



Kort dokumentêr: Bliksems in Bothaville
Hy is één stoeier in ’n gemeenskap van 46 030 mense daar in die hartland van die Vrystaat – Bothaville. Roger Wilters is groot van postuur met ’n verskeidenheid tatoes op sy arms en bene. En sy bure, Fancois en Nakki Stimie, beskryf hom as ’n sagmoedige reus. Vir hom is sy “Tannie Nakki”; vir haar is hy “Roggie”. Dis dan om Roger se werklik eiesoortige en roerende storie wat die kort dokumentêr, Bliksems in Bothaville, draai.
Roger se geloof is duidelik vir hom ’n anker, iets wat ’n groot rol in sy lewe speel en hom staande hou te midde van teleurstellings en die gevoel dat hy sy dogtertjie gefaal het.
Bedags werk hy in die plaaslike kunsmisfabriek. En wanneer hy kan, oefen hy in sy agterplaas. En Roger droom. En hy droom groot, baie groot – beide as Roger en as Kill Switch, sy stoeipersona. Daar’s die swaargewig-gordel en die hoop dat sy dogtertjie langs die kryt sal wees wanneer hy dit omhoog lig …
Regisseurs Tharine Pienaar en Saskia Hill vertel saam meer oor hul kort-dokkie:
Waarom het rofstoei, wat eens groot was op dié dorp, uitgedun tot net een stoeier?
Rofstoei het uitgedun geraak omdat sy Bothaville-vuurhouer, Tornado, oorsee verhuis het vir werk. Dit het beteken dat die laaste formele rofstoeiklub, Rockstar Wrestling, sy deure moes sluit.
Daar is nog ’n paar van die voormalige rofstoeiers van die klub in die omgewing, soos die man wat die hardewarewinkel besit en bestuur. Maar nou is Roger die enigste aktiewe rofstoeier in Bothaville, en in daai groot borskas van hom koester hy ’n groot droom: om weer ’n rofstoeiklub te begin, ’n dream factory waar veral jong mense veilig kan wees en ook groot kan droom.
Roger is 38 jaar oud en hy is eintlik in Koster, ’n plaasdorp in Noordwes, gebore. Hy het wel meeste van sy jong dae in Witbank spandeer, maar vandag is hy ’n Bothaviller in murg en been.
Dis merkwaardig dat Roger nie huiwer om sy emosies in die dokumentêr te wys nie?
Wat lyk soos openhartigheid op kamera, was eintlik ’n man wat deur ’n emosionele orkaan beweeg het. Roger het reeds soveel verlies ervaar toe ons begin skiet het. Ons kameras het begin rol op ’n tyd toe sy hart reeds oormatig vol was.
Roger se weerloosheid het ons almal in ’n stadium diep geraak. Daar is iets ongelooflik eerlik aan hom. Maar hoe verder ons gevorder het, hoe meer het ons besef daar is baie seer agter die glimlag. Van die begin af het Roger sy hart teenoor ons oopgemaak. En dit was pragtig. Maar dit was ook moeilik. Sy emosies lê nie net op die oppervlak nie. Dis diep, swaar en werklik.
Vir ons as span was dit soms moeilik om daardeur te werk, want sy weerloosheid het soos ’n golf oor ons gespoel. As jy langs hierdie sagmoedige reus staan, voel jy sáám met hom.
Wat is die gemeenskap se reaksie op Roger?
Die gemeenskap se liefde vir Roger is duidelik, maar sy droom is vir die meeste van hulle ’n bietjie vreemd. Maar al verstaan hulle nie heeltemal waarom ’n groot man met ’n masker ander groot manne rondgooi nie, ondersteun hulle hom juis omdat dit van hom af kom. They are not sold on the dream; they are sold on the dreamer.
In die toneel van die “kontrak-ondertekening” het een arme ou op die tafel beland. Dit lyk asof hy beseer is. Was dit werklik of voorgee?
Wat op daardie tafel gebeur het, was pure toewyding aan die wêreld van rofstoei. Die man het laat blyk dat hy seergekry het, en dit só oortuigend dat selfs die organiseerders gespanne geraak het. Branden Loughton (uitvoerende hoof: New South African Wrestling) en Matthew Hammar (bedryfshoof: NSAW) het ná die tyd ys gesoek vir die “beseerde”, en koppe geskud asof hierdie voorval net een te veel vir hulle was.
Maar toe almal eers uit die vertrek was, kom die ontknoping: dit was alles deel van sy taktiek! Dis ’n rofstoei-reël: rofstoei eindig nie wanneer die laaste klap in die kryt val nie, dit eindig wanneer die laaste toeskouer vertrek.
Hoe lank het julle gehad om als te skiet?
Dis nie net rofstoei wat beplanning verg nie – logistiek ook! Ons moes van Kaapstad al die pad Bothaville toe. Eers ’n vlug, toe ’n lang road trip. Net een dag vir ’n recce, vyf dae van skiet, en toe weer terug Kaap toe met baie koffie-stops, ’n stil Spur-aandete en ’n interessante motel. Dis nie vir sissies nie!