Shotgun-kortfilm: Deuntjie
Sy is ’n perfeksionis, ’n lysie-mens en iemand met ’n groot passie vir wat sy doen. En daar is geen keer aan Adri Britz se entoesiasme rondom die kreatiewe wêreld waarin sy haar bevind nie.
Adri se Deuntjie is die eerste musikale komedie wat vanjaar by die Silwerskermfees as deel van die Shotgun-kortfilmkategorie bekend gestel word. Dié kategorie is vir gevestigde filmmakers wat hul slag met ’n kortfilm wys.
Deuntjie bring daai klein stemmetjie wat ons almal in ons kop het, onder die loep. In die geval van Deuntjie (Anja Taljaard), ’n skaam, pligsgetroue meisie, heet daai stemmetjie Vera (Daneel van der Walt), ’n groot diva met twee flambojante backing vocals, Moses en Jacob. Hulle sing en smokkel met arme Deuntjie se kop. Alles begin handuit ruk as Deuntjie nie meer kan onderskei tussen realiteit en die stemme in haar kop nie.
Adri Britz het meer oor haar kortfilm vertel.
Jy het ongelooflik baie ondervinding met soveel verskillende aspekte van die vermaaklikheidswêreld. Wat het jou genoop om vir die Shotgun-kortfilms in te skryf?
Ek het besluit “Hoekom nie?” en ek het toe ’n konsep vir Deuntjie ingestuur. Maar ek het al voorheen ’n storiefilm gemaak en die regie van Dina Dagbreek behartig en ek kon dus nie as ’n nuwe filmmaker vir daardie kategorie van die Silwerskermfees inskryf nie. Maar toe noem hulle die moontlikheid van die Shotgun Shorts–kategorie.
Ek is baie dankbaar dat dit gebeur het. Deuntjie is so uit die boks uit en ook iets heeltemal anders met die musiek daarby. Deuntjie is ook die heel eerste musikale komedie in die geskiedenis van die Silwerskermfees. Hiermee wou ek net iets anders doen, en ek hou daarvan om goed in teenstelling met mekaar te plaas. Soos met Deuntjie (Anja Taljaard) en Vera (Daneel van der Walt). ’n Mens verwag amper dat die stemmetjie in die skaam en teruggetrokke Deuntjie se kop klink soos ’n tannetjie wat brei, maar Vera is eerder ’n massiewe diva met baie selfvertroue. Ek wou wys hoe elkeen van ons daardie selfvertroue van Vera in ons het, maar die keuse lê by jou of jy dit glo of nie.
Vandaar die worsteling met my eie stemmetjie, al het sy nie ’n naam nie. Ek moes ook met haar stoei oor hoe kykers Deuntjie gaan ervaar.
Wat is die boodskap wat jy graag by die kyker wil tuisbring?
Vir my gaan dit daaroor dat jy jou eie stem en eiewaarde deur komedie en musiek vind. Dit is ’n genre wat oor verskeie fasette beskik en baie films bied deesdae ruimte vir al daardie fasette.
Die produksie het binne ’n kort tyd geskied. Wat was die grootste uitdagings wat jy te bowe moes kom om dit betyds te kon afhandel?
Ek het vier dae gehad om Deuntjie te skiet. Begrotings bied altyd uitdagings. Maar ja, tyd was beslis die moelikste een. Daarmee saam ook die musikale element. Liedjies en die lirieke kan tot drie bladsye beslaan. In ’n toneel met twee mense kan dit binne twee uur afgehandel word. Met musiek is dit nie so maklik nie. Daar is repetisies en voorafopnames en dan bevind die akteurs hulle skielik voor die kameras vir ’n regstreekse vertoning. Wat gewoonlik twee minute sou neem, kan maklik oor vyf ure strek. Dan is daar die verhoogbeligting wat by die musiek moet inpas, blocking wat vir die verhoog én die kamera beplan moet word, elke beweging wat op die beat moet bly, en, o ja, moenie vergeet om te sing nie!
