Die 11de kykNET Silwerskermfees sluit die eerste keer ook kort dokkies en TV-programme in

kykNET brei vanjaar die gesogte Silwerskermfees uit, wat reeds meer as ’n dekade lank in die plaaslike filmbedryf en jong talent belê.

Die fees se suksesvolle kortfilmmentorskapprojek, waarmee kykNET ’n nuwe geslag filmmakers se loopbane ’n hupstoot gee, kring vanjaar uit na dokumentêre. Vir die eerste keer sluit die vol feesprogram die loodsepisodes van splinternuwe televisie- en stroomdiensreekse in. Die fees sluit vanjaar ook op ’n glansryke, selfs hoër noot as voorheen af met die eerste Silwerskermfeestoekennings waar top-televisie saam met die beste films van die fees vereer word.

Die 11de kykNET Silwerskermfees vind tussen 23 en 26 Augustus by die Bay Hotel en Theatre at the Bay in Kampsbaai plaas. Ná drie dae van kykgenot, verskuif die feesglans op die laaste aand na die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks), waar die gesogte Silwerskermstandbeeldjies onder die applous van meer as ’n duisend gaste aan vanjaar se filmfeespresteerders en die televisie-uitblinkers van die afgelope jaar uitgedeel sal word.

Dié swierige geleentheid met die grootste sterre op kykNET se blou tapyt, en topmusikante op die verhoog,  word die volgende aand, Sondag 27 Augustus, op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die benoemdes in die verskeie televisiekategorieë sal teen einde Junie aangekondig word.

Die films wat meeding om Silwerskermtoekennings is die vyf speelfilms, veertien kortfilms en ses dokumentêre wat tydens die fees première.   

Speelfilms

Vanjaar se Silwerskermfeesspeelfilms sluit twee verwerkings van blitsverkoperromans in: Hans steek die Rubicon oor, deur Rudie van Rensburg, en Annie Klopper se romantiese komedie Die tragiese saak van Pamina Vermaak.

Die knorrige ou Hans wat in ’n ouetehuis gestop word en sy mede-inwoners opsweep tot ’n rebellie teen dié “tronk” se drakoniese reëls word deur die geliefde Pierre van Pletzen vertolk. Onder die akteurs wat die rolle van sy kostelike troepe speel, is die legendes Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo en June van Merch. Die veelbekroonde aktrise Nicola Hanekom is die bitterbekmatrone wat almal se pret bederf.

Dié heerlike komedie is nog ’n spanpoging van die gedugte TV- en film-egpaar Corné en René van Rooyen, wat in 2017 die Silwerskermfees se toekenning vir beste speelfilm met Vaselinetjie verower het. Hulle was ook die kreatiewe geeste agter die gewilde TV-reeks Alles Malan.  

Die bekende televisiepersoonlikheid Kabous Meiring maak haar debuut as speelfilmregisseur met Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Carla Smith, wat verlede jaar as die fees se beste aktrise in ’n kortfilm vir haar spel in Skyn aangewys is, vertolk die rol van Pamina, die joernalis wat na ’n skilderagtige Weskusdorpie vlug nadat sy ’n herrie op kantoor veroorsaak het. Dis waar sy haarself vasloop in die rockster Wolf de Jager, wat ook ná ’n skandaal wegkruip. Christiaan Schoombie (Troukoors en Desert Rose) is die aantreklike Wolf. Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius, Armand Aucamp en Duane Willams is almal deel van die sterbelaaide rolverdeling.

Nog ’n romantiese komedie op die speelfilmprogram is Frankie en Felipé. Vir dié rolprent het Bradley Olivier en Solomon Cupido die toutjies vóór en agter die kamera getrek. Hulle het die fliek vervaardig, die draaiboek saam met Brett Michael Innes (Sink en Fiela se kind) geskryf én die hoofrolle gespeel. Bradley is Frankie, en Solomon is Felipé, twee broers wie se lewens heeltemal verskillende paadjies geloop het nadat hulle as kinders vanmekaar geskei is. Wanneer hulle net voor Frankie se troue herenig, lei dit tot ’n warboel van misverstande. Marvin-Lee Beukes is die regisseur en onder die ander spelers tel Ilse Klink, Zane Meas, Kim Syster en Bouwer Bosch.

Met Blindelings takel die glanspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts, wie se romantiese komedie Vir altyd loketrekords laat spat het, ’n nuwe genre – ’n sielkundige riller. Ivan behartig Blindelings se regie en Donnalee speel die uitdagende hoofrol. Haar karakter is ’n briljante blinde pianis wat ly aan sinestesie. Jacques Bessenger vertolk die rol van haar man en Ludwig Binge en Wilhelm van der Walt is die ander akteurs wat sorg dat dié speelfilm kykers enduit naels gaan laat kou.

