Speelfilm: Som van twee
Met die speelfilm Som van twee, ’n komedie-drama met die charismatiese Louw Venter en die altyd-briljante veteraan James Borthwick in die hoofrolle, maak die aktrise Simonè Pretorius haar debuut as regisseur.
Die storie draai om die gevolge van ’n rowwe faux pas wat Henk (Venter) begaan as hy op sy vrou Nicolene se begrafnis bieg dat hy destyds die matriek-wiskundevraestel uitgelek het. Wanneer die onderwysdepartement dan besluit die hele klas van 1990 moet dié eksamen herskryf, vra Henk sy seun, Renier (Adriaan Havenga) om hom te tutor, maar dit sukkel. Dié pa-seun-verhouding is immers al hul hele lewe lank stram en gespanne. Henk se pa Gert (Borthwick) meng ook kort-kort in en dis nie lank nie of dinge ruk handuit.
Simonè vertel oor haar eerste uittog as regisseur.
Waar kom die idee vir Som van twee vandaan?
Dis amper onwerklik om te glo, maar dit is gegrond op ware gebeure. Liani Janse van Rensburg, die mede-draaiboekskrywer, het op ’n artikel afgekom oor ’n vrou in Nederland, Melissa Kelderhoff, wat tydens ’n skoolreünie erken het dat sy haar matriek-biologievraestel vooraf gesien het. Die storie het by die minister van onderwys, kultuur en wetenskap uitgekom en dié het beslis dat die hele land se 1992-matriekgroep hul biologie-vraestel weer moes skryf.
Ons storie het natuurlik ’n paar gedaanteverwisselings ondergaan …
Ek is nogal nuuskierig oor hoe die rolverdeling saamgestel is. Is van die rolle spesifiek vir sekere akteurs geskryf?
Vir Henk en Gert het ek twee akteurs per karakter in gedagte gehad, maar hoe meer ek die teks verfyn het, hoe duideliker het dit geraak dat ek niemand anders as Louw Venter en James Borthwick kon gebruik nie.
Die rolverdeling was die belangrikste aspek van hierdie film en ons het akteurs gesoek wat sterk in drama én komedie is, veral vir Louw en James se karakters. Louw het veral baie kleur na sy karakter gebring. Daardie charisma was nie iets wat ek kon skryf nie, Louw het dit verpersoonlik. En James is seker een van die talentvolste akteurs met wie ek al gewerk het. Sy sin vir humor en toewyding is ongelooflik om te aanskou.
Adriaan Havenga se oudisie het my verras. Hy het ’n onskuld en sagtheid na die karakter gebring. Hy het voorheen een van my acting-werksessies bygewoon, en ek het hom gevra om vir my ’n oudisie af te lê. Greteli de Swardt was ook ’n maklike keuse; haar sjarme en spontaniteit is aansteeklik; en die oomblik wat ek Righard van Jaarsveld se oudisie gesien het, het ek geweet hy is Basjan. Ek het tydens sy callback al vir hom gesê hy het die rol.
Petrus se karakter is een honderd persent geskryf met Pierre Breytenbach in gedagte. Só ook die rol van Fanie, wat deur my swaer, Ronnie Dombai, vertolk word. Hy is glad nie ’n akteur nie, maar ek het heeltyd sy stem gehoor terwyl ek die karakter se dialoog geskryf het. Toe, een aand by ’n braai, het ek ’n teks in sy hand gestop en gesê hy moet gou bietjie act. Ek was gelukkig en hy stem toe in om te kom speel. Ek het toe ook sommer sy vrou, Annetjie, as die gesig van Nicolene gebruik.
Jy maak met dié film jou debuut as regisseur en jy is ook een van die draaiboekskrywers – hoekom het jy besluit om hier die regie-leisels te neem?
Dit is al vir tien jaar ’n droom. Op die stel van Vir die voëls het Bennie Fourie vir my ’n boek aanbeveel, Directing Actors deur Judith Weston. Dit het in daardie stadium meer gedien as handleiding om te verstaan wat ’n regisseur van ’n akteur wil hê, maar ek het onmiddellik besef ek lees dit met ’n ander hoed op.
