Project Description

Silwerskermfeeswenner Etienne Fourie gesels oor Stiekyt, sy nuwe speelfilm wat by die fees première.

Hoe sal jy self die fliek beskryf?

Stiekyt is die storie van ’n doogewone man wat homself in buitengewone omstandighede bevind. Dit is iemand wat nog nooit sy drome laat vaar het nie en nou op ’n plek in sy lewe is waar hy moeilike besluite moet begin neem. Meer as enigiets anders, is Stiekyt ’n verhoudingsdrama. James en Susan, ’n getroude paar, het vir die eerste keer in hulle huwelik ’n eerlike gesprek en dit vind toevallig plaas onder besonder ongerieflike omstandighede. Die riller-elemente is, op ’n manier, die resultate van daardie verhouding en wat dit vir James se ambisie, sy drome, beteken. Stiekyt is ook nie ’n drag movie nie. Dit is ’n storie, ’n drama, wat bloot in die wêreld van drag afspeel.

Waar het die idee vir Stiekyt vandaan gekom?

Wat begin het as notas in een van my tientalle notaboekies, het ontaard in iets wat ek self nie heeltemal kon voorspel nie. Die aanvanklike saadjie was ’n gesprek tussen ’n denkbeeldige getroude paar wat baklei oor kleinlike, alledaagse goed. (Ek vermoed die inspirasie hiervoor het gekom van die talle gesprekke met vriende wat verhoudingsprobleme het.) Op die einde was dit ’n goeie vier of vyf bladsye van dialoog. Die idee van ’n storie wat by ’n drag club afspeel het ook al lank by my gespook en dit het natuurlik gevoel om die twee idees te kombineer. Ek moes toe uitwerk hoe ek hierdie heteroseksuele paartjie in daardie drag club gaan kry. Ek skets of verf sekere beelde van die storie voordat ek begin skryf – dis maar nog altyd my proses. Die sketse het wel al hoe donkerder begin raak en die idee om ’n riller-aspek in te werk, het my beetgekry. Die res het verbasend maklik in plek geval en die draaiboek is oor so twee-drie weke geskryf. Die punt van Stiekyt, vir my, was om iets te maak wat ek nog nooit van tevore gedurf het om te doen nie.

Hoe is daar op die spelers besluit?

’n Fliek is net so goed soos die mense wat daaraan werk. Stiekyt is besonders geseën met nie net talentvolle nie, maar ook toegewyde mense. Ek glo dat berge versit kan word met mense wat wíl en hierdie span wóú.

Ek probeer altyd hard om nie akteurs in gedagte te hê terwyl ek skryf nie – veral omdat ek probeer vermy dat van hulle vorige werk die karakters beïnvloed. Ek begin “skoon” wanneer dit uiteindelik tyd is om te begin cast en dit is dus ’n verrassing vir my ook. Dit is, onder meer, hoe Llandi Beeslaar se karakter van ’n drag queen in die draaiboek na ’n drag king verander het.

Ons was regtig bevoorreg met die hoeveelheid talentvolle akteurs wat oudisie het. Veral die karakters van James en Susan was tricky, want op die einde kom dit neer op die chemistry tussen twee akteurs. Ek wens ek kon die fliek vier of vyf keer oormaak om saam met van die ander akteurs wat oudisie het ook te kon werk. Nou, natuurlik, is dit byna onmoontlik om enigiemand anders in daardie rolle te imagine.

Paul du Toit is ’n akteur wat 100% beheer oor sy craft het. Die emosionale gimnastiek (en fisiese moves ook, soms!) waartoe hy in staat is, is verstommend. James, die hoofkarakter, is ’n besonder komplekse karakter en ek weet nie of enigiemand behalwe Paul dit werklik sou kon regkry om al die kante van ’n opgemaakte mens met soveel kleur te illustreer nie.

Die uitmuntende Cintaine Schutte vertolk die rol van Susan – ’n vrou wat lankal gatvol is. Haar lewe het in iets ontaard wat sy nie herken of mee gemaklik is nie: basies, beige, presies soos sy altyd gesweer het dit nooit sal wees nie. Van die skote was oor die twintig minute lank waar Cintaine en Paul met mekaar stry. Dis oor die twintig bladsye se dialoog wat hulle moet onthou, alles terwyl hulle presiese merke moet slaan, fokuspunte vir die kamera en so aan. Dan doen ons dit seker twintig keer oor en oor en oor. Ek was stomgeslaan deur beide van hulle se toewyding.

Iets oor die ander akteurs:

Illse Roos speel die rol van Stella, die eienaar en bestuurder van die club. Sy regeer met ’n ystervuis en stamp gereeld koppe met die queens. Illse is enige regisseur se droom, want niemand is meer voorbereid as sy nie. Elke woord dialoog word noukeurig oorweeg, gebestudeer, gewaardeer. Sy is incredible.

