Speelfilm: Hen

Hen, ’n nuwe film uit die pen van skrywer en regisseur Nico Scheepers, is ’n kykervaring wat lank ná die eindkrediete klaar gerol het, steeds by kykers sal spook. Wanneer Dawid (Stian Bam) in die veld op ’n familietragedie afkom, maak hy ’n skokkende ontdekking in ’n houtkrat. Wat volg is donker, vreemd en gevul met onsekerheid.

Nico vertel oor die simboliek van hoenders in dié film, die rol van stilte, en hoe geloof in afsondering begin vorm aanneem op maniere wat beide eerlik en ontstellend is.

Hen is heeltemal in swart en wit verfilm, iets wat ons glad nie in moderne Afrikaanse rolprente sien nie. Buiten die visuele trefkrag, maak die afwesigheid van kleur sekere tonele selfs meer ontstellend. Hoe wou jy hê moes hierdie visuele styl die kyker se emosionele ervaring beïnvloed?

Ons het baie vroeg besluit om Hen in swart en wit te verfilm. Kleur sou te veel verduidelik, te veel versag. Weg is die warm rooi van bloed of sonlig wat die veld mooi maak. Jy’t bloot tekstuur, beweging en stilte. Dit dwing ’n mens om nader te kyk. Die slagtoneel byvoorbeeld: jy is veel meer ingestel op die klanke, die handelinge, die ritueel daarvan. En juis die afwesigheid van kleur laat jou verbeelding harder werk. Dit maak die toneel amper meer ontstellend, want wat jy nie sien nie, spook harder. Ons wou hê die visuele styl moes ’n sekere nugterheid, selfs heiligheid, aan die wêreld gee, asof jy na iets kyk wat lankal verby is, soos ’n droom of ’n herinnering wat jy nie kan losskud nie.

In Hen hoor ons die eerste woorde eers ná 18 minute. Dié uitgerekte stilte skep ’n gevoel van spanning, heiligheid en selfs onheil. Wat het jou daartoe gelei om taal só lank terug te hou, en watter rol speel stilte vir jou in die film se emosionele en psigologiese landskap?

Ek dink stilte is ’n wapen om in te span in ’n film soos hierdie. Daar is spanning in stilte. Afwagting. Vrede. Onheil. Die film was ’n poging om die tekstuur van die klank, die visuele, te gebruik om die storie te vertel, veel eerder as dialoog. Ek vind die stilte van isolasie veel meer vreesaanjaend as ’n jump scare. Daar is ’n groot verskil tussen ’n goedkoop fisiologiese skrik, en iets wat stadig soos ’n maaier in jou kop in boor.

Hoe het jy die teenwoordigheid van godsdiens benader in Hen, en wat wou jy ondersoek oor die invloed daarvan op hierdie gesin se werklikheid?

Geloof in Hen is nie net ’n tematiese draad nie, maar ’n kragveld. Iets wat al generasies lank op die Afrikaner-psige inwerk. In ons kultuur het godsdiens nie net as geestelike anker gefunksioneer nie, maar ook as sosiale struktureerder: dit het bepaal wat goed en sleg is, wat gesond is en wat sonde is. Maar in Hen het daardie strukture begin verbrokkel. Wat oorbly, is ’n afgesnyde gesin wat probeer vashou aan enigiets wat betekenis kan gee, al is dit gebroke, deurmekaar, of uit plek uit.

Die feit dat ons ’n Afrikaanse man sien bid voor ’n Katolieke kruisbeeld is juis deel van daardie verbrokkeling. Dit is nie presies Protestants of Katoliek nie, maar iets sinkreties, rou, selfs primitief. ’n Geloof wat ditself opnuut in afsondering vind. Dit wys hoe geloof in ’n afgeleë, post-apokaliptiese wêreld nie meer aan kerklike dogma gebonde is nie, maar aan die behoefte aan sin, beskerming en vergifnis.

Ek wou wys hoe mense in isolasie ’n eie liturgie begin bou. ’n Kruismengsel van herinneringe, oorlewering, skuld en hoop. Hulle hou vas aan die kratte en kruise van die verlede, nie omdat dit nog vir hulle volkome sin maak nie, maar omdat hulle niks anders het nie. Dié geloof is nie net ’n struktuur nie, dit is ’n laaste stut. En dit bring heling, sowel as skade.

Hen begin as ’n eenvoudige reddingsverhaal en verander stadig in iets dierlik en mities. Hoe het jy daardie toonverandering gestruktureer, en watter reaksie wou jy by die gehoor ontlok?

Die film volg nie ’n tradisionele (Hollywood-)struktuur nie, en die konflik ontstaan eerder uit die geleidelike afbreek van die gehoor se verwagtinge. Ek wou iets maak wat soos een lang stuk doringdraad al stywer span, totdat dit uiteindelik knak en dalk nie al die antwoorde gee wat mens verwag nie. Die verskuiwing van geestelik na primitief is vir my onafskeidbaar van die alledaagse menslike bestaan. Aan die binnekant is ons almal diere. Ons dink, eet, het lief en vernietig omdat dit eenvoudig in ons aard is. Hen wys wat gebeur wanneer al die wagte by die poorte verdwyn.

Die hoenders in Hen is meer as net agtergrond. Wat het jou daartoe gelei om juis die hen as sentrale beeld en titel te kies, en hoe ontwikkel daardie simboliek deur die verloop van die film?

Ek het op ’n plaas grootgeword, en wou die onderhandeling tussen lewe en dood op ’n plaaswerf aanspreek. Ek is van kleins af geleer om te moor, want ons moes eet. Ek het nie trauma hieroor nie, en geniet tot vandag toe vleis in al sy vorme. Dit is biltong se skuld dat ek nooit ’n vegetariër sal kan wees nie. Maar hierdie kontrak met oorlewing, en hoe maklik dit is om die sneller te trek … ’n lem oor ’n dier se keel … hoe mens met vet om die bek lag met ’n vol maag, blind vir die dood wat jou hande kan bring omdat jy gevoer is … Ek vind dít fassinerend. Ek het toe uiteindelik op hoenders besluit oor die inherente simbole van eiers en geboorte, van kloue, vere, moeders en kinders, om só moeiteloos parallelle te skep in hierdie wiel van plaaslewe.