Speelfilm: Die Kwiksilwers 

Kwilsilwer, die vintage Ford Granada in Die Kwiksilwers, is nie sommer enige motor nie. Hy’s soos ’n tydskapsule vir Elsabe Marais (Lida Botha) se herinneringe aan haar oorlede man, wat gereeld saam met haar avonture in dié motor aangepak het.

Saam met drie bejaarde vriendinne onderneem die koppige Elsabe ’n reis deur die Karoo om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef. Die res van die onwaarskynlike viertal is Anna (June van Merch), Elsabe se inmengerige buurvrou; die flambojante Mienkie (Susanne Beyers) en teruggetrokke Katie (Theresa Sedras). Hulle moet binne drie dae by Sutherland uitkom terwyl hulle Elsabe se oorbeskermende seun Wikus (Jacques Bessenger) probeer ontduik.

Draaiboekskrywers Jordy Sank, Gabriella Blumberg en Marista van Eeden wys met dié film dat die ouderdom g’n rede is om te gaan lê nie.

Jordy het oor Die Kwiksilwers gesels.

Hoe het die storie van Die Kwiksilwers ontstaan?

Ouer mense inspireer my nog altyd. Toe ek die dokumentêr I am here gemaak het, het ek noue kontak gehad met ’n amper 100-jarige oorlewende van die Holocaust. Dit klink dalk vreemd, maar dié bejaarde vrou, Ella Blumenthal, het my as jong man ingespuit met nuwe lewenslus!

Twee jaar gelede het Sanktuary Films Leemtes & leegheid (A Void) vir die Silwerskermfees gemaak. Dis ’n kortfliek oor ’n vrou wie se man sterf. Ons het toe vir die eerste keer saam met Lida Botha gewerk en dit was soveel pret, ons wou nog ’n projek saam met haar skep.

Na aanleiding van Leemtes & leegheid en die manier waarop ons verlies en rou daarin ondersoek het, kyk Die Kwiksilwers ook na verlies, maar uit ’n meer komiese hoek. Die fliek wys ook jy is nooit te oud om te lééf nie; óf om nuwe lewenslus te kry nie.

Jy het saam met ’n paar legendariese aktrises gewerk vir dié projek. Vertel asb. van dié ervaring.

Lida Botha is in haar laat tagtigs, maar sy was die mees energieke persoon op stel! Al die vroue, ook June, Susanne en Nadine, het soveel bygedra tot die drama én die komedie. Ons het hulle baie laat ad lib en hulle het heen en weer geïmproviseer. Dit is waar baie van die fliek se humor vandaan kom.

Die aktrises het vir soveel van die fliek se persoonlikheid en vreugde gesorg en gewys mens is nooit te oud om iets nuuts te leer en nuwe ervarings te hê nie.

Die vier vrouekarakters ervaar almal ook heelwat persoonlike groei in die storielyn, nie waar nie?

Vir Elsabe (Botha) gaan dit oor groei en vriendskap. Anna (Van Merch), die hoof ‘frenemy’, leer om haar vriende toe te laat om hul eie lewens te leef en minder van ’n beheervraat te wees. Mienkie (Beyers) met haar vrye gees, leer om ander mense meer in ag te neem. Katie (Sedras) se karakter, wat eintlik die mees gereserveerde een van hulle is, leer om te laat gaan en so bietjie te leef …

Dis nou al jou en Sanktuary Films se derde projek vir die Silwerskermfees. Wat trek jou, as Engelse regisseur, tot Afrikaanse stories en karakters aan?

Ons het Leemtes & leegheid en Volle bors vir die Silwerskermfees gedoen en die verhoudings wat ons gebou het danksy dié projekte, het organies gegroei.

Dis snaaks, want op skool was Afrikaans nie juis my sterkpunt nie. Maar deur dié kortflieks, en nou die vollengte rolprent in Afrikaans te doen, het ek ’n liefde vir die taal ontwikkel. Terwyl ons die onderskrifte geskryf het, het ek gevind mens kan net nie die gevoel so goed in Engels vasvang soos in Afrikaans nie. Ek is mal oor die taal!

Marista van Eeden is ’n baie belangrike stuk van die legkaart, want terwyl ek nie Afrikaanssprekend is nie en ook nie die kultuur intiem ken nie, kon Marista nuanse en diepte byvoeg tot die draaiboek op ’n manier wat ek nie sou kon nie.

Maar ongeag ons taal en kultuur, moet ons almal die dood en verlies hanteer. En vriendskap is universeel.

Hoe het julle die tema van die verlies van ’n lewensmaat komies gemaak, sonder om die diepte en erns te verloor?

Dit was ’n stilistiese besluit met die skryfproses en iets waarvan ons dus baie bewus was. Dit is die tipe flieks wat ons by Sanktuary Films maak. Dit kom neer op die aktrises wat so beeldskoon op daardie fyn lyn tussen komedie en klug gebalanseer het. Hulle het dit so goed gedra en dit in die proses maklik gemaak vir ons.

Watter ander rolspelers wat by die fliek betrokke was, wil jy uitsonder?

Gabriella Blumberg is my vennoot by Sanktuary Films en ook mede-draaiboekskrywer. Sy was ook die vervaardiger, en sonder haar en ons lynvervaardiger Annemarie du Plessis se goeie beplanning sou dié fliek nie gemaak kon word nie.

Gavin Pincus, die kinematograaf, het ’n manier om die komedie uit te bring in sy skote en rame. En dít speel ’n kardinale rol in die fliek.

Die klankbaan deur Edward George King is nog ’n belangrike bestanddeel van die fliek. Dis het hart en verseker dat die komedie net reg oorkom. Dit het ’n parmantigheid en ’n Karoo-geur.

Esther Badenhorst, ons redigeerder, het vroeg by die projek betrokke geraak en het hart en siel daarin geploeg om seker te maak elke snit is perfek.

Hoe sien jy die rol van die Silwerskermfees om Suid-Afrikaanse stories te vertel?

Ek dink dit is een van die belangrikste filmfeeste in Suid-Afrika omdat dit vir jong filmmakers die geleentheid gee om hul stem te laat hoor, meer as enige ander bemarkingsplatform op die kontinent.

Dit gee my die geleentheid om flieks te skep wat nie andersins gemaak sou kon word nie. Ek is baie dankbaar vir die platform om al hierdie interessante verhale te kan oordra.