Die drama Old Righteous Blues laat val die kollig op ’n Suid-Afrikaanse kultuurskat: die Wes-Kaap se Kersfeeskore. Hierdie boeiende Romeo en Juliet-verhaal binne ’n verskeurde Bolandse gemeenskap is in Robertson verfilm met ’n groot en indrukwekkende rolverdeling en ekstras wat in die omgewing woon. Dit vertel die verhaal van Hantjie, vertolk deur Ayden Croy, wat bitter graag sy Kerskoor se nuwe trommelmajoor wil word. Ongelukkig dra dit nie die goedkeuring van die koor se stoere leiers weg nie. Boonop is die liefde van sy lewe, gespeel deur ’n jong aktrise om dop te hou, Megan Saayman, die dogter van hul gehate oppossisiekoor se leier. Die vete tussen die kore kom ’n lang hartseer pad en die twee minnaars beland in die spervuur. Onder die talle veteraanakteurs wat in Old Righteous Blues te siene is, tel  Kevin Smith, Simon Bruinders en Ivan Abrahams.

Kort dokumentêre

Die Silwerskermfees se eerste ses dokumentêre kortfilms belig uiteenlopende onderwerpe.

Teater na die mense vertel die merkwaardige verhaal van die Cape Flats Players-geselskap wat teater ingespan het om die apartheidstelsel uit te daag en gehore bemoedig het om teen onderdrukking op te staan.

In Langafstand volg die kameras die reis van ’n rolmodel uit Cloetesville, Stellenbosch – die landloopatleet Deon-Lee Hendricks wat met die hulp van sy afrigter en die atletieklegendes Elana van Zyl en Zola Budd voorberei op die landlooproewe wat tussen hom en sy groot droom staan: om die Suid-Afrikaanse span te haal wat in Australië gaan meeding.

’n Gids vir Louzanne, nog ’n dokumentêr oor ’n inspirerende atletiekster, verken die ingewikkelde simbiotiese verhouding tussen die gesiggestremde Bloemfonteinse paralimpiese atleet Louzanne Coetzee en haar wedloopgidse.

In die aangrypende Call of the Wild sien kykers hoe ’n spesiale klanksafari ’n jong blinde meisie toegang tot die wonders van die natuur gee, terwyl Besmet ontbloot hoe die ikoniese Afrika-leeu hartverskeurend deur wrede vergiftiging bedreig word. Dan is daar ook Born Behind Bars, ’n aangrypende dokumentêr oor ’n ma wat swanger is wanneer sy tot tien jaar tronkstraf gevonnis word.

Kortfilms

Nadat verlede jaar se oes kortfilms ’n lang lys toekennings by internasionale feeste ingepalm het, is daar vanjaar veertien kortfilms deur belowende nuwe regisseurs en skrywers in hierdie feeskategorie. ’n Paar bekende akteurs wys dié keer hul slag met die pen en agter die kamera, en nuwe filmgenres maak hul buiging.

Die fees se eerste spookstorie en Gotiese romanse, Helmhart, is die handewerk van Zenobia Kloppers wat die rol van Fiela Koemoetie in die veelbekroonde Silwerskermspeelfilm Fiela se kind vertolk het.  Edwin van der Walt is die regisseur van die drama Hier|daar en Lee Roodt bring ’n kung-fu-aksiefilm na die fees met Die Swart Draak ontwaak. 

Van die kortfilmmakers eksperimenteer heerlik met animasie-effekte en marionettespel om hul stories te vertel, soos in Straatrotte en Thrift tot die dood.

Die lief, leed – en soms skreeusnaakse struikelblokke – van grootwordjare word in ’n hele paar kortfilms uitgebeeld. ’n Doop draai om die trauma wat skoolontgroening kan meebring, terwyl Dans dat die biesies bewe die lagspiere prikkel.

Moderne kwessies word uiteenlopend benader in die twee komedies Koors en Karen, en die drama Volle bors. Koors handel oor dáái tyd van die maand; Karen oor die chaos wat ’n internet-meme kan veroorsaak, en Volle Bors oor ’n jong vrou met ’n borskankergeen wat ’n volle mastektomie moet oorweeg.

Nog kortfilms om na uit te sien: Een Saam, wat die hartseer waartoe genderdisforie en ’n gender-oorgang kan lei, aanspreek; die kinkel-in-die-kabel-riller Werpsel; die drama As, oor ’n ma wat sukkel om die dood van haar kind te verwerk, en die grinterige Die Blokke, wat die Kaapse Vlakte se bendegeweld op ’n vars manier aanspreek.

Ná afloop van die fees sal al die Silwerskermfeesfilms hul pad vind na vertonings op kykNET en hulle sal later ook beskikbaar wees op die stroomdiens Showmax. Dié veertien kortfilms en ses kort dokumentêre sal ook by die Toyota US Woordfees Filmfees in Oktober vertoon word.

Die titels van die TV-programme waarvan loodsepisodes as ’n voorsmakie by die fees gewys word, is nog ’n geheim, maar sal binnekort bekend gemaak word.