Silwerskermfees loods vier nuwe treffertitels: Klein paradys, Brasse Vannie Kaap, The Station Strangler en Nêrens, Noord-Kaap

Die kykNET Silwerskermfees is sinoniem met blinknuwe films en die ontwikkeling van die plaaslike rolprentbedryf, maar vanjaar skyn die kollig vir die tweede opeenvolgende jaar ook op televisievermaak.

Loodsepisodes van vier puik nuwe TV-reekse wat kykNET- en Showmax-kykers binnekort in vervoering gaan hê, word by die fees vertoon.

Klein paradys is ’n werklikheidsreeks waar mikro-wooneenhede in vyfster-gasteverblyf omskep moet word. Dié reeks word by Old Mac Daddy in die Elgin-vallei verfilm.

Daar bestaan geen twyfel oor die impak wat Brasse Vannie Kaap op die Suid-Afrikaanse musiekmark gehad het nie. Regisseur en vervaardiger Lauren Scholtz het dieper gaan delf en bring die onvertelde storie na die lig.

Parool vir die man bekend as Die Stasiemoordenaar nadat hy op net een aanklag van moord in plaas van ’n verwagte 22 skuldig bevind is, het weer ou wonde oopgeruk in ’n gemeenskap waar reg en geregtigheid selde seëvier. The Station Strangler bevat indringende onderhoude met familielede van slagoffers, hoofspeurders en die bekende forensiese profielskepper, Micki Pistorius.

 

Nêrens, Noord-Kaap is verfilm in die pragtige Noord-Kaapse dorpie, Nieuwoudtville, asook in en om Kaapstad. Gaan die familie daarin slaag om mekaar weer te vind of gaan die kloof van vervreemding net al hoe groter word?

  1. Klein paradys: Klein spasie, groot idees (kykNET-werklikheidsreeks)

 

Klein paradys handel oor ses dinamiese ontwerp-duo’s wat 30 dae het om hul 21 m2 mikro-wooneenhede in vyfster-gasteverblyf te omskep.

Dié boeiende werklikheidsreeks is by Old Mac Daddy in die Elgin-vallei verfilm met die veelsydige David Enright (Stella Murders, Devilsdorp, Survivor SA: Return of the outcasts) in die regisseurstoel.

David is bekend vir sy passiegedrewe benadering en onverstoorbare betroubaarheid. Sy omvangryke begrip van sielkunde en menslike gedrag stel hom in staat om boeiende vertellings te ontknoop in onder meer werklikheidsreekse en dokumentêre produksies.

Handrie Basson, ’n gesoute uitvoerende vervaardiger, het sy merk gemaak as ’n finansiële verslaggewer by Media24 en hy het later floreer by M-Net met bemarking en publisiteit onder sy wakende oog. In 2006 het hy sy passie vir storievertel nagevolg en die produksiemaatskappy Afrokaans tot stand gebring.

Voorskou: Woensdag, 28 Augustus, 17:00

  1. Brasse Vannie Kaap: Die onvertelde storie (Showmax-dokumentêr)

 

Dit is ’n boeiende en emosionele dokumentêre rolprent oor die ikoniese Suid-Afrikaanse hip-hop-groep Brasse Vannie Kaap (BVK) wat tydens die vroeë jare van die nuwe Suid-Afrika op die musiektoneel ontplof het.

Groeplede en ’n magdom plaaslike bekendes (Early B, Jack Parow en meer), besin oor BVK se merkwaardige loopbaan en hul onmiskenbare impak op die plaaslike musiekbedryf. Die film loer ook agter die skerms na Grandmaster Ready D en DJ Azuhl se aangrypende huldeblykvertoning ter ere van BVK se oorlede frontman, Ashley Titus aka Mr Fat.

Hierdie nostalgiese reis kulmineer in ’n spesiale reünie-optrede wat dié groep se besonderse nalatenskap vier en terugkyk op ’n unieke era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit is gedeeltelik in Kaapstad en Johannesburg verfilm.

Regisseur en vervaardiger Lauren Scholtz is ’n skrywer, aktrise en opkomende onafhanklike rolprentmaker met ’n BA Honneurs in Filmstudies (UK), en sy het meer as 15 jaar ondervinding as ’n vervaardiger van televisie-advertensies.

