedagte geskryf, definitief. Albert was nog altyd vir my briljant, maar ek het nog nooit kans gehad om langer as ’n dag, toe ons saam ’n advertensie geskiet het, met hom te werk nie. Ons het deur die jare goeie vriende in die bedryf geraak en ek is gaande oor sy werk. Hy is boonop ’n akteur wat baie variasies in sy vertolkings bied, so ek het geweet dit gaan ongelooflik wees om hom los te laat op ’n storielyn soos hierdie, en net te kyk hoe hy reageer en doen wat hy wil.

Ek moes hard baklei vir hom, want hy was tussen ’n hele paar projekte gewees, maar ek het hom vir ’n bier gevat en gesê: ‘Luister, ek kan nie iemand anders in hierdie ding sien nie. En ek wil nie.’ Maar dít was nie eens die grootste issue nie! Die grootste issue was dat hy allergies vir honde is. En ek het vir hom gesê: ‘Dit is nie vir my ’n probleem nie, inteendeel, dit is vir my ’n geleentheid.’ En toe skryf ek die allergie ook in. Sy vrees was dat hy gaan uitslaan en die produksie onder druk plaas, maar ons het streng voorsorgmaatreëls getref. Ons het byvoorbeeld ’n hipoallergeen-hond gekies, Albert het handskoene gedra, en ons moes hom slim boks dat hy nie heeltyd die hond vashou nie.

Die klanklandskap herinner baie aan die 2014-fliek met Michael Keaton, Birdman – hoe het jy en Peach van Pletzen te werk gegaan met die klankbaan?

Ek was mal oor Birdman, asook ’n paar ander flieks wat ook nie melodie in die klanklandskap gebruik nie. Ritme het ’n ander effek op jou. Ritme gee spanning en angs, waar melodie vir jou partykeer kan voorskryf hoe om te voel, en ek is nie mal daaroor nie; veral nie vir hierdie projek nie. So, die brief aan Peach was dat, ja, Birdman se klankbaan is waarvan ek hou, en ek het daarna geluister terwyl ek geskryf het, maar ek wil nie hê ons moet dit na-aap nie. Dit moet ons eie weergawe wees. En ek voel wat ons uiteindelik by uitgekom het, is nogal sterk. Dis vir my baie lekker.

Wat het jy as ’n gevestigde storieverteller uit die proses geleer?

Ongeag wat jy al gedoen het en hoeveel keer jy dit al gedoen het – jy gaan altyd beperkinge hê. En ek dink ek het net weer geleer dat ja, ek gaan dinge moet opoffer, maar wat is die beste kompromie wat ek kan maak? Hoe goed kan jy ’n ding maak met dit wat jy het?

Ons het nie baie tyd gehad vir skiet nie, maar die kompromis was dat ek drie maande gehad het om pre-produksie te doen. So ek kon die hele ding uitteken, ek het ’n shot list gemaak, presies wat nodig was om die storie te bou, maar steeds oop genoeg vir veranderinge op die dag. Ek het rêrig hier geleer om te gebruik wat jy het. Gebruik jou pre-produksie as jy nie op die dag gaan tyd hê nie. Kry die beste verwysings sodat almal op presies dieselfde bladsy is.

Deel van die oplossing is seker om jouself te omring met briljante mense?

Ja, dit was altyd die plan, soos met Jorrie van der Walt, die mede-vervaardiger. Ek en Bouwer Bosch het tien jaar terug Vuil wasgoed vir die Silwerskermfees gemaak en Jorrie het dit destyds vir ons geskiet. Ek en hy wou altyd nog ’n projek saam doen en toe ek hierdie een voorstel, het hy al die stops uitgetrek. Hy het rêrig ongelooflike werk gedoen om die beste mense bymekaar te kry.

Is daar, soos wat met Vuil wasgoed gebeur het, planne om dié korte tot ’n vollengte speelfilm te ontwikkel?

Ons wil iets groter maak van die ding en ons gaan dit inskryf vir al die filmfeeste en ons gaan ’n vollengte draaiboek skryf om dit vorentoe te vat.

Ek het nou al 65 Hotel-episodes gedoen en 13 van Taktiek, maar ek het nog nooit ’n speelfilm regisseer nie. Maar ek wil dit doen wanneer ek die regte projek het; ek wil dit nie doen net om dit te doen nie. Ek voel hierdie is die naaste aan die genre wat ek graag sal wil doen, maar daar moet genoeg geld wees om uit te kom by wat jy beplan het. So dit is die droom.