Meesterklasse

MEESTERKLAS 1 – VERWERKING TOT DRAAIBOEK

Aangebied deur Karen Jeynes

Dit word al hoe gewilder om ’n rolprent of TV-reeks op ’n roman, biografie, memoire of videospeletjie te baseer. Hierdie meesterklas bied ’n geleentheid om regte en intellektuele eiendom (IP) te bespreek en ook hoe om bronmateriaal te kies en watter soort boeke en stories sigself tot goeie verwerkings leen. Deelnemers sal kyk na die behoeftes en eise van skerm versus bladsy, asook algemene probleme in die verwerkingsproses. ’n Paar voorbeelde van suksesvolle verwerkings sal onder die loep geneem word om uit te vind wat dit laat werk het.

Een van die sentrale uitdagings met verwerkings is dat jy altyd twee gehore het: een wat die bronmateriaal ken, en een wat dit nie ken nie. Daarom sal daar ’n groot fokus wees op die gehoor en hoe om hulle in ag te neem terwyl jy skryf en skep.

Daar sal ook klem op innovasie gelê word – hoe om te verseker dat jou werk steeds jou merk en identiteit dra, selfs wanneer jy met iemand anders se storie werk.

Om vir deelname aan hierdie meesterklas aansoek te doen, volg hierdie skakel.

Master Class 2 – GEAR SHIFT with Media Film Service

Aangebied deur Martin Neethling

Media Film Service is Suid-Afrika se voorste verskaffer van produkte en dienste aan die rolprentbedryf en bied ’n wye reeks toerusting, alles uitstekend in stand gehou deur internasionaal opgeleide tegnici. Media Film Service is ongeëwenaard as dit kom by die verskaffing van topklas-toerusting, advies en ondersteuning deur ’n professionele span kundiges, wat graag konsulteer oor besluite rondom die mees geskikte toerusting vir spesifieke behoeftes en ’n bepaalde begroting.

Die spesialis Martin Neethling bied ’n praktiese, interaktiewe meesterklas aan wat die vermoëns en aanwendingsmoontlikhede van hoogs gevorderde tegniese toerusting demonstreer. Aspirant-regisseurs, -kinematograwe, -beligtingstegnici, -fokusoperateurs, -redigeerders en alle ander filmmakers wat daarin belangstel om die filmiese ervaring vir hul kykers te optimaliseer, sal hierdie aanbieding insiggewend, boeiend en verhelderend vind.

Om vir deelname aan hierdie meesterklas aansoek te doen, volg hierdie skakel.

MASTER CLASS 3 – FORMATE

Aangebied deur Freddy Louw en Marguerite Albrecht

Deelnemers verken die redes agter die onlangse ongekende sukses van plaaslike realiteitsformate soos Die brug en Op my eish!. Die prestasie van laasgenoemde het alle verwagtinge oortref. Maar hoe goed het hierdie programme regtig gevaar? En waarom het juis hierdie reekse soveel aanklank by kykNET-kykers gevind?

Dié meesterklas sal insigte gee in die kanaal se werkswyse en kriteria wanneer nuwe formaatprogramme vir vervaardiging oorweeg word. Deelnemers sal ook sien hoe om ’n voorlegging voor te berei waarmee jy dalk volgende keer jou voet in die deur kan kry.

En dan word The Traitors, die nuwe wêreldwye realiteitstreffer wat op almal se kyklys is, van naderby beskou om die geheime van hierdie suksesverhaal te ontsyfer. Hoe het hierdie formaat ontstaan, wat maak dit so uniek, en is daar ’n geskiedenis agter die formaat waarvan kykers onbewus is? Watter formaat-elemente van The Traitors is ook besig om invloed op ander formate uit te oefen en waarom?

Om vir deelname aan hierdie meesterklas aansoek te doen, volg hierdie skakel.

Sluitingsdatum is 15 Julie.

Kom verkoop jou idee vir ’n fliek of TV by die kykNET Silwerskerm Silwermark

Het jy ’n storie wat jy dink ’n dramareeks kan word? Is daar ’n leefstyl-, realiteits- of dokumentêre reeks wat jy glo gemaak moet word? Dalk het jy ’n fliek wat wag om te gebeur. Wel, nou is jou kans om van daardie droom ’n werklikheid te maak.

Einde Augustus is dit tyd vir die jaarlikse kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. Kortfilms, speelfilms en dokumentêre is, soos gewoonlik, op die program, en vir vier dae draai alles om fantastiese inhoud vir fliekteaters, televisie én stroomdienste.

Maar die fokus is nie net op inhoud wat reeds vervaardig is nie. kykNET se opdraggewende vervaardigers is ook op soek na sterk nuwe konsepte. En dit is waar alle kykers, vervaardigers en ander filmmakers met ’n opwindende idee welkom is om by hierdie partytjie aan te sluit.

Hoe werk dit? Maak ’n oorspronklike, kreatiewe voorstel in enige van die volgende kategorieë:

  • kykNET: Drama
  • kykNET: Realiteit en vermaak
  • kykNET: Dokumentêr
  • Afrikaanse speelfilm
  • Showmax: Enige genre – hoe meer uit die boks hoe beter.
  • kykNET: Adverteerder-geborgde programme (AFP: Advertiser Funded Programmes). Met ander woorde, programme waarvan ’n borg die vervaardigingskoste dek.

Aansoeke open Maandag 6 Mei 2024 en sluit op 14 Junie 2024. Ná die sluiting sal al die aansoeke deur opdraggewende vervaardigers van M-Net se onderskeie kanale geëvalueer word. Die inskrywers van die topvyfkonsepte in elke kategorie sal dan genooi word om by die Silwerskermfees hul konsep in persoon aan ’n paneel van besluitnemers voor te lê.

Wie weet? Dalk is jou storie reg om verkoop te word.

Om in te skryf, asook vir die reëls en riglyne, skryf in.