Kortfilm deur ’n gevestigde filmmaker: Die Superette

Die Superette, geskep deur die bekroonde filmmaker Dominique Jossie en haar lewensmaat, Byron Simons, speel af in ’n hoekwinkel op die Kaapse Vlakte – ’n plek wat tegelyk bekend én onvoorspelbaar is. Met die gevierde aktrise June van Merch in die rol van Tannie Sonja, verweef die film spanning, skerp humor en sosiale kommentaar in ’n verhaal wat fokus op die dapperheid van ’n gemeenskap en hul stille verset.

Dominique vertel meer oor die film:

Wat het jou laat besluit om juis dié storie te vertel?
Dis belangrik om te noem dat ek hierdie storie saam met my lewensmaat, Byron Simons, geskep het. Hy is nie in die filmbedryf nie, maar staan my al 13 jaar lank in my loopbaan by. Dis ons heel eerste film saam. Ons wou ’n storie vertel oor gewone mense wat helde in hul gemeenskappe is. Só is Tannie Sonja gebore. Vir ons is dit ’n geleentheid om die mense rondom ons, wat dikwels nie raakgesien word nie, vanuit ’n ander perspektief en met nuwe waardering in oënskou te neem.

Hoekom het julle ’n superette as agtergrond gekies, en nie byvoorbeeld ’n barbierwinkel of haarsalon nie?
Die idee het eintlik by die superette begin. Ons was mal oor die konsep van ’n ruimte wat ’n karakter op sigself word. Anders as ’n salon of barbierwinkel, wat dikwels geslagspesifiek is in terme van wie dit besoek, trek ’n superette almal. Dis ’n ware smeltkroes van mense uit die gemeenskap.

Daarby bied die kontras tussen alledaagse aktiwiteite soos om brood en melk te koop, en die skielike chaos wat tydens ’n rooftog uitbreek, kragtige filmiese moontlikhede. Deur Sonja in die middel van die storm te plaas, herinner Die Superette ons daaraan dat buitengewone stories dikwels in die mees alledaagse plekke afspeel.

June van Merch vertolk Tannie Sonja met ’n uitstekende balans van humor en erns. Was die karakter van die begin af vir haar geskryf?
Ja, soos die draaiboek ontwikkel het, het ons al hoe meer besef dat ons met June wou werk. Ons het geweet sy sal die karakter met egtheid en nuanse uitbeeld. Sy het natuurlik ook haar unieke flair ingebring en die karakter verder uitgebou as wat dit op papier bestaan het. Dit was ’n ongelooflike eer om saam met haar aan dié projek te werk.

Wat is die belangrikste temas wat julle met Die Superette wou ondersoek?
Die film wys hoe mense van uiteenlopende agtergronde in ’n krisis saamstaan, en hoe ’n gesamentlike manhaftigheid dan posvat.

Ons ondersoek ook die onsigbare kragte wat in sulke situasies aan die werk is – daar gebeur altyd meer onder die oppervlak, en ons wou daardie spanning en magsdinamika subtiel uitlig.

Nog ’n tema is hoe geweldspatrone manifesteer. Die storie kon maklik in nog ’n skop-skiet-en-donner-film ontaard het, maar dit was vir ons belangrik om die moontlike geweld so lank as moontlik uit te stel. Ons heldin gebruik eerder strategie, deernis en humor as haar sterkste wapens.

Daar is baie komiese momente in die film, ten spyte van die ernstige tema. Hoekom het julle besluit om dit so te vermeng?
Humor was noodsaaklik vir Die Superette, want dit weerspieël hoe baie Suid-Afrikaners met druk, trauma en daaglikse uitdagings omgaan. Ons lag, selfs wanneer alles ineenstort. In ’n verhaal met elemente van spanning, vrees en desperaatheid, word die komiese ’n bron van oorlewing. Dit maak die karakters menslik, hul reaksies geloofwaardig, en dit gee die gehoor ruimte om asem te skep tussen die gevaarlike oomblikke.

Jy het al oor die jare werk geskep wat ’n groot impak gehad het, dikwels in langer formaat. Hoe vergelyk die kortfilmformaat daarmee?
Ek is mal daaroor om kortfilms te kyk én te maak, al bring dit unieke uitdagings. Kort beteken nie maklik nie. Jy moet deurgaans ’n vlymskerp fokus behou. Alles wat nie die kern van die storie dien nie, moet uit. Elke sin, elke skoot, elke klank dra gewig. As dit reg aangepak word, kan kortfilms ongelooflik kragtig wees.

Vir my is dit die belangrikste om getrou te bly aan die siel van die storie – wat jy wil hê jou gehoor aan die einde moet voel of oor moet nadink. Verhale wat in ’n enkele ruimte afspeel, werk uitstekend in kortformaat, en die superette was vir ons die perfekte plek daarvoor.