Project Description

Vlugtig: Van Silwerskermfeeskortfilm na speelfilm.

Twee blinknuwe vollengte rolprente wat vanjaar hul wêrelddebuut by die fees maak – Beurtkrag en Vlugtig – het gespruit uit vorige Silwerskermfeeskortfilms. Marinus Gubitz se kortfiek Vlugtig is in 2017 by die fees vertoon en hy is weer in die regisseurstoel vir vanjaar se gelyknamige vollengtespeelfilm. Hy vertel ons meer oor dié rolprent wat op Vrydag 25 Maart om 17:30 by die fees draai.

Hoe sal jy die film beskryf? 

Daar is ’n gesegde: “The poet may know what he wanted to write, but he will never know what he wrote.” Dis hoe ek oor Vlugtig voel. ’n Storie oor akteurs wat vir ’n week by ‘n regisseur se huis gaan repeteer. Enigiets kan gebeur. Van ver beskou, is die film besig om die storie van Simon as aspirant-akteur te vertel, maar hoe nader ons beweeg, hoe duideliker word dit dat die film meer en meer het om te sê. Wat dit presies is, moet die kyker self besluit.

Wie se besluit was dit om die kortfilm in ’n speelfilm te ontwikkel? 

Die idee was altyd om die kortfilm te gebruik as ’n manier om ’n voet in die deur te kry. Dus het ons die oorspronklike kortfilm op so ’n manier gemaak dat daar talle vrae ná die tyd gevra kon word. Ná die fees het ons gevoel dat daar nog plek vir Simon se storie is, en Ernst van Wyk het toe aan die vollengtefilm begin skryf. Ons het talle gesprekke oor moontlikhede vir die film se toekoms gehad, maar ná een jaar ná die ander verbygegaan het, het ek kontak met Danie Bester by The Film Factory gemaak. Die bal het begin rol en vandag het ons uiteindelik ’n speelfilm op ons hande.

Waar is dit verfilm? 

Die verfilming het hoofsaaklik in Magoebaskloof plaasgevind op ’n plek aan die einde van ’n paar kilometer modderige grondpad met hoë bome en talle krom draaie. Dit is Vlugtig se tuiste. Ons het ongeveer twee weke in die berge spandeer en die gevoel van ’n “location shoot” is iets wat almal toegelaat het om 100% op die projek te fokus. Ons was vir een week in Johannesburg, wat dit vir ons moontlik gemaak het om verskeie bekendes in die bedryf op stel te sien.

Hoe is die span bymekaar gesit? 

Ek, Ernst van Wyk (skrywer en akteur) en Werner Botha (kinematograaf) was van die begin af deel van die projek. Ons het in 2017 saamgespan om die kortfilm te maak. Arno Greeff (akteur) is dus ook deel van die oorspronklike span. Met die speelfilm het die vervaardigers, Danie Bester en Dries Scholtz, die bal behoorlik aan die rol gekry. Die aktrise Jane de Wet het by ons aangesluit tydens die vroeë voorbereidings en so ook die span wat agter die skerms werk. Ek sou elkeen se naam wil noem, maar daar is nie genoeg plek in hierdie onderhoud nie. ’n Speelfilm is ’n spanpoging – dit weet ons almal – maar ek voel dit is steeds belangrik om te sê dat elke persoon se afdeling ’n kritiese rol in die film speel: van produksie-ontwerp en klank tot kos en grips en baie meer. Elke persoon het ’n plek en dit is op die silwerskerm waar jy kan sien hoeveel moeite in elke afdeling gedoen is.

Wat was die grootste uitdaging met die maak van Vlugtig

Behalwe vir die Covid-19 pandemie en die feit dat ons in die middel van ons beplanning moes stop, sou ek sê die grootste uitdaging was om die storie presies te vertel hoe mens wil. Maak nie saak hoe voorbereid ek was nie, daar was altyd iets wat my onkant wou vang. Wanneer ons gehoop het vir mis, het ons son gekry en wanneer ons moeg was vir die reën, het die son agter die wolke weggekruip. Maar die grootste uitdaging was tyd. Mens kan altyd doen met nog ’n take, maar die skedule laat dit ongelukkig nie altyd toe nie.

Wat beteken die Silwerskermfees vir filmmakers?

Die Silwerskermfees is spesiaal, want dit laat onbekendes en bekendes in die filmbedryf toe om met mekaar te meng. Dit kan baie moeilik wees om jou voet in die deur te kry en aangesien die bedryf baie klein is, vind talle newcomers die industrie effens oorweldigend. Maar die Silwerskermfees is die plek waar enigiets kan gebeur. Jy kry die kans om met mense te gesels wat jy nie elke dag sal raakloop nie saam met die geleentheid om stories in jou eie taal te vertel. Dit is ’n goeie begin en verhoog vir ons wat ons plek in die bedryf probeer vind