Albert Pretorius vertolk die rol van Pandora BoXXX, ’n loudmouth queen met ’n chip op haar skouer. Albert, wat ’n saggeaarde ou is, was aanvanklik senuweeagtig om vir Pandora aan te pak, maar die oomblik toe die pruik op is en die naels aan, het Pandora in die vertrek verskyn soos ’n wegholtrein.

Jaques Bessenger vertolk die rol van Jay-C le Roux, ’n sagmoedige queen wat vir James onder haar vlerk neem. Jacques se talent ken geen perke nie en ek moes myself dikwels daaraan herinner dat ek nie net vir hom in ’n toneel kan kyk nie. Hy trek enige kyker se aandag. Jacques is werklik ’n briljante akteur en ’n absolute gentleman.

Wessel Pretorius is doodeenvoudig ’n fantastiese akteur en hy – ek is seker die ander akteurs sal saamstem – steel dikwels die show. Sy karakter, Mrs. Balls, is die probleemkind van die club. Wessel het haar met soveel genot vertolk dat ek soms gewens het die fliek kon ’n teaturstuk ook wees sodat gehore hom in lewende lywe kan sien.

Herman Lensing, bekende kosskrywer en televisie-aanbieder, vertolk die rol van Kiwi Polish. Herman is iemand wat nie anders kan as om die mense om hom te inspireer nie. Herman was so opgewonde om in die fliek te wees dat sy joy soos ’n gloed op stel gevoel kon word. Hy kon nie ophou glimlag wanneer hy in drag is nie.

Ek en Carla Smith, wat die rol van Stella se assistent, Lola, vertolk, het saamgewerk aan ’n reeks, Tydelik terminaal. Sy is vlymskerp en ek probeer bloot byhou by haar. Ek sal seker vir die res van my loopbaan in elke projek wat ek aanpak, vir Carla ’n rol inwerk.

Roberto Kyle skitter as ’n skinderbek-queen met ’n gesig wat mooi genoeg is om ’n duisend harte te breek. Nie net is Roberto beeldskoon nie, maar die fierce professionaliteit waarmee hy sy karakter, Ally Minium, aangepak het, is verstommend.

Die über-talentvolle Charlton George vertolk die rol van Crystal Decanter, ’n queen wat, onder meer, weens voorskrifmedikasie selde bewus is van wat om haar aangaan. Charlton is ’n absolute sweetheart.

Vir ’n belangrike skoot van die fliek het ons ’n akteur nodig gehad wat bereid is om sy penis op kamera te wys – en ­boonop in ’n close-up. Toe die aanvanklik bravado van die akteurs, wat almal aanvanklik totaal bereid was om vir hulle kuns te bloei, begin wegsmelt en ons skielik penisloos is, hark ek toe my beste vriend, die regisseur en skrywer Frannie van der Walt, nader. Die plan was aanvanklik om bloot ’n “penis double” in te kry vir die skoot, ’n stand-in, maar weens Frannie se rooi hare sou dit ongelukkig nie werk om hom as een van die ander akteurs se onderhelfte te laat instaan nie. Dus word Frannie toe ’n volwaardige karakter, “Gemmer Koekie”.

Hoe is daar op die visuele van die fliek besluit?

Die visuele kant van filmmaak is die deel wat ek eintlik die meeste geniet. My lewensplan was om óf ’n voltydse kunstenaar te wees (skilder), óf argitek. Ek voel dat ’n fliek net so veel sê met die estetiese ontwerp as wat dit doen met dialoog of musiek. Bathoni Robinson (die über-talentvolle produksieontwerper), Eduan Kitching (die director of photography met ’n oog wat skrik vir niks) en ek het vir weke lank aan elke element beplan – een van die grootste voordele van om in studio te kan verfilm. Ons het slegs sowat twee uit die 16 dae op location geskiet. Tydens die skryf van die draaiboek het ek vinnig besef dat “James loop in die gang af” bitter confusing raak, omdat die hele fliek backstage by ’n drag club afspeel. Ek moes presies weet watse gang. Ek het dus die vloerplan vir die club tydens die skryfproses uitgewerk en geteken. Die idee was om die club soos ’n doolhof te laat voel. Wat die colour palette en so aan betref: Ek wou bitter graag eksperimenteer. Die kleure van die mure is baie spesifieke kleure geverf, reeds met die colour grading wat in post-production gaan gebeur in gedagte. So, ons het byvoorbeeld vuil pastelkleure gemeng met ’n (walglike) ligte groen, wat besonders hard clash – James moet ongemaklik voel in hierdie wêreld. Die hele fliek is ontwerp om James se bui en emosionele storie visueel uit te beeld. Ek dink nie ek het al ooit so veel pret gehad nie.

Is dit n fliek wat universeel is?

Die storie se temas is universeel en dit push hoegenaamd nie enige agendas nie. Dis nie ’n leer-’n-lessie fliek nie. Ek dink enigiemand wat al ooit gevoel het dat die wiele van hulle lewe afbliksem, sal aanklank daarby kan vind.