Dokumentêr: Vergeet van my
’n Stowwerige swart krat met foto’s, joernale en plastieksakke vol van DV8-videokassette wat ’n musiektoer vasgevang het, was maar net die begin van ’n projek wat later in die dokumentêr, Vergeet van my, omskep sou word. Toe die akteur, draaiboekskrywer en voormalige tromslaner van Zinkplaat, Beer Adriaanse, op dié krat afkom, ’n skatkis van herinneringe wat hy gedink het vir ewig verlore was, was hy nie seker wat om daarmee te maak nie. Maar Dirkie van der Merwe, wat saam met Beer daardie einste musiektoere gereël en herinneringe help skep het, het hom oortuig dat hul storie van ontdekking, grootword en jeugdige rebellie op ’n skerm hoort.
Beer, die dokumentêr se skrywer en regisseur, en Dirkie, die vervaardiger, vertel meer oor Vergeet van my wat onder die vaandel van DPK Productions geskep is.
Die dokumentêr verloop baie soos die lees van ’n storieboek. Hoe het julle op die aanslag, met Beer as verteller en die uitsluitlike gebruik van argiefmateriaal, besluit?
Dirkie: Die projek het eintlik baie verander van die aanvanklike voorlegging wat ons gedoen het. Ons het baie oor die idee van herinneringe en hoe ons dinge onthou – en ook verskillend onthou – gepraat, maar uiteindelik besluit om dit as ’n tipe argief of artefak te benader.
Beer: Ja, die aanslag was eintlik een van ons grootste uitdagings. Die eerste videomateriaal wat ons gevind het, was oor die Derde Avontoer. Die Avontoere was ’n reeks musiektoere tussen 2006 en 2012. Tydens daai Derde Avontoer het ons ook ’n fliek geskiet wat nooit die lig gesien het nie. So ons aanvanklike idee was om die ware verhaal van hierdie fiktiewe fliek, wat op ’n real toer geskiet is, te vertel.
Maar dit het net te gekompliseerd geraak. Wat toe ’n groot ommeswaai gebring het, was toe Stephanus Rabie, nou ’n regisseur en vervaardiger wat destyds ook in en uit op die toere was, vir ons ’n hardeskyf gestuur het met beeldmateriaal van die Eerste en Tweede Avontoer. Toe het ons ’n argief van goud. Maar ons het steeds net 30 minute vir die dokkie gehad en ons het vinnig besef ons moes wegbreek van die argiefmateriaal, want dit sou nie werk nie. Dis vir my meer waardevol om vir mense te wys, eerder as om konteks te skep. Show, don’t tell.
Daarna was die uitdaging dat ons net tyd gehad het het om een persoon se weergawe van die storie te vertel. Toe moes ek vir Dirkie en Bertie Coetzee, Zinkplaat se hoofsanger en mede-organiseerder van die toere, sê: ‘Ouens, hierdie gaan my weergawe wees, sorrie vir julle!’
So, is ’n langer of uitgebreide weergawe van dié dokkie dan die logiese volgende stap?
Beer: Ek dink daar is baie waarde daarin om die volledige storie te vertel. Ek dink dit sou kon werk as ’n beperkte of minireeks, bestaande uit minstens vier episodes. Daar is definitief genoeg beeldmateriaal en daar is genoeg storie waarby ons nie uitgekom het nie; waar ons nie die afdraaipaaie gevat het nie. Die invalshoeke is legio, en ek wil amper sê die uitvalshoeke ook; waarheen dit gelei het en waarheen dit kón gelei het. So, as ons ’n geldjie kry, dan ja, absoluut, dit sal wonderlik wees. ’n Heel ander eksperiment.
Beer, hoe het Dirkie jou oortuig om die dokumentêr aan te pak? Jy kon ook niks met daai krat gedoen het nie …
Dié projek is eintlik volsirkel vir my. In 2012 het Dirkie, terwyl ek in Duitsland geswot het, vir my ’n e-pos oor die Silwerskermfees gestuur en aangemoedig om in te skryf. Dís hoe dit gebeur het dat ek my eerste kortfilm, Die buurtwag, gemaak het.
En nou is dit jare later en hy sê toe weer, kom ons maak iets. En ek het seker 17 keer vir hom gesê hier is nie ’n storie nie, kom ons los dit net. Maar toe Faan (Stephanus Rabie) daai hardeskyf stuur en ons die res van die skatkis vind, toe ontplof die wêreld op ’n manier, want toe is dit skielik iets interessant wat ek vir mense wóú wys.
