



Speelfilm: Khaki Fever
Met die gewaagde komedie Khaki Fever, wat vanjaar by die Silwerskermfees première, is daar geen pretensies oor presies wat die film wil wees nie: vermaak uit die boonste rakke. Só sê die SAFTA-bekroonde filmmaker Brett Michael Innes. Hierdie regisseur, wat bekend is vir aangrypende dramatiese flieks soos Fiela se kind en Sink, betree nou die veld van komedie saam met sy man, Nick Ahlers, wat saam met hom die draaiboek geskryf het.
Khaki Fever is oor 18 dae verfilm met die akteurs meestal in die kortste kortbroeke denkbaar. Dit handel oor ’n groep wildbewaarders wat meeding om te kyk wie die meeste toeriste tydens die seisoen in die kooi kan kry. Natuurlik loop dinge skeef …
Brett vertel meer oor die film:
Wat het Khaki Fever geïnspireer?
My man, Nick, wat saam met my geskryf het, is mal oor die bosveld. Elke keer as ons saam met familie vakansie hou, is dit in ’n wildreservaat. Ons maak dan grappies oor “kakiekoors” wanneer ons die wildbewaarders in hul kort “boere-kini’s” sien. Dis daardie geval van “O gaats, ek ly aan kakiekoors!”
Ons het met verskeie wildbewaarders en mense in die bedryf daaroor gesels – dis nie juis formele navorsing nie, maar ons het na al die stories geluister. En elke keer as ons wildbewaarders van die film vertel, is hulle reaksie: “Julle slaan die spyker op die kop!”
Hoe was dit om saam met Nick te skryf? Hoe balanseer julle die werk en die huwelik?
Wel, ons is steeds getroud en het mekaar nog nie nekomgedraai nie! Nick is ’n omgewingskonsultant, maar hy het die filmbedryf goed leer ken met al my rolprente en TV-projekte sedert Fiela se kind. So, hy het teen wil en dank, sedert ons begin uitgaan het, ’n redelik omvattende filmopvoeding agter die blad.
Ons het saam met idees gespeel en toe het ons holderstebolder begin saamwerk. Nadat ons die plot uitgewerk het, het ek hom aangemoedig om die eerste bedryf te skryf. Hy was goed daarmee en het toe die hele storie voltooi, waarna ek die draaiboekweergawe aangepak het. Ons het ’n manier uitgepluis om saam te werk, en ons is al klaar besig met ons tweede projek.
Die dialoog het ’n vinnige pas en kom baie natuurlik oor. Is dit alles net so uit die draaiboek, of was daar improvisasie?
Gewoonlik hou ek as regisseur die leisels styf vas, maar met Khaki Fever wou ons ’n storie skep met baie ruimte vir improvisasie. Ons wou ’n draaiboek skryf met ’n kompakte storielyn en trefreëls wat in Afrikaans werk.
Maar met ’n Engelsman en ’n Amerikaner wat ’n boerekomedie skryf, het ons geweet die dialoog moet uit die akteurs se monde kom. Die spelers is vooraf ingelig dat daar baie improvisasie op stel sou wees.
Soos met Bridesmaids, het hulle verskeie weergawes van tonele gespeel. Dit was vir ons belangrik dat die akteurs verskillende idees kon uittoets en vryelik kon eksperimenteer. Só kon ons iets spesiaal te skep. Mens moet net bereid wees om die weerlig te vang wanneer dit slaan.
Hierdie film is baie anders as jou ander werk, ook as dié waarby jy betrokke is by vanjaar se Silwerskermfees – The Heart is a Muscle en My f*k, Marelize! Het jy dit anders benader omdat dit komedie is?
Ek is ’n aanhanger van verskillende genres, so ek is nie ’n drama-snob wat op rillers of komedie neersien nie. Vir my gaan dit daaroor dat, as ek ’n aanhanger van ’n genre is, dit ook beteken ek die reëls of verwagtinge van daardie genre ken en weet hoe om dit toe te pas. Ek het myself nog altyd beskou as ’n tipe “prestige”-regisseur wat gedink het komedie is nie regtig my terrein nie, al is ek mal oor die genre.
Maar my siening het ná my eerste komedie, Daryn’s Gym, verander. Ek het Khaki Fever soos ’n drama hanteer as dit by die karakteruitbeelding kom. As jy na die film kyk, sal jy sien daar is tonele met treffende dramatiese spel deur die akteurs.
Die rolverdeling lyk uitstekend. Vertel asseblief van die oudisieproses.
Dit was eerlikwaar een van die moeilikste dinge om die rolle toe te ken. Dis hoekom ons van Christa Schamberger gebruik gemaak het – sy is een van die beste in die land. Maar ons het die film se uiteensetting oral uitgestuur en was van die begin af eerlik oor die inhoud. Ons het nie enigiemand probeer mislei nie. Ons het dit baie duidelik gemaak watter soort film dit is, en dat daar intimiteitskoördinering en heelwat naaktheid op stel sou wees.
Vir sommige akteurs was dit hul eerste keer in ’n film van hierdie aard, soos Sean Brebnor. En dan sien mens ook vir Liam Bosman, so sjarmant en snaaks, in ’n heeltemal nuwe lig. Hy en Francois Jacobs het die snaaksste improvisasiespel gelewer.
En selfs Trix Vivier – niemand verwag om Trix in ’n film soos te sien nie. Ek dink sy het groot geloofwaardigheid aan haar karakter gebring, en sy was mal daaroor! Elke keer as ons dit saam kyk, sê sy net: “Wat de hel, dis gek!” En Ilse Klink is ongelooflik! Sy het haarself oortref. Sy is briljant.
Die moeilikste deel vir my as regisseur was wanneer hulle al die akteurs bymekaar was, want hulle het so goed met mekaar oor die weg gekom. Hulle het mekaar aangehits en dan sommer snaakser geword as wat die karakters eintlik moes wees, so ek moes hulle gereeld terugbring na wie hul karakters werklik is.
’n Belangrike aspek van die rolverdeling is om lekker mense te kies sonder opgeblase ego’s. Die akteurs het selfs op hulle afdae kom kuier op stel – dis die soort atmosfeer wat geheers het.
Hoe dink jy gaan gehore op Khaki Fever reageer?
Ek dink mense gaan óf mal daaroor wees, óf glad nie. En dis vir my goed! Die humor is nie noodwendig almal se koppie tee nie, en ek sien uit daarna om mense se reaksies waar te neem. Dit is die soort prent vir mense wat hou van stout komedie met ’n hart – en hulle sal binne die eerste 30 sekondes weet of dit in hulle smaak val of nie.
Ek maak gewoonlik goed wat ernstige sosiale kommentaar lewer, maar mense het deesdae min kapasiteit vir swaar temas. As kykers lag en voel hulle het saam met vriende gekuier, is dit vir my soos ’n geskenk.
En daardie broekies?
Hulle is van Boerboel, maar ons kostuumontwerper, Lori Myburgh, het hulle nóg korter gemaak. Tot op die punt dat, as sy dit verder korter moes maak, die broeksakke onder sou uitsteek.