Besmet – ’n ontstellende dokumentêr oor hoe ons leeus wreed vergiftig word

In die 1990’s het ’n trop leeus met die gewilde BBC-natuurlewereeks Big Cat Diary in die harte van miljoene televisiekykers gekruip. Die Marsh-leeufamilie van die Maasai Mara-wildreservaat in Kenia was die bekendste groot katte in die wêreld, en in 2015 was hul vele aanhangers diep geskok oor die nuus dat drie lede van dié familie – Bibi, Siena en Alan – doelbewus deur mense vergiftig is.

Ongelukkig was hul tragiese lot nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Leeuvergiftiging vind ook nie net buite ons landsgrense plaas nie. Die hoeveelheid leeus in Suid-Afrika is besig om drasties af te neem en hulle sterf op die allerwreedste manier – met gif wat maklik verkrygbaar is. 

Terwyl die Marsh-leeus afgemaai is om vee te beskerm, word die leeus in die Kruger Nasionale Park en elders vergiftig en dan vermink om ’n heel ander rede: Hulle liggaamsdele word gebruik vir moetie en tradisionele medisyne.  

In die Silwerskermfeesdokumentêr Besmet ontbloot vervaardiger Sean O’Neill en die regisseur en draaiboekskrywer Pieter Steyn dié enorme en komplekse probleem – ’n soort bosoorlog tussen bewaring en kultuur. 

Pieter is ’n joernalis in murg en been. Hy het al by al die groot Afrikaanse koerante in die land gewerk en is deesdae die toesighoudende vervaardiger en inhoudskonsultant van die kykNET-aktualiteitsprogram Prontuit. Besmet is sy eerste dokumentêre film. 

Met dié agtergrond is dit verstaanbaar dat georganiseerde misdaad vir Pieter ’n boeiende onderwerp is. Die saadjie vir Besmet is geplant toe hy ’n verslag van The Global Initiative Against Transnational Organized Crime oor leeustropery gelees het. Die storie en foto’s was vir hom hartverskeurend.  

Daarna het die Silwerskermfees se nuwe mentorskapprojek vir dokumentêre en Sean se 23 jaar lange ervaring in die film- en televisiebedryf Pieter se wens om meer bewustheid oor die onderwerp te kweek moontlik gemaak. Sean se passie en forté is natuurlewestories. Sy lang, indrukwekkende curriculum vitae sluit produksies vir Nat Geo Wild, Animal Planet en die Smithsonian Channel in.  

Sean en Pieter is dit eens dat die media en owerhede nie genoeg aandag aan die grusame leeuslagting in Suid-Afrika skenk nie en dat vergiftiging die majestueuse spesie kan uitwis. 

Soos Pieter dit stel: “Dit is veel makliker om ’n leeu te stroop as ’n renoster, ’n olifant of ’n ietermagôg. Die realiteit is, ons gaan dalk oor ’n dekade of ses na dié diere in museums moet loop kyk.”

Besmet se première by die 11de kykNET Silwerskermfees is op Woensdag 23 Augustus om 12:30. Dit sal ná die fees op kykNET vertoon word, waarna dit op Showmax beskikbaar sal wees.