Hoe voel dit om jou jonger self so op skerm te sien?
Dirkie: Dis nogal interessant. Veral omdat my verhouding met Marisa, my vrou, toe begin het. In daai stadium het sy my net twee maande geken, maar sy het saam met my op die toerbus geklim. Ons was al gewoond aan daai wêreld, maar vir haar om reguit daarin ingegooi te word en om nou weer te sien hoe dit van buite af gelyk het … totale chaos. Ons het onlangs daaroor gepraat en sy sê toe dat sy in daai stadium pas uit ’n bad patch gekom het, en daai chaos die energie was wat sy nodig gehad het.
Beer: Ek het nou ses maande met my vriende se jonger selwe gespandeer, asook met mý jonger self. Dit het my onkant gevang hoe vervullend dit vir my op sielsvlak was en hoe ek oor my huidige lewe moes herbesin.
Mense wat met Fotonadans se musiek vertroud is, sal die dokumentêr se titel (ook een van dié musiekgroep se grootste treffers) erken. Wat lê agter die titelkeuse?
Beer: Die liedjie was ons amptelike kreet op die Eerste Avontoer. Die tweede strofe van die liedjie sê immers ‘volg die roete van Desember’.
Dirkie: Die titel sluit ook aan by die idee van om deel van ’n groep te wees. Vergeet van my as ’n individu, want ek is deel van hierdie groter ding, hierdie groter droom. Ons is ook ’n bietjie van daai ‘vergete’ generasie toe selfone nog nie oorheers het nie. Jy sien in die dokkie op watter foon ek praat; dis ’n SMS-foon! Jy moes drie keer die knoppie druk om by ’n c uit te kom.
Die musikant Le-Roi Nel, voormalige hoofsanger van Fotonadans, het ook die oorspronklike klankbaan vir julle geskep, nie waar nie?
Beer: Ja, Le-Roi het drie van my onlangse projekte se klankbane geskep: Ekstra medium, Laastes en Parable. Hy is een van my beste vriende, maar ook, wanneer hy musiek maak, voel dit asof iets in my maag draai – op ’n goeie manier. Asof iets in my oerkoek gestimuleer word. En as jy uit jou oerkoek, jou diepste wese, wil skep, help dit om iemand te kry wat minstens met joune kan gesels.
Wat was die lekkerste deel om hierdie dokkie te maak?
Dirkie: Om weer met mense wat jy jare terug gesien het, te gesels; om daai connections te laat herleef.
Beer: Dit was vir my wonderlik om tyd saam met my vriende se jonger selwe te spandeer. Een van die vervullendste aspekte hiervan was om met mense kontak te maak met wie ek jare terug laas gepraat het.
En wat het julle uit die ervaring geleer; waarvoor is julle dankbaar?
Dirkie: Ons het al narratiewe kortfilms gemaak, maar nog nie ’n dokkie nie. Maar selfs dokkies kan baie van mekaar verskil; met narratiewe dokkies kan jy byvoorbeeld baie goed script en reël. Ons projek het heelwat buite die gewone riglyne geval, maar die Silwerskermfees het vir ons baie grasie gegee. Die kreatiewe sy was baie cool gewees.
Beer: As ek dit moet vergelyk met 2012 toe ons Die buurtwag gemaak het – ek was toe redelik vars uit die musiekbedryf, so ons het dit 100% met ’n cowboy-ingesteldheid benader. Die fees het ons toe die vryheid gegee om ons weergawe van ’n kortfilm te maak. Ek het gedink dat hulle dalk intussen die skroewe ’n bietjie stywer gedraai het en strenger sou wees, maar hulle het oopkop gebly. Ek is baie dankbaar vir die geduld wat hulle met ons gehad het.
Ek voel ook soms soos die Silwerskermfees se mascot, want ek vertel vir elke liewe persoon met wie ek paaie kruis en wat in die bedryf wil kom: ‘As julle wil begin, doen dit daar.’ Want niemand anders gaan vir jou geld gee om te leer nie. Niemand anders gaan vir jou nie voorskryf watter genre dit moet wees nie. Hulle gaan goeie mentorskap bied met regte teksmentors, met regte regisseurs en vervaardigers. Die fees het, volgens my, letterlik Afrikaanse film se tweede revolusie veroorsaak.