Speelfilm: The Heart is a Muscle

The Heart is a Muscle fokus op Ryan, ’n jong pa wie se seun tydens ’n verjaarsdagviering vermis raak. Wat volg, is méér as net ’n soektog na ’n kind – dit word ’n onderhandeling  met die geskiedenis en die begrip van manlikheid, asook die spoke wat ons onwetend met ons saamdra.

Regisseur en skrywer Imran Hamdulay vertel meer oor hoe hy sy debuutspeelfilm tot lewe gebring het:

Die titel The Heart is a Muscle suggereer beide emosionele geheue en fisieke uithouvermoë. Dink jy die hart in hierdie verhaal is iets wat onthou – wat geërfde pyn dra – of bloot ’n spier wat aanhou klop en fokus op oorlewing?

Ek glo albei interpretasies is waar. Die storie leef in ’n ruimte tussen teenoorgestelde pole: tussen die emosionele en die fisieke, tussen geheue en vooruitgang, tussen broosheid en uithouvermoë. In families en gemeenskappe soos myne is daar wonde wat agtergelaat is deur geskiedenis, deur tyd, deur apartheid en deur oorgeërfde stilswye. Die liggaam is eintlik die mens se laaste oorblywende argief.

Die hart, die kern van ons wese, dra alles wat ongesê bly: kwesbaarheid, oorgeërfde skaamte, dinge wat sonder woorde in ons ingeprent is. Daar is ’n soort van onthou in die proses wanneer ons die verlede herbedink, om dinge in heroënskou te neem en dit by die naam te noem.

Die titel het eers laat in die proses na my gekom, toe die rolprent byna voltooi was. Ek moes die film in sy finale vorm sien om werklik te kon verstaan wat dit geword het – vanaf die oorspronklike idee tot die uiteindelike weergawe op die skerm.

Die karakter Ryan is geskryf as ’n liefdevolle maar diep gebroke man. Hoe het jy die kompleksiteite van hedendaagse manlikheid in Suid-Afrika probeer vasvang?

Dikwels praat ons oor manlikheid deur die lens van dominansie, emosionele afstand en brute krag – en tereg so. Daar is steeds belangrike werk om te doen om mans tot verantwoording te roep vir geweld en vernietiging. Maar as skrywer en regisseur stel ek altyd daarin belang om dieper te delf. Ek voel aangetrokke tot die stiller, meer brose aspekte van manlikheid – die dele wat oor heling en vergifnis gaan. Ek wou daardie ruimte verken en vra: “Wat beteken dit vir ’n man om sy pa te vergewe? Om homself te vergewe?”

Manlikheid begin en eindig nie by onsself nie. Dis iets wat ons erf en weer oordra. Dit dra ’n klomp spoke van die verlede saam. En dalk, as ons dapper genoeg is, kan ons mans begin om eerlik en sensitief met daardie spoke te praat, eerder as in stilte.

Ryan is ’n gebroke man, soos soveel van ons. Hy wíl beter liefhê, hy wíl volkome betrokke wees as ’n man, ’n pa en ’n vriend. Maar hy beskik nie oor die gereedskap nie. Hy strompel na ’n weergawe van homself wat hy nog nie kan definieer nie. Dís waar die storie leef – in die probeer. In die oomblikke waar hy die beskadigde aspekte van homself moet konfronteer en begin met die stadige, onseker proses van verandering.

Hoe ondersoek die film die idee van oorgeërfde trauma, veral binne die konteks van Kaapstad se sosiale geskiedenis?

Die Kaapse Vlakte dra ’n baie spesifieke nalatenskap. Dis uniek Suid-Afrikaans en uniek aan die Kaap. Dit dra die oorblyfsels van gedwonge verskuiwings, ontwrigte families en stelsels wat mense gebreek het. En tog spruit daar, uit daardie verwonding, musiek, geloof, humor en kleurvolheid. Hierdie komplekse elemente is altyd teenwoordig.

Die Kaapse Vlakte beliggaam beide skade én weerstand. Ryan se storie kan nie vertel word sonder daardie spanning nie. Sy reis is nie net persoonlik nie, maar ook oor ruimtes en generasies heen, met ’n diepe verbintenis aan die landskap. Hy is ’n man wat vasgevang is tussen wêrelde – tussen die harde lesse van sy pa en die fisieke letsels van verval in sy omgewing.

Die film speel aanvanklik met genre-elemente en slaan dan oor na ’n meer introspektiewe toon. Hoe het jy hierdie oorgang hanteer?

Vir my is ’n film iets lewendigs. Dis nie ’n vaste waarheid wat aan ’n gehoor opgedring word nie. Vanaf die ontwikkeling tot die finale redigering hou ’n film aan om nuwe lae, nuwe konflikte en nuwe waarhede te ontbloot. Wanneer ek dink aan die toonverskuiwing in The Heart is a Muscle – hoe dit begin met spannings- en genre-elemente, en dan oorgaan na iets meer besinnend en innerlik – sien ek dit as ’n proses wat organies uitspeel, eerder as ’n vooraf berekende besluit.

Aanvanklik spruit die spanning uit die emosionele toestand van die karakters. Maar namate Ryan gedwing word om by homself stil te staan, raak die tempo van die film natuurlik ook stadiger. My rol was eerder om te begelei as wat ek ’n struktuur op die storie wou afdwing.

Keenan Arrison lewer ’n rou maar beheersde vertolking as Ryan. Hoe het julle saamgewerk om ’n karakter te skep wat enersyds stoïsyns en andersyds op die rand van ineenstorting is?

Keenan is eenvoudig fenomenaal. Ek is steeds diep geraak deur sy vertolking. Ek het hom nie persoonlik geken voor die film nie, maar ek het hom heeltyd in gedagte gehad toe ek geskryf het. Daar was iets van sy stil intensiteit in Shirley Adams wat jare lank by my gespook het.

Hy het die karakter onmiddellik verstaan. Ek het gehou daarvan dat hy nie probeer het om te veel daaroor te filosofeer of te moraliseer nie. Hy werk instinktief en emosioneel. Ons het nie op die tradisionele manier gerepeteer nie. In plaas daarvan het ons tyd spandeer om te gesels oor ons pa’s, oor ritme, musiek en die lewe. Ons het gepraat oor emosionele landskappe en wat onder die oppervlak broei. In ’n stadium het ek Ryan eenvoudig aan Keenan oorgegee. Hy het daardie eienskap waaroor net sommige akteurs beskik – die vermoë om sóveel oor te dra met ’n kyk, ’n asemhaling of ’n pouse.

Die res van die rolverdeling was formidabel, van Melissa de Vries en Dean Marais tot Loren Loubser, Danny Ross, Ridaa Adams en Robyn Roux. Ek staan steeds verwonderd oor al hierdie talentvolle kunstenaars. Eerlikwaar, hulle het my werk as regisseur maklik gemaak. Al wat ek moes doen, was om uit hul pad te bly.