Welkom

Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat reeds vir ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengtespeelfims van gesoute filmmakers hul wêrelddebuut of eerste Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige-geleentheid maak, is die fees ook ’n vertoonvenster vir ontluikende talent. ’n Rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, skyn jaarliks die kollig op nuwe kunstenaars se handewerk. Vanaf 2023 sluit hierdie kortfilms ook kort dokumentêre in. Buiten al die premières wat meeding in die kompetisie, en waarvoor uitmuntende bydraes voor en agter die skerms met Silwerskermtoekennings bekroon word, sluit die propvol feesprogram ook paneelbesprekings, werkswinkels en bedryfsgerigte meesterklasse in waarin genooide (dikwels internasionale) foendies hul kennis, ervaring en insigte deel.

Die eerste Silwerskermfees is in 2011 gehou op Prins Albert, ’n klein Karoo-dorp, waar slegs een speelfilm met die gepaste titel, ’n Saak van geloof, vertoon is. Sedertdien het dié inisiatief om die plaaslike bedryf ’n hupstoot te gee, gelei tot meer as 170 splinternuwe kortfilms en 50 vollengtespogfilms. Die lys Silwerskerm-sukesstories is lank en indrukwekkend. Benewens al die werksgeleenthede wat reeds geskep is en die internasionale toekennings wat ons Silwerskerm-rolprente al ingeryg het, het van Suid-Afrika se voorste filmmakers die bedryf betree as wenners van die gewilde Silwerskermfees-kortfilmprojek.

Boodskappe van die borge

Waldimar

Die Silwerskermfees 2.0 is hier

Sedert daardie eerste dapper besluit in 2011 om op Prins Albert films in Afrikaans te vier, het die kykNET Silwerskermfees gegroei tot ’n gesogte platform vir speelfilmpremières, ’n vertoonvenster vir die beste kortfilms in die bedryf, en ’n broeikas vir filmtalent.

Elke jaar word talle vollengtefilms vir die eerste keer hier gewys, werk wat dikwels grense skuif. Die kortfilms, waarvan meer as 170 al op die fees gedebuteer het, het op hul beurt aan dosyne skrywers, regisseurs, vervaardiger en akteurs ’n eerste kans gegee om op die silwerskerm hul slag te wys.

Terwyl mentors vir hierdie kortfilmspanne dikwels uit die kykNET-wêreld geleen is, het talle eerstekeer-kortfilmmakers ná hul Silwerskerm-debute befaamde filmmakers en self mentors geword, of hul hand aan TV gewaag. Party van hulle, wie se werk vir die eerste keer by die Silwerskermfees gesien is, het later van die gewildste programme op kykNET begin maak.

Vanjaar neem ons die fees nog ’n stap verder deur dokumentêre kortfilms in te lyf by die kortfilmfees, en TV volwaardig deel van die Silwerskermfees te maak. Benewens die gebruiklike gespreksessies oor film, en vyf vollengtespeelfilms wat première, sal voornemende TV-makers vanjaar werkswinkels kan bywoon oor hoe om die ideale programvoorstel in te dien. TV-kenners sal in paneelbesprekings en netwerksessies geheime deel uit die bedryf. kykNET is ook trots om verskeie nuwe programme se loodsepisodes vir die eerste keer by die Silwerskermfees te wys.

Lede van die publiek is boonop vir die eerste keer welkom om die fees by te woon – ons maak die sirkel groter en hoop dat dit bemagtigend sal wees.

Die Silwerskermfees se hoogtepunt vanjaar is Saterdagaand 26 Augustus se Silwerskermtoekennings vir Film en TV – ’n glansgeleentheid waar sterre van die groot én klein skerm vereer sal word. Die toekenningsaand word die volgende dag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

– Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale

Geordin

‘n Boodskap van die burgemeester

’n Hartlike welkom aan almal by die 11de kykNET Sliwerskermfees en ’n groot dankie aan die organiseerders wat altyd ’n wêreldklasgeleentheid saamstel en aanbied. Of jy nou die nuwe oes films in die Kampsbaai-feeskern geniet of by een van die uitreikvertonings elders, ek is seker hierdie Silwerskermfees sal weer die uitstekende reputasie wat dit deur die jare opgebou het, gestand doen.

Ek is ook seker dat hierdie jaar se fees die kollig op nuwe name sal laat val wat ’n aanwins vir die rykdom van ons plaaslike talent sal wees. Kaapstad se film- en televisiebedryf was nog nooit in ’n gesonder toestand nie en dit is vinnig besig om ’n indrukwekkende internasionale reputasie te vestig. Ons het beslis geen tekort aan talent in die Moederstad nie – van skrywers, regisseurs en akteurs tot die vele vaardighede wat agter die skerms nodig is om treffende visuele stories te vertel. Om nie eers te praat van die voortdurend groeiende aanbod van vervaardigers en na-produksiefasiliteite nie.

