Dokumentêr: Tussen die draad en die dropper

’n Besonderse storie ontvou as die fotojoernalis Willem van der Berg na die Hardemanskaroo terugkeer op soek na ’n verlore draadspanner, Hans Jors. Willem het ’n jarelange en noue verbintenis met Hans, maar dan kry hy nie vir Hans opgespoor nie, en die boer vir wie Hans ’n hele Karoo-koninkryk toegespan het, wil niks sê nie.

In dié dokkie, met Willem as vervaardiger en regisseur, en Conrad Bornman as kinematograaf, word die raaisel rondom Hans losgetorring terwyl skrille kontraste in ’n verdeelde gemeenskap na vore kom.

Willem vertel oor die storie van mense wat aan die verkeerde kant van die draad gebore is.

In Tussen die draad en die dropper vertel jy dat Hans Jors jou joernalistiek toe laat mik het om die stories van ‘weggesteekte lewens’ te vertel. Hoe voel jy vandag oor daardie besluit?

Hans en al die ander mense waaraan niemand ooit dink nie, het my vir seker laat besef dat daar so baie en soveel belangrike stories is wat verlore gaan. Dit was van die begin van my joernalistieke loopbaan vir my belangrik om by daardie stories uit te kom. Die laaste paar jaar voel dit soos my lewenstaak en plig.

As gevolg van klein begrotings en allerhande ander redes, beweeg joernaliste al hoe minder en nie sommer baie ver nie. Dit is vir my verskriklik hartseer dat dit veroorsaak dat stories in die stil dele van ons land nooit gesien of gehoor word nie.

Ek probeer regtig alles moontlik om by hierdie ‘weggesteekte lewens en stories’ uit te kom. En dit is ’n groot, groot voorreg om dit te kan doen en deur mense daarmee vertrou te word. Daarom sorg ek ook dat dit so eg, so rou, en so mooi soos wat dit moet wees, oorvertel word.

Jannetjie se droewigheid oor haar broer Hans is hartroerend en jy het haar emosies baie mooi vasgelê. Hoe belangrik is dit om ’n professionele afstand te handhaaf wanneer soveel emosie opduik?

Dit was ’n vreeslike moeilike oomblik vir my en vir die span. Daar was eintlik so mín afstand. Ons was daar saam met haar op en om haar bed. In die kleinste, eenvoudigste huisie.

Ek het baie sleg gevoel omdat ons met kameras en mikrofone in daardie persoonlike ruimte sit terwyl sy so emosioneel raak. Ek probeer altyd in sulke tye dink wat ek sou doen as dit ek voor die kamera was.

Ons moenie dink omdat ons joernaliste is, dit vir ons die reg gee om daardie oomblikke vas te vang nie. Daarom het ek haar bloot die tyd gegee om te voel wat sy voel en te sê hoe sy voel, totdat ek weer ’n kans gekry het om aan haar te verduidelik dat ons saam met haar hartseer en bekommerd is en regtig vir Hans gaan soek. Dit was vir my belangriker om om te gee, eerder as om bloot ‘professioneel’ op te tree.

Dit was moeilik om met die ontwykende boer, Tienie, ook jou gewese werkgewer, in gesprek te tree. Wat dink jy het hom werklik aan die einde oorreed om jou na Hans Jors te neem?

Ek is nie heeltemal seker nie. Dalk ons uithouvermoë! Want ek en Conrad Bornman, die kameraman, het selfs langer in die Karoo rondgehang nadat ons ander twee spanlede terug huis toe is. Alles in die hoop dat ons nog by Hans, of ten minste by Tienie, kan uitkom. Ons was taamlik lastig, maar die heeltyd vriendelik. En die doel van die film was nooit om Tienie enigsins negatief uit te beeld nie. Ons wou net by Hans uitkom.

Maar soos wat Nieklaas Diergal van Carnarvon altyd gesê het: ‘Wat jy doen, doen jy aan jouself.’

Jy het duidelik ’n passie vir storievertel deur jou fotografie. Wat is jou vroegste herinnering aan ’n besondere foto wat jy geneem het? En wat was jou eerste kamera?

Ek moes hard werk om ’n behoorlike fotograaf te word. Ek het myself geleer tydens my studentejare en my eerste kamera was ’n Canon 400D. In daardie tye wou ek basies net rock ’n roll in die kuierplekke afneem en enige skerp skote van Van Coke Kartel en Fokofpolisiekar was my gunstelinge.

Maar die eerste foto wat regtig iets beteken het, was dié van Andries Tatane, sterwend in sy vriend Molefi Nonyane se arms. En dit was nie omdat ek ’n goeie fotograaf was nie, ek was maar net daar toe die mense van Ficksburg teen die korrupte munisipaliteit betoog en die polisie vir Andries geskiet het.

Ek het toe besef dat ek as fotograaf ook altyd wil probeer om die stories van mense te vertel waarby min ander uitkom.

Tussen die draad en die dropper gee kykers ’n blik op die lewens van mense wat selde in die kollig verskyn. Waarheen gaan jou volgende reis na weggesteekte lewens jou voer?

Ek is tans besig met ’n reeks artikels vir Weg! oor William Burchell se 1811-verkenningsreise deur die binneland van Suid-Afrika.

Dit neem my na fantastiese mense en stories in die wye Karoo, van die Tankwa tot Graaff-Reinet. Ook deur die Garieprivier, Griekwaland-Wes en die Kalahari. Ek kom beslis by daardie weggesteekte lewens uit.

Maar die wonderlike Boesmans wat Burchell oral teëgekom het, kry ek nêrens nie en dit maak my meer en meer depressief.

Vantevore het jy die Kalahari die mooiste plek op aarde genoem. Het die Karoo en sy mense dalk nou, nadat jy Tussen die draad en die dropper gemaak het, ook gelyk gaan staan met die duine?

Ek kon dit al gesê het, ek ís lief vir die Kalahari. Maar die Karoo het my huis geword. My voete voel tuis op die klipperige aarde, tussen die bossies en onder die kombuistafels van die mense daar. Ek gaan so gereeld ek kan Karoo toe. En dit is nie genoeg nie.