Ook die akteurs moet die toneel oor en oor doen: een keer vir wyd, dan nabyskote en ook alleenskote. Gelukkig was Wesley (West, verantwoordelik vir die oorspronklike musiek) daar om die playbacks te doen. Maar dit bly steeds ’n groot uitdaging om musiek by film te voeg, en met beperkte tyd moet jy vinnig op jou voete dink. Hier wil ek graag die span uitsonder, veral die kinematograaf Eduan Kitching wat steeds die mooi prentjies en essensie vasgevang het. Almal wou net die beste vir hierdie unieke projek gee.
Jy het al verskeie storiefilms vervaardig, maar het Deuntjie in hierdie geval vir jou dalk ’n verrassing of twee opgelewer?
Ja! Ek was die meeste van die tyd verras. Veral die akteurs het my verras, en natuurlik dat ons die projek binne vier dae verfilm het.
Eduan was fantasties om al die hoeke te kry. Wat hy geskep het, was miraculous en insane. Ook C.A. van Aswegen, die redigeerder, het soveel talent.
Hoe voel jy oor musikale films?
Ek het musiekteater ná skool gaan swot en partykeer kom musicals net so onrealisties voor. Ek het net nie genoeg tyd en geld tot my beskikking gehad om mense op karre te laat dans nie, maar ek wil musicals weer cool maak met crazy musikale elemente, veral in Afrikaans. Daar moenie net mooi lirieke wees nie. Die musiek moet soos dialoog wees, natuurlik en toeganklik. Die lirieke en die karakters sal dit dryf.
Is daar van die karakters met wie jy identifiseer?
Dit was noodsaaklik vir my om met die karakters te identifiseer – en ek doen dit met beide Deuntjie en Vera. Ek is ’n ekstroverte introvert. Wanneer ek sosiaal verkeer, is ek baie soos Vera, maar tuis is ek Deuntjie … Los my net ’n bietjie uit!
Wat weet mense dalk nie van die twee hoofakteurs in Deuntjie nie?
Wat min mense waarskynlik weet, is dat ek en Daneel destyds saam op skool was by Pro Arte Alphen Park en daar ons eie a capella-groep begin het, The Rustic Divas. Om haar te hoor sing, is ’n groot ding en ek wou vir mense wys hoe veelsydig sy as ’n akteur is … En daai stem!
Anja Taljaard het my van die begin af net weggeblaas met haar talent. Sy het oorspronklik ’n oudisie afgelê vir die rol van Claudia, maar toe ek haar sien en hoor, toe bied ek haar die rol van Deuntjie aan. Sy is verskriklik talentvol.
Het jy enige raad vir iemand wat die vermaaklikheidswêreld wil betree?
Die belangrikste is om so gou as moontlik op ’n stel te kom. Enige departement. Ek self het as ’n produksiebestuurder begin, en eers as jy op stel is, kom jy agter watter departement doen wat.
Op Deuntjie se stel het ons jong skrywers as assistente en runners gehad – en dit was vir my bemoedigend. Om ’n goeie regisseur, vervaardiger of skrywer te wees, moet jy leer hoe alles ineenskakel. Hierdie basiese kennis, en natuurlik hoe jy mense hanteer, is belangrik. Jy moet bereid wees om jou hande vuil te maak. Daarmee saam moet jy deurentyd waarneem wat op die stel gebeur. Ook baie belangrik is goeie kommunikasie.
Watter projek/fliek sou jy graag wou aanpak as jy ’n onbeperkte begroting tot jou beskikking gehad het?
Dit sal beslis ’n grootskaalse musical wees soos Moulin Rouge of Chicago; nie net ’n film waar mense uitbars in sang nie. Veel eerder waar die hele kantoor op die lessenaars spring en dans … Groot musikale nommers met dansers en choreograwe!