Ons stad is trots op ’n spoggeleentheid soos die Silwerskermfees, wat wondere verrig vir ons plaaslike filmbedryf. Ek wens julle almal ’n fantastiese fees toe.

– Geordin Hill-Lewis, Burgemeester van Kaapstad

Astrid

‘n Boodskap van die Dagbreek Trust

Dagbreek Trust is geruime tyd al ʼn trotse ondersteuner van kykNET se Silwerskermfees en doen dit vanjaar graag weer.

Jaar ná jaar geniet ons die positiewe resultate van die energie wat hierdie projek in die bedryf losmaak om ons op TV-skerms en in teaters uit te daag en te vermaak. Maar dit is veral die vertroue wat dit opbou, die vaardighede en talente wat dit ontwikkel, die hoogtes waarna dit deelnemers in die Afrikaanse filmbedryf laat strewe wat vir ons waardevol is. Van gevestigde storievertellers tot groentjies kan iets waardevols uit die program leer en saamneem. Ons vertrou dat hierdie paar dae van opwindende vertonings en gesprekke ook soos altyd nuwe bande sal smee en vonkies van inspirasie sal aansteek.

Ons sien uit daarna om skouers te skuur met almal wat ʼn naam het of naam wil maak, en wens Waldimar en sy span groot sukses toe met hierdie belangrike inisiatief.

– Astrid de Vos, Uitvoerende trustee: Dagbreek Trust

Beoordeelaars

Jaco

Jaco Bouwer

Jaco Bouwer is ’n veelbekroonde teater-, film- en TV-regisseur, wat jare lank in teater werksaam was voor die medium van film hom aangegryp het. Sy kortfilm, This Country Is Lonely, is by IFFR 2019 vertoon, en sy eerste rolprent Gaia, wat by die SXSW Filmfees 2020 gepremière het, het in 2022 Silwerskermtoekennings vir beste rolprent, beste regisseur en beste kinematografie gewen. Sy jongste reeks, Spinners, wat in samewerking met Canal+ gemaak is, was die eerste voorlegging uit Afrika om vir vertoning by die Cannes Series gekies te word.

Bouwer skep werk wat konvensie en tradisionele kategorisering uitdaag. Hy is ewe tuis in film, teater, dans, plek-spesifieke toneelproduksies en installasiekuns. Dit is egter sy unieke vermoë om al hierdie dissiplines te kombineer ten einde die visuele, ruimtelike en akoestiese dimensies van taal te weerspieël, wat sy werk uitsonderlik maak. Sy estetiese aanslag is al bestempel as postmodern en eksperimenteel, avant-garde en selfs as ondermynend, maar deur hierdie estetika na ’n wyer gehoor te bring, poog Bouwer ook om die kunsmatige hindernisse wat tussen ons en binne kulture bestaan, bloot te lê. Sy genuanseerde kulturele kritiek fokus dikwels op omstrede onderwerpe, sonder enige poging om die sosiale en politieke kwessies wat dit aanspreek, op te los. Bouwer verkies om sy verhale na ’n volgende vlak te neem en kombineer die persoonlike en die politieke, die estetiese met introspektiewe ondersoek, en ’n radikale formalisme met ’n ewe radikale uitdrukking van subjektiwiteit, om sy werk die ryk van die verbeelding in te slinger.

Vinette

Vinette Ebrahim

Vinette Ebrahim is nou al sedert 1974 in hierdie bedryf en geniet steeds elke oomblik. Haar loopbaan het by The Space-teater in Kaapstad begin, onder leiding van wyle Yvonne Bryceland en haar man, Brian Astbury, nadat sy ses maande by die Rita Maas School of the Arts klasgeloop het. Sy was al in elke dorp waar daar ’n teater of ’n saal is op die planke met alles van Shakespeare tot Fugard, en van Lizz Meiring tot haar eie werk. Vir haar teaterspel is sy benoem en bekroon met toekennings vir beste aktrise deur, onder meer, die KKNK, Naledi, die Gariepfees, Rapport, City Press en die DAK Netwerk. Sy is ook bekend vir haar rolle in sepies, telenovellas, rolprente en reekse en ook daarvoor is sy verskeie male benoem en bekroon – veral vir haar rol as die geliefde Charmaine in 7de Laan. Vir haar spel in die rolprent Barakat het sy verlede jaar die Silverskermtoekenning vir beste aktrise gewen. Ná 19 jaar van vasgevang wees in ’n sepie, is sy besig om weer haar vlerke te sprei. Sy is tans in Generations en Diepe waters te sien, doen oorklanking en werk aan ’n toneelstuk wat op kunstefeeste te sien sal wees. Op 66 is sy besiger ooit!