Lauren het ’n paar jaar gelede van produksie na draaiboekskryf oorgeskakel, en het as ’n storielyner op drie kykNET-telenovelas gewerk: Arendsvlei, Diepe Waters en Skemergrond.

 

Voorskou: Vrydag, 30 Augustus, 17:00

  1. The Station Strangler: The haunting of the Cape Flats (Showmax-dokumentêr)

 

The Station Strangler is ’n dokumentêr wat die feite agter die verdagte reeksmoordenaar met dieselfde bynaam ondersoek. Daar word beweer dat hy 21 jong seuns en een volwassene vanaf die laat 80’s tot middel 90’s vermoor het.

Die moorde het paniek op die Kaapse Vlakte in Suid-Afrika veroorsaak. Terwyl die res van die land besig was om vir die eerste demokratiese verkiesing voor te berei, is veral Mitchells Plain in vrees gedompel met ’n moordenaar wat die gemeenskap in twee geskeur het.

In 2023 is Norman Simons, die man wat verdink word vir die moorde, op parool vrygelaat. Hy is egter net vir een van die moorde skuldig bevind en daarvoor gevonnis. Sy vrylating op parool het vars wonde oopgekrap en woede ontketen in ’n gemeenskap waar geregtigheid te lank reeds ontbreek.

Die film bevat indringende onderhoude met familielede van slagoffers, leidende speurders en die bekende forensiese profielskepper, Micki Pistorius.

Die regisseur, Nadine Cloete, is van Kaapstad. Haar werk fokus op temas van sosiale geregtigheid, geskiedenis en identiteit. Van haar bekendste werke sluit die SAFTA-bekroonde Address Unknown en Action Kommandant, aangewys as die beste dokumentêr by die Encounters internasionale dokumentêre rolprentfees, in. Onder haar onlangse dokumentêre tel The Last Speaker (vir Al Jazeera) en Teater na die mense (vir die Silwerskermfees).

Die dokumentêre film is deur IdeaCandy vervaardig. Dié maatskappy se reis het in 2020 met Devilsdorp afgeskop. Sedertdien onder leiding van Wim Steyn, Clorinda Koert en Elle Oosthuizen het IdeaCandy talle vollengte dokumentêre vervaardig wat unieke en uitdagende Suid-Afrikaanse stories vertel.

Dit sluit in: Devilsdorp (wenner van ’n SAFTA vir die beste dokumentêr in 2022), Steinheist (SANLAM Finansiële Verslaggewer van die Jaar in 2023, ook vir ’n SAFTA benoem in 2023), Stella Murders (2023), Rosemary’s Hitlist (2023), Convict Conman (2023), Tracking Thabo Bester (2024) en School Ties (2024).

Voorskou: Donderdag, 29 Augustus, 20:30.

  1. Nêrens, Noord-Kaap Deel II (kykNET-dramareeks)

 

Na afloop van die wankelrige reis terug na hul ouerplaas, Nêrens, probeer drie broers en hul pa mekaar na jare van vervreemding opnuut leer ken. Maar hoe leer jy liefhê as die dolk van ’n Ma se dood steeds diep in almal se harte draai?

Nêrens, Noord-Kaap is in die pragtige dorpie Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, asook in en om Kaapstad verfilm.

Nico Scheepers is ’n bekroonde skrywer en regisseur van Suid-Afrika. Hy is die skepper van die reeks Nêrens, Noord-Kaap op kykNET en Showmax, wat groot lof ingeoes het. In 2022/2023 is sy riller-reeks Donkerbos (Showmax) gekies vir die 2023 Berlinale Series Market. Donkerbos het sewe SAFTA-benoemings ontvang en Scheepers is as die beste regisseur vir ’n televisiedrama aangewys.

In 2023 het hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Kuns-toekenning vir Donkerbos se draaiboek ontvang.

Die bekroonde Nagvlug Films-produksiemaatskappy fokus op storievertellings wat mense van oral verbind. Hulle streef daarna om karakters, gemeenskappe en ervarings te ontgin wat Suid-Afrika outentiek en met hart uitbeeld.

Die maatskappy neem die leiding met verskeie produksies, waaronder Barakat (2021) wat Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 94ste Oscars was, en Donkerbos (2023) wat die enigste oorspronklike titel uit Afrika was wat deel was van die 16 produksies wat tydens die 2023 Berlinale Selects vertoon is.

Voorskou: Donderdag, 29 Augustus, 17:00