Rockster Laudo Liebenberg is ’n muso-pa in Sporadies nomadies

In die Silwerskermfeeskortfilm Sporadies nomadies maak ons kennis met Vanessa wat noodgedwonge die laaste paar dae van haar matriekvakansie saam met haar pa moet deurbring. Die probleem is hulle ken mekaar nie – en hou ook nie van mekaar nie. Louis het nog altyd ’n swerwersbestaan as ’n rondreisende muso gevoer en Vanessa neem hom kwalik oor sy sonder hom moes grootword.

Vanessa word gespeel deur Celeste Loots. In die rol van haar pa is die hoofsanger en -kitaarspeler van aKing, Laudo Liebenberg. Sporadies nomadies se skrywer en regisseur, Chanél Muller, sê Laudo het deur haar gedagtes gemaal toe sy die karakter Louis geskep het. Gelukkig was Laudo beskikbaar én Chanel was boonop omring deur filmlui wat al diep spore in die bedryf getrap het.

“Dit was ’n eer en ’n voorreg om saam met mense soos kinematograaf Jozua Malherbe, redigeerder Johan Cronjé, en Theo Crous, wat die musiek behartig het, te werk – nie net om te leer nie, maar ook om myself uit te daag vir my eerste regisseurspoging,” sê Chanél.

Chanél werk al vir ’n paar jaar lank by Nagvlug Films en het reeds twee Silwerskermkortfilms vervaardig – Oom en Die maan val bewusteloos.  

Nog ’n bonus vir Chanél was dat Laudo Liebenberg en Theo Crous al ’n lang pad saam stap. Dit het die skryf van die liedjies, wat Laudo as Louis in sukkelende kroeë sing, en die vervaardiging van die kortfilm se klankbaan maklik gemaak.

Theo Crous was natuurlik ’n lid van The Springbok Nude Girls en later deel van die Afrikaanse metalgroep K.O.B.U.S. Sy resumé as die vervaardiger van musiekalbums is indrukwekkend. Vyf-en-dertig van die Suid-Afrikaanse albums waaraan hy gewerk het, is benoem vir SAMA-toekennings en hy het al agt van dié gesogte beeldjies huis toe geneem.

Laudo het nadat hy sy dramagraad aan die Universiteit Stellenbosh behaal het, die rockwêreld betree, maar dié imposante man met die rasperstem het ook al sy lyf akteur gehou in talle televisiereekse, insluitend Black Sails en Die Byl. As deel van die groep wat die musiekproduksie Eet kreef op die planke gebring het, het hy ook ’n Fiësta-toekenning agter sy naam.

Sporadies nomadies wys op Donderdag 24 Maart om 15:30 by die Silwerskermfees.