Rafiek

Rafiek Mammon

Rafiek Mammon het ’n meestersgraad in Opvoedkundige Filosofie van die Universiteit Stellenbosch. Hy was die kunsredakteur van die Cape Times en is ’n voormalige beoordelaar van die Fleur du Cap-teatertoekennings. Mammon dien op verskeie ander beoordelaarspanele en word gereeld as teksleser vir kunstefeeste reg oor die land ingespan. Hy is daarbenewens ’n bekroonde dramaturg en is by verskeie teaterontwikkelingsprojekte betrokke. Rafiek skryf graag en behartig gereeld die regie vir toneelstukke. Hy was vir etlike jare ’n dosent in die Joernalistiek by CPUT en was vir vier jaar ’n lektor aan die Universiteit van Kaapstad. Tans gee hy klas by die Universiteit Stellenbosch en werk as ’n vryskutdramaturg, konsultant en resensent.

Leon

Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n veelbekroonde skrywer, TV-aanbieder, resensent, regisseur, rolprentnavorser, vervaardiger en dosent. Hy is reeds 48 jaar in die bedryf en het hom aanvanklik onderskei as omroeper by die SABC. Van Nierop lewer resensies vir verskeie platforms en het die draaiboeke vir Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer geskryf. Hy het vir 20 jaar rolprentontleding by die Technikon Pretoria aangebied, en was vir vier jaar hoof van die Rolprentakademie by die TUT, waar hy ’n volle professor was. Leon het 37 romans geskryf en vier akademiese boeke, waaronder Movies Made Easy, Druk speel en Seeing Sense: On Film Analysis. Hy was ook vir Daar doer in die fliek verantwoordelik – sowel die handleiding as die dokumentêre kykNET-reeks.

Silwerskermfeesspan

M-Net-direkteur: Premium-kanale Waldimar Pelser
Stigter: Silwerskermfees Karen Meiring

kykNET

Senior bestuurder: Skedulering Janine Cornelius
Skeduleringspesialis Lorika Boshoff
Bestuurder: Mikroskedulering Nicole du Toit
Kontrakkoördineerder Tessa Carey-Osman
Administrateur: Ruilooreenkomste Memory Louw
Mikroskeduleerders Luyanda Chirenje
Nomali Mndebele
Sean Fong
Senior bestuurder: Bemarking Leo Smit
Senior bestuurder: Publisiteit Suzaan Keyter
Bemarkingsbestuurder Abraham van Zyl
Handelsmerkkoördineerder Suné Els
Ryan Mollentze
Publisiteitsbesturder Lindi Herbst
Publisiteitspesialis Herschelle Benjamin

M-NET-INHOUDSPAN

Hoof van inhoud: Premium en ko-produksies Nicola van Niekerk
Senior bestuurder: Realiteit en vermaak

Senior bestuurder: Teksgedrewe inhoud

Terja Beney

Wikus du Toit

Toesigvervaardigers Marguerite Albrecht
Merveline Ferris
Lizette Khan
Quentin Krog
Lucia Meyer-Marais

Etienne Daniels

Christel Sampson
Carla-Marie Myburgh
Scharl van der Merwe
Lorhren-Rose Joseph

MULTICHOICE

Uitvoerende groepshoof: Algemene vermaak Nomsa Philiso
Uitvoerende hoof van algemene vermaak Georginah Machiridza

SILWERSKERMFEES-PROJEKSPAN

Uitvoerende projekbestuurder Edmund Beukes
Stigter: Silwerskermfees Karen Meiring
Programbestuurder Tina Kruger
Projekbestuurder Nicky Meiring
Produksie-koördineerder Josh Hall
Feeskoördineerder Luzanne Paxton
Inhoudsredakteur Danie Marais
Vertaler Bianca du Plessis
Kreatiewe hoof Haddad Viljoen
Publisiteitshoof Lani Lombard
Tegniese diensverskaffer – Helium Wayne van Schalkwyk
App en registrasie – Ovation Art Melodie Schoeman
Marisa Buys
Geleentheidsbestuur – Charcoal Consulting Kirsten Kiely
Skerms en feeskennisgewings – Garnish Creative Barry Cilliers