Die ongetemde stem word wyd gehoor
Sedert Gideon Breytenbach en Riku Lätti se dokumentêr, Die ongetemde stem – ’n Herontdekking van Afrikaanse musiek, by die 2022 kykNET Silwerskermfees in Maart gewys het, is dit ook vir die programme van die Encounters-dokkiefees in Kaapstad en die SAFF (South African Film Festival) in Australië en Nieu-Seeland gekeur. Kykers word oral meegesleur en onthuts oor die kultuur- en musiekgeskiedenis wat in dié film ontbloot word deur middel van argiefmateriaal en gesprekke met ’n wye verskeidenheid musikante, kenners en rolspelers in die plaaslike musiekbedryf waaronder Churchil Naudé, Frazer Barry, Deniel Barry, Schalk van der Merwe, David Kramer, Piet Botha, Lloyd Ross, Anton Goosen, Koos Kombuis, Jackie Lätti, Bacchus Nel, Theunis Engelbrecht, Rian Malan, Marcel van Heerden, Schalk Joubert, Jolyn Phillips, Deon Maas, Johannes Kerkorrel, Bernoldus Niemand, Christo van der Rheede, Hunter Kennedy, Willem Möller, Jannie ‘Hanepoot’ van Tonder en Max du Preez.
Mariana Malan beskryf dit in haar resensie vir Netwerk24 (https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/feeste/woordfees/resensie-dokkie-oor-afrikaanse-musiek-praat-met-eie-stem-20220713) as “ ’n op die man af eerlike en briljante dokumentêr wat kykers gaan laat nadink en net hier en daar ore kan oopmaak. Dit gaan ook sommige mense, dalk ’n hele klomp mense, die harnas injaag.”
In ’n resensie vir Rapport (https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/flieks/us-woordfees-tv-koos-doep-se-formidabele-musiekbydrae-20220717) noem Leon van Nierop dit ’n film wat “die kettings in jou kop losmaak.” Hy sê dié dokkie gee ’n “unieke blik op Afrikaanse musiek vol beelde en klank” en dat die sterkpunt veral in die veelheid stemme wat daarin gehoor word, lê.
Ons het ’n paar vrae aan die twee regisseurs van hierdie dokumentêr gestel.
V&A met Gideon Breytenbach en Riku Lätti
- Wat was die belangrikste vonk van inspirasie vir hierdie dokkie?
GB: Ek dink daar was baie elemente wat ons deurentyd aangevuur het om die dokkie te maak. Maar as ek dit moet reduseer na twee dinge sou dit wees: 1) Die ongeregtigheid wat tans die Afrikaanse musiekbedryf se fondasie vorm en 2) die grensverskuiwende musiek wat ten spyte van die stand van die Afrikaanse musiekbedryf steeds gemaak word.
RL: Die kunstenaars wat ten spyte van al die belemmeringe steeds nie kan help om daagliks meer nuwe musiek te skryf en te sing nie. Asook, spesifiek in hierdie geval, die onderhoud met David Kramer het definitief die film in die rigting gedraai van wat dit op die ou end geword het.
- Wat is die verskil tussen die film wat jy gedink het jy gaan maak en die een wat uiteindelik voltooi is?
GB: Ons aanvanklike mikpunt was om ’n program te maak oor al die mooi oorspronklike musiek wat grotendeels nie blootstelling in die massamedia kry nie. Maar die onderhoude het ons gelei na iets baie groters as dit. Die politieke kwessies het bly opduik in dié gesprekke. Ons het besef dat ons ons fokus sal moet verander om die stand van die musiekbedryf en die groter sosio-politieke prentjie van Suid-Afrika in te kleur om sodoende die musiek, wat ons wou blootstelling gee, in konteks te plaas. Die film is dus heel anders as wat ons aanvanklik beoog het, maar die kern daarvan is steeds wat dit aan die begin was: musiek.
RL: Dit wat op die ou end gemaak is en ons oorspronklike idee wat ons wou doen, verskil hemelsbreed, maar daar was ook altyd by ons ’n deurlopende gedagte dat ons reg moet wees om te gaan waarheen die storie ons lei en om aan te hou delf as iets waardevols spontaan ontstaan.
- Wat was die grootste uitdaging met hierdie projek?
GB: Die dokkie se storie strek baie wyd – in terme van die tydperk wat ons bespreek, van die 1600’s al die pad tot in 2022, maar ook in terme van die sensitiwiteit van die onderwerpe wat ons aanraak. My grootste uitdaging was om al hierdie inligting in ’n verteerbare en boeiende manier saam te trek. Alhoewel dit vir my uiters belangrik was dat ons die musiekgeskiedenis so volledig as moontlik vertel, het ek besef die kern van die storie lê in die huidige ongelukkigheid onder dié mense wat die gevolge van die geskiedenis dra: die bruin Afrikaanssprekende bevolking. As ’n wit Afrikaanse man is ek self ’n begunstigde van ’n stelsel wat hierdie groep onderdruk het en daarom is dit Churchil Naudé, ’n hoogs begaafde rymkletser van Mitchells Plain, wat die fokus word en vertel van die struikelblokke wat hy ervaar het as ’n bruin musikant in die Afrikaanse musiekbedryf.
