Dokumentêr: Jan Bloed

Die vervaardigers van die dokumentêre prent Jan Bloed, Gerrie Janse van Vuuren en Nicolaas Viljoen, neem kykers deur die strate van Westbury in Johannesburg om Alister Fortuin se tyd as lid van die Fast Guns- en Varados-bendes te herleef. Ná 22 jaar agter tralies het dié eks-bendeleier egter ’n dieper verhouding met die Here ontwikkel en nou is dit sy missie om as pastoor die gemeenskap van Westbury uit die kloue van misdaad te help bevry.

Gerrie en Nicolaas vertel saam oor hoe hulle op die storie van Jan Bloed afgekom en uiteindelik in ’n dokkie omskep het.

Kykers het al baie flieks en stories oor bendes in Suid-Afrika gesien, maar wat maak Jan Bloed anders? Hoekom was dit vir julle belangrik om hierdie storie te vertel?

Die storie is baie persoonlik en fokus op een persoon se reis van bendeleier na pastoor. Dít is wat dit so anders maak. Dis nie net nog ’n storie van hoe erg en sleg die bendes is nie, dit is Alister se storie van hoe hy uit ’n baie donker plek gekom en geroepe gevoel het om as die “Moses van Westbury” sy storie te gebruik en só verandering teweeg te bring. Dis vir ons belangrik om dié storie te vertel, want ons kan dit gebruik om ’n verskil in ’n gemeenskap soos Westbury te maak.

Daar word gewoonlik op die Kaapse Vlakte gefokus as bendestories vertel word. Hoekom het julle besluit om op bendes in Johannesburg, spesifiek Westbury, te fokus?

Dis juis hoekom ons op dié gebied wou fokus – daar is al so baie gedoen oor die Kaapse Vlakte. Ons bly in Johannesburg en Westbury is reg om die draai van ons. Die plekke naby aan jou is waar ’n mens moet begin om ’n verskil te probeer maak.

Alister, of Jan Bloed soos daar na hom verwys word, is baie eerlik oor sy vorige lewe en die misdrywe wat hy gepleeg het. Hoe moeilik was dit om hom te oorreed om teenoor julle oop te maak?

Dit was meestal nie moeilik nie, maar daar was wel sekere tye wat hy kwesbaar oorgekom het. Dan wou hy nie op te veel besonderhede ingaan nie. Ons was natuurlik ook by tye verbaas oor wat hy vertel het en ’n mens besef dan eers hoe ver hierdie ouens sou gaan.

Was dit ooit intimiderend vir julle om in die strate van Westbury te stap? Hoe het julle die verfilming daar benader?

Ja, beslis! Ons het altyd sekuriteit by ons gehad en hulle was ook heeltyd bewus van wat in Westbury aangaan. As dinge gevaarlik gelyk het, het ons hele span dadelik onttrek of eenvoudig die verfilming herskeduleer. Ons was gelukkig dat ons daar kon skiet, omdat ons self in Johannesburg bly.

Hoe het julle op Jan Bloed afgekom en hoekom het sy storie vir julle uitgestaan?

Ons was besig met navorsing vir ’n ander projek en het in die Westbury-gebied begin rondbeweeg. Soos ons met een van ons kontakte oor die bendes in Westbury gesels het, het die storie van Jan Bloed opgekom. Die tydsberekening was ook fantasties, want ons polisiekontak het hom boonop in die straat raakgeloop en ons toe laat weet. Toe gaan drink ons ’n koffie saam, en soos hulle sê: The rest is history.

Wat het julle die meeste tydens verfilming ontstel? En wat dink julle gaan kykers die meeste skok?

Hoe maklik dit vir sommige van hierdie ouens in die bendes is om ’n lewe te neem. Hoe bloeddorstig hulle kan wees – veral die nuwe generasie. Kykers gaan geskok wees om te hoor hoe jonk van die ouens is as hulle vir die eerste keer by die bendes betrokke raak, soos Alister ook maar was.