Later het ek ook met verskeie projekte besef dis regtig moeilik om nie myself te regisseer nie, en teen die laaste rol wat ek gehad het, het ek besef ek wil nou in beheer wees. Terselfdertyd het ek ook aan erge imposter syndrome gely en in my eie vermoë getwyfel.
Maar toe ek in 2019 my eerste draaiboek geskryf het, het ek gevoel hierdie pad mag dalk lei na regie. Dit sou vyf jaar neem en drie onontwikkelde draaiboeke op die rak, maar ek is dankbaar vir die pad tot hier.
Dink jy jou rol as draaiboekskrywer het jou werk as regisseur makliker gemaak?
Sonder twyfel! Ons draaiboek het baie draaie geloop voor die karakters regtig ge-settle het en die temas mooi deurgekom het, so dit het gehelp om die proses deur te voer tot op die vloer en toe te laat dat die akteurs dit verder vat en asem in hulle blaas.
Terwyl ek geskryf het, het ek al performances in my kop direct en terwyl ek direct het, het ek herskryf. Die twee het mooi saamgewerk.
Wat was vir jou die belangrikste temas om uit te lig in die vertelling?
Dat ons ouers nie altyd vir ons kan wees of vir ons kan bied wat ons nodig het nie. Hulle sit maar met hul eie bagasie. En soms, as ons kan erken dat ons ook nie perfek is nie, help dit ons om met hulle te versoen. Ons is immers soms meer soos hulle as wat ons besef.
Iets treffend en besonders is hoe dié film tot welke gehoor kan spreek, juis omdat hartseer en rou geen perke of grense het nie. Was dít doelbewus?
Ek dink nie dit was doelbewus nie. Pyn is ’n natural unifier en ek het nodig gehad dat die gehoor medelye met Henk moet hê. Om iemand se donkerste oomblikke te aanskou, help daarmee.
Het jy uit die staanspoor geweet dat jy binne die raamwerk van ’n komedie-drama wou werk?
Dit kom natuurlik. Dis die tipe stories wat my nog altyd die meeste beïnvloed het. Ek is ’n groot voorstaander van komedie-drama omdat dit vir my die naaste aan die werklikheid is. Komedie laat mense ontspan en lekker voel, drama laat mense by mekaar aanklank vind. Mens het beide nodig.
Jy het ’n baie lekker span saam met jou – van die rolverdeling tot Dries Scholtz as redigeerder. Wat staan vir jou uit van julle samewerking?
Dries se vermoë om mens aan die hand te vat en jou te betrek by dinge waarvoor jy nie dink jy opgewasse is nie, en hoe hy sy slice of pie met gemak deel, is inspirerend. Dis ’n voorreg om saam met hom te werk. Hy verstaan ook die prioriteit van familie en het deernis en respek vir working moms. Ons is ’n goeie span.
Hierdie fliek kom nadat jy ma geword het – het ma-word en ma-wees vir jou anders na die storie laat kyk?
Ek dink nie dit het my anders na die storie laat kyk nie; dit het my die projek dalk anders laat aanpak. Met groter dapperheid. Daar is iets omtrent die ontnugtering van ’n newborn, die ongemak van swangerskap, die grootmaak van ’n toddler met tantrums, en baie balle gelyk in die lug hou, wat jou help om nie oor die klein dingetjies te bekommer nie. Jy vaar goed onder druk.
Jy vertel ook stories en sit jouself met al jou onvolmaakhede daarbuite, want eerstens het jy die kreatiewe uitlaatklep nodig, en tweedens besef jy jy het baie min om te verloor. Skielik is die stem van die peanut gallery nie meer genoeg om jou te keer om te skep nie. Jy is oukei met weerloosheid, jy weet wie se opinies die belangrikste is, en jy weet dat as jy huistoe gaan, daar drie gesigte vir jou wag wat jou lewe vol genoeg maak dat mense se kritiek jou nie gaan vernietig nie.
So, ja, ma-wees het my my spreekwoordelike big girl panties laat aantrek en my in staat gestel om die film vreesloos aan te pak.