RL: Daar was verskeie, maar nie een wat ooit massief gevoel het nie, want Gideon weet presies wat hy doen. Ek kon dus konsentreer op wat ek doen en het dit dan so geniet dat dit altyd ’n plesier was om hieraan te werk.
- Wat is die beste raad oor films maak wat jy nog gekry het?
GB: Almal het ’n storie en almal se storie is belangrik. Dit is die raad wat ek by my dosent dr. Phyllis Dannhauser gekry het tydens my studiejare. Sy het ook altyd klem gelê op die belangrikheid van die storie: As die storie nie sterk is nie, is daar niks. Daar is geen akteur of musiek of graphics wat jou kan red as daar nie ’n storie is nie. Die ander raad was van Lloyd Ross: “You’ll only consider the film finished once it is sold.”
RL: Probeer altyd so eg as moontlik wees. Dinge lyk onmiddellik vals as jy probeer afsjou en snaakse truuks uithaal. Dit wat reeds daar is, as die inhoud gewig het, is reeds interessant genoeg. Probeer dit net so skoon as moontlik vasvang en mense sal die eerlikheid, al is dit soms onbewustelik, waardeer.
- Wat was die belangrikste ding wat jy met hierdie film wou oordra?
GB: Ek het groot geword met ’n baie eng en gestroopte konsep van wat dit is om Afrikaans en/of ’n Afrikaner (’n term wat ek steeds baie ongemaklik mee is) te wees. Met die film wou ek die ware geskiedenis en hoe inklusief en divers dit eintlik was duidelik op die tafel sit vir almal om te sien. Ek dink hoe meer mense hiervan bewus is, hoe meer inklusief sal Afrikaans en die Afrikaanse musiekbedryf word.
RL: Die grootste punt wat ek wou tuisbring, is dat daar baie oorspronklike kreatiewe stemme in Afrikaans is wat nie gehoor word nie. Ons sit op die ou end met ’n lekker probleem: Afrikaans is nog ryker as wat ons dink! Ons moet egter nog by die punt kom waar al die Afrikaanse stemme deur die gemeenskap geken, aanvaar en omarm word. Maar niemand moet moed verloor nie, ons is BAIE beter af as wat ons was 30 , 40 of 50 jaar gelede.
6. Op watter toneel/tonele in hierdie dokkie is jy die trotsste vanuit ’n tegniese oogpunt?
GB: Ek weet nie of ek noodwendig trots is op die toneel nie, maar ek voel daar is een deel in die film waar die gewigtigheid van die kwessies wat ons aanraak, vasgevang word. Dit is waar ons wys hoe Afrikaanse musiekfeeste, radiospeellyste en tydskrifte gedomineer word deur wit kunstenaars. Dié objektiewe bewysstukke gee konteks aan al die ander gesprekke rondom taal, kultuur en die uitsluiting van die bruin gemeenskap en bevestig dat dit meer as net ’n “gevoel-van-uitsluiting” is – dis ’n harde werklikheid.
RL: Ek is mal oor die grafiese elemente, soos die kunstige collages wat Gideon aangewend het om die storie aan te vul. Op een vlak is dit pragtige beelde, maar die funksionaliteit is dat, terwyl jy na die mense luister, jy inligting in die agtergrond ontvang wat nodig is vir al die punte om bymekaar te kom.
- Watter fliek/dokumentêr sou jy maak as jy ’n enorme Hollywood-begroting gehad het?
GB: Ek dink nie begroting is iets wat ’n dokumentêr kan maak of breek soos in die geval van fiksie nie. Ek volg storie wat vir my belangrik is en wat ek hoop een of ander positiewe effek tot gevolg kan hê. Sou daar ’n Hollywood-begroting in my skoot val, sou ek ’n groot ondersoekende dokumentêr wou loods wat die KwaSizabantu- religieuse sekte aan die wêreld ontbloot. Die hoeveelheid kinders wat jaarliks onder dié organisasie se hande ly, is skrikwekkend. As dit kom by fiksie, sou ek graag wou sien hoe Riku Lätti se musiekblyspel Blood & Wine (Die Pop aan die Toutjie) se draaiboek omskep word in ’n film. Dit is eenvoudig die beste draaiboek wat ek nóg gesien het.
