Die kortfilm As is ’n driedubbele debuut vir Nisa Hockey

 

n Mens sou dit nooit kon raai as jy na die gehaltewerk in die aangrypende kortfilm As kyk nie, maar die dag toe die kameras begin rol het, was dit die eerste keer ooit op ’n filmstel vir As se regisseur en draaiboekskrywer, Nisa Hockey. 

Dié talentvolle jong filmmaker het die vorige jaar nog aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, waar sy haar Honneursgraad in Drama met spesialisasie in Kreatiewe Skryfwerk cum laude verwerf het. 

Met As vertel Nisa die roerende verhaal van Mara, ’n ma wat op ’n vreemde manier vasklou aan die laaste bietjie oorskot van haar oorlede dogtertjie. 

Uit nuuskierigheid het ons Nisa gepols oor haar eerste Silwerskermfeesdraaiboek, eerste dag op stel en regie-debuut. 

  • Wanneer en hoe het jy besluit jy wil ’n storieverteller wees?

My skuif van ’n konserwatiewe klein dorpie na ’n oopkop universiteit het eers ingesink toe ek by die koshuis aankom en ’n vriendelike Moslem-meisie ontmoet met iets wat ek nog nooit van tevore in lewende lywe gesien het nie – ’n neusring. Daardie een juweel in Minaaz se neus, was my persoonlike motoriese moment.. Toe ek by die koshuis inloop, was ek verlief op die menslike toestand en hoe elkeen verskil. My skrywerstem is daardie dag gebore.

  • As is ’n diep en ongewone storie oor verlies en vertroosting. Vertel ons meer daaroor.

’n Kwesbare ma wat fikseer op haar oorlede kind se as vir nabyheid en troosting is nie ligte tafelgesprek nie. As ’n 23-jarige sonder kinders, was my impuls om hierdie storie te vertel nie voor-die-hand-liggend nie. 

Die saadjie vir As is gesaai in my tweede-ry-sitplek by Ira Blanckenberg se 2018 Woordfeesproduksie oor die verlies van haar enigste seun. In haar eenvrouvertoning, vertel sy van haar instinktiewe honger om naby haar kind te wees, en hoe natuurlik, tog immoreel dit voel om haar seun se as te wil eet. 

So deur die trane kon ek ’n behoefte sien in ma’s wat kinders verloor het, wat ten spyte van die seer, aan sosiale standaarde moet voldoen. Hierdie ma’s word boonop alles steeds aangespoor om hul manier van verwerking aan te pas vir die samelewing, en nog erger, hulle eie gesinne. As poog om die ma’s met hierdie instink te verseker en gerus te stel, dat daar geen liniêre metode is om die dood van jou kind te verwerk nie, juis omdat die dood van ’n kind onnatuurlik.    

  • Hoe het jy as ’n regisseur-groentjie vir jou debuutfilm voorberei?

Ek het besluit om die boodskap van die film my anker te maak vir die verfilmingsproses en te fokus op die asemhaling, hartritme en toestand van Mara se storie. Ek kon sekerlik meer op my eie asemhaling gefokus het –  veral toe Roeline Daneel, wat Mara speel, my gespanne sweterige handjie geskud het en verseker het ons gaan ’n mooi film maak. Tog is die regisseur op stel  myns insiens die mediese beampte vir die welstand van die verhaal. 

  • Wat was jou grootste uitdagings tydens die verfilmingsproses?

Om as 23-jarige film-nuweling met gesoute akteurs te beplan aan ’n toneel, sonder om die ouderdom of ervaring te laat inmeng met die gesondheid van die storie.

  • Hoe was jou eerste ervaring op ’n filmstel anders as wat jy verwag het? 

Ek het elke dag opgedaag as regisseur, en ná ek die kaliber van die gesoute crew beleef het, weggery as ’n nederige student van die kuns van filmmaak. Voorts was ek  vriendelik verras met die empatie en professionalisme van die kinderakteurs en hul geldige oopkop vrae.  

As wys op Donderdag 24 Augustus om 09:00 by die Silwerskermfees en sal later te siene wees op kykNET en Showmax.