Speelfilm: Gebokste liefde

In Gebokste liefde sorg die liefde vir ’n onverwagse uitklophou. Dié romantiese komedie is geskryf deur Zoë Laband, en Annelize Frost was in die regisseurstoel.

Tarryn Wyngaard speel die rol van Suma-Lee, ’n geskeide enkelma wat haar werk as modeontwerper verloor. Boonop staan haar glibberige eks, Dries (Roche Kilian) op trou met ’n model, Katinka (Emma van Heyn). Suma-Lee begin teësinnig bokslesse neem om van haar frustrasies ontslae te raak en val halsoorkop vir haar afrigter, Clive (Jandre le Roux). Maar sy lewe is net so morsig soos hare, en sy eksvrou, Cheryl (Megan Oberholzer), is die kluts kwyt. Hulle moet besluit: vlug of veg vir die liefde.

Zoë en Annelize vertel ons meer oor Gebokste liefde.

Zoë, wat het jou geïnspireer om Gebokste liefde te skryf?

Ek is mal oor hoe ’n goeie romantiese komedie jou laat voel – geïnspireerd en entoesiasties oor die liefde en oor die potensiaal wat dit vir jou eie lewe inhou.

Ek het gevoel dié van ons bo 30 het ’n storie nodig oor hoe om nog ’n kans met hierdie verhouding-ding te kry. Ons het dalk gedink ons kry ’n ‘lank en gelukkig’ saam, maar voor ons ons oë uitvee, het die lewe sy loop geneem en hoop ons op ’n tweede kans.

Dié spesifieke storie is geïnspireer deur ’n geskeide vriendin wat met ’n middeljarige liggaamsbouer begin uitgaan het. Hulle het regtig niks in gemeen gehad nie, maar hy het haar bekendgestel aan allerlei goed wat sy nie normaalweg sou doen nie, soos kanovaart, en dit het regtig verrassende moontlikhede in haar lewe ontsluit.

Waarom geniet jy dit as Engelse skrywer om Afrikaanse karakters vir Afrikaanse gehore te skep?

Ek is lief daarvoor om Afrikaanse reekse en flieks te skryf omdat dit my geweldige kreatiewe vryheid gee. Maar moenie ’n fout maak nie, ek werk saam met ongelooflike vertalers, want ek is nie tweetalig nie.

My eerste Afrikaanse projek was Hartklop, die mediese drama op kykNET, wat ek geskep het en waarvoor ek die hoofskrywer was. Dit was die meeste pret wat ek nog met my skryfwerk gehad het.

Ek is mal daaroor om Afrikaanse karakters te skep en in kombinasie met ongelooflike Afrikaanse akteurs wat dié karakters laat leef, was dit regtig ’n plesier om aan hierdie fliek te werk.

Annelize, waarom voel jy mense behoort dié fliek te sien?

Zoë se draaiboek was baie oorspronklik met oulike karakters en ’n storielyn met ’n balans tussen humor, drama en hart. Ek het ’n persoonlike verbintenis tot Suma-Lee se veggees gehad, want ek het self in my dertigs begin boks om oor ’n gebroke hart te kom.

Ek dink enige vrou, jonk of oud, kan met die vroulike karakters vereenselwig. Ons is iemand se beste vriendin; ons is loopbaangedrewe ma’s met drome, terwyl ons sukkel met die werk-lewe-balans en ’n onredelike baas. Ons wás al die eks én ons val vir die verkeerde ou in een of ander stadium en doen soms ’n gebroke hart op.

Zoë, Gebokste liefde verteenwoordig allerlei verskillende vroue en verhoudings tussen vroue. Dit wys ook almal verdien ’n tweede kans. Vertel ons meer van dié aspekte van die fliek?

As vrou is ek verby die punt waar ek dink ’n romantiese verhouding is die hoofdoel van ons lewe, en ek wou hê dié fliek moet dit weerspieël. Nie net raak Suma-Lee verlief op ’n man wat haar werklik liefhet, respekteer en bewonder vir wie sy is nie, ek dink die belangrikste ding is dat sy lief word vir haarself.

’n Deel daarvan is om betekenisvolle en vervullende verhoudings met ander vroue te hê. Vriendskap is geweldig belangrik en ek dink dit is iets wat nie genoeg op televisie en in flieks verteenwoordig word nie.

Tarryn Wyngaard het daai ‘iets’ wat ’n leading lady benodig om hierdie tipe fliek te laat slaag. Vertel asseblief oor haar as aktrise, hoe sy Suma-Lee haar eie gemaak het en hoe dit is om saam met haar te werk.

Annelize: Dit is Tarryn se eerste romantiese fliek. Sy is ’n vurige, lewenslustige mens en ’n indrukwekkende aktrise.

Haar voorbereiding en toewyding was ongelooflik. Sy moes in ’n baie kort tydjie leer om te boks en ons het sterk gevoel dat haar en Jandre se bokstonele geloofwaardig moes wees. Sy het ure lank geoefen saam met ’n boksafrigter.

Sy was vir al agtien skietdae in elke toneel, en ons moes vinnig werk. Ons kon ook nie tonele opeenvolgend skiet nie, so Tarryn moes baie rondspring in haar karakterontwikkeling: van modeontwerper tot amateur-bokser, van onfiks tot met ’n six pack! Sy was elke dag sprankelend en toegewyd en dit het haar net ’n paar sekondes geneem om te verstaan wat ek van ’n toneel wou hê.

Tarryn en Jandre het ’n fantastiese energie tussen hulle – het jy van die begin af geweet dís jou hoofspelers?

Annelize: Toe Tarryn en Jandre in vlees bymekaarkom as Suma-Lee en Clive, het al die stukke van die legkaart in mekaar gepas.

’n Mens kan nie help om dadelik van Jandre te hou nie; hy is snaaks en ’n gentleman wat sy hart op sy mou dra. Tarryn is pragtig en uitsonderlik, en laat haarself dadelik geld in ’n gesprek. Die energie tussen die twee was natuurlik. Hulle het ook dadelik die karakters verstaan.

Zoë, hoe voel dit om te sien hoe dié twee akteurs jou karakters laat lewe?

Dit was ongelooflik om te ervaar. Ek kon dit nie gelukkiger tref met die rolverdeling nie. Ek wou ’n gróót kontras tussen hulle sien – hulle kom van totaal verskillende wêrelde en ek dink ons het dit visueel definitief reggekry.

Jandre is so groot en lank en Tarryn is petite. Hulle is so ’n onwaarskynlike paartjie, maar wanneer jy hulle saam sien, maak dit heeltemal sin. Ek dink dit was ’n gelukskoot.

Die klankbaan dra by tot die storievertelling – hoe het julle daarop besluit?

Zoë: Na my mening gaan musiek en romantiese komedies hand aan hand. Die klankbaan word deel van die storie, en ons wou dieselfde bereik met dié fliek. Ek wou ’n baie plaaslike en ligging-spesifieke klankbaan hê wat sê: ‘Kaapstad 2024’. Die musiek gee ’n plaaslike, rou energie aan die rolprent.

Annelize: Helmut Meijer het die boksgeveg-temalied en die klankbaan gekomponeer en ons het Suid-Afrikaanse musiektalent genader vir die kommersiële musiek. ‘Bokser’ deur Spoegwolf en ‘Smoorverlief’ van Riku Lätti was van my gunstelinge.