RL: Ons het reeds die draaiboek geskryf vir die film waarvoor ons ’n groot begroting nodig het. Dit is ’n Afrikaanse rock-opera met ’n wilder storielyn as Sweeney Todd en sowat 30 nuwe Afrikaanse liedere wat met ’n orkes uitgevoer moet word. So, kom ons hou duim vas dat Hollywood die waarde van ’n ordentlike Afrikaanse musiekblyspel sal raaksien en onmiddellik vir Quentin Tarantino stuur met ’n aktetas vol whatever so mooi gegloei het in Pulp Fiction.
- Is daar ’n fliek of toneel in ’n film wat jou laat besluit het jy moet eenvoudig eendag ’n filmmaker word?
GB: Ek dink nie daar was so ’n fliek of toneel nie, maar ek moet egter erken dat ek as laerskoolkind ’n opname van Willie Esterhuizen se Vetkoekpaleis bygewoon het en ek dink die energie in daai ateljee het ’n groot indruk op my gelaat en ’n rol gespeel in my uiteindelik loopbaankeuse. Maar my grootste beweegrede was maar nog altyd musiek. So, die werk van Lloyd Ross het ’n geweldige rol gespeel in my vormingsjare.
RL: Nee, inteendeel, goeie flieks laat my altyd dink dat ek te min weet om ooit goeie flieks te kan maak, veral die flieks wat my regtig uitboul soos 2001 A Space Odyssey, of O Brother, Where Art Thou? en Amadeus. Dit is eerder my brandende begeerte om ’n storie te vertel wat my dwing om nie te skaam te wees en, ten spyte van tekortkominge, steeds aan te hou flieks maak, so goed as wat ons kan, gegewe ons omstandighede.
- Wie is jou drie gunstelingregisseurs?
GB: As dit kom by dokkies is my gunstelingregisseur Errol Morris. Ek is ook mal oor dieselfde gedrewe aanslag van Werner Herzog, die groot visie van Michael Apted, die karakterisering in Nick Broomfield se werk en die barre benadering van Michael Moore. My mees onlangse gunsteling is John Wilson. Sy How To With John Wilson-reeks op HBO is besonders.
RL: Suid-Afrika se Jans Rautenbach natuurlik en internasionaal die Coen Brothers, Tarantino, Stanley Kubrick (alhoewel ek nie van al sy films hou nie) en David Lynch.
- Sedert Die ongetemde stem na die 2022 kykNET Silwerskermfees genooi is, is dié dokkie ook vir twee ander groot internasionale filmfeeste gekies. Hoe is die dokumentêr daar ontvang?
GB: Dit voel of die mense wat dit gesien het, die regte boodskap van die film huis toe geneem het en of dit ’n verskil in hulle denkwyse gemaak het en/of beaam het wat hulle lankal reeds vermoed het. Ek hoop egter om uiteindelik die groter Afrikaanse publiek ook betrokke te kry by dié gesprek.
RL: Ek was nou nie self daar om waar te neem presies hoe dit ontvang is nie, maar ons het korrespondensie ontvang van die organiseerders wat baie positief was en die film as een van hulle gunstelinge op die feesprogram bestempel het. Ek voel egter dis die tipe film wat as dit werklik suksesvol is, ook heelwat negatiewe kritiek moet uitlok, want dis ’n kontroversiële onderwerp. So, ek hoop eintlik van harte dat die fliek liewer ’n passievolle debat ontketen as wat almal net eenvoudig sê: “Oe, maar dis nou vir jou ’n mooi film.”
***
Diane de Beer het Die ongetemde stem by die Silwerskermfees gesien en het dit op haar blog, De Beer Necessities, beskryf as “a hard and uncompromising look at the Afrikaans music industry and the racial imbalances that still persist almost 30 years into our democracy”. Klik hier (https://debeernecessities.com/category/movies/) om haar onderhoud met Riku Lätti te lees. Sy skryf ook in hierdie stuk oor ’n ander opspraakwekkende musiekdokumentêr wat vanjaar by die kykNET Silwerskermfees te sien was – Lebogang Rasethaba en Nthato Mokgato (Spoek Mathambo) se Mutant wat draai om die onstuimige lewe van die omstrede Kaapse rapper Isaac Mutant.
Klik hier (https://silwerskermfees.co.za/film/?2021/die_ongetemde_stem) om te kyk na die V&A met David Kramer, Churchil Naudé, Gideon Breytenbach en Riku Lätti wat ná die vertoning van Die ongetemde stem by die 2022 kykNET Silwerskermfees plaasgevind het.
Die ongetemde stem – ’n herontdekking van Afrikaanse musiek word op 26 Julie om 22:15 op die Woordfees TV-opwipkanaal (DSTV-kanaal 150) uitgesaai.