



Kort dokumentêr: Felix by die koppie
As jy die afgelope twee dekades ’n plaaslike koerant gelees het, het jy waarskynlik al van Felix Dlangamandla se foto’s gesien. As een van Suid-Afrika se voorste fotojoernaliste het hy byna elke groot nuusgebeurtenis gedek. Maar dit is sy ervaring van die Marikana-slagting wat die fokus is van regisseur en vervaardiger Xolani Nhlapo se aangrypende dokumentêr, Felix by die koppie. Xolani en sy mede-vervaardiger, joernalis Hancu Louw, vertel meer oor dié storie:
Wat het julle na Felix en hierdie storie gelei?
Xolani: In 2014 het ek pas begin met videojoernalistiek. Op ’n dag het ek as groentjie in ’n hof beland, sonder ’n idee watter tipe foto’s om te neem. Ek staan daar, kamera in die hand, heeltemal verlore. Toe sê Janice Raath, die verslaggewer saam met wie ek was: “Sien jy daai ou? Dis Felix. Bly naby hom. Neem alles af wat hy afneem.”
En op daardie oomblik het alles verander. Ek het hom soos ’n skaduwee gevolg, en aan die einde van die dag het ek alles gehad wat ek moes hê. Hy het ’n verre tipe mentor vir my geword.
En toe, in 2023, het ek ’n konsep vir ’n mini-dokkiereeks in my kop gehad oor nuusberigte wat Suid-Afrika geruk het sedert demokrasie aangebreek het. My voorleggings is afgekeur, so ek moes ’n ander koers inslaan. Toe verskyn Silwerskerm op my radar, en dit was die ideale geleentheid om ’n kort dokumentêr oor Felix se ervarings by Marikana voor te lê.
En wat het daartoe gelei dat julle twee saam aan die projek gewerk het?
Hancu: Vir die afgelope drie jaar werk ons as ’n hegte span – Xolani as kamera- en klankoperateur, en ek as veldjoernalis. Omdat ons aan ’n groot verskeidenheid stories werk, reis ons baie saam. In dié tye saam het ’n sterk band tussen ons gevestig geraak – as kollegas, joernaliste, aspirant-filmmakers en vriende. Dit het die grondslag geword van ’n professionele verhouding waarin ons mekaar help om ons vaardighede te slyp.
Xolani: Ek en Hancu ken mekaar al lank. Hy’s een van daai staatmaker-joernaliste – skerp, ervare, en altyd in die voorste linies. Jy het seker al van sy werk gesien, soos In gesprek. Hy’s boonop ’n yster as dit by produksiebestuur kom. Sedert 2022 is ons ’n gesoute kombinasie as kameraman en verslaggewer.
Felix word van die begin af ’n fotojoernalis genoem, nie net ’n fotograaf nie. Julle beklemtoon daarmee dat ’n fotograaf net soveel ’n joernalis is soos die berigskrywer of verslaggewer voor die kamera. Waarom daardie onderskeid?
Hancu: Die rol van ’n fotograaf is baie groter as wat mense besef. Ons wou wys hoe dit voel om ’n verslaggewer op grondvlak te wees – nie net om die regte foto te kry nie, maar ook om die storie te vertel. Ons hoop dit help kykers om Felix raak te sien as ’n fotograaf, ’n mens, ’n storieverteller – ’n joernalis in die breedste sin van die woord.
Xolani: Vir my verteenwoordig Felix alles wat ’n fotojoernalis moet wees. Daar is geen ego ter sprake nie, niks kortpaaie nie, net vasberadenheid, instink en siel. Hy duik elke keer kop eerste in ’n storie.
Dit kon nie maklik gewees het vir Felix om Marikana te herbesoek nie, maar hy deel sy ervaring so openhartig. Hoe het julle sy vertroue gewen?
Hancu: Tyd. Tyd. Tyd. En baie eerlike gesprekke tussen ons drie. Wat baie gehelp het, was ’n naweek saam in Felix se tuisdorp, Sterkspruit in die Oos-Kaap. Ons het nege uur lank tot daar gery en die naweek saam deurgebring om foto’s te neem en tyd met sy familie te spandeer. Ek dink daardie reis en ons opregte entoesiasme het gehelp om vertroue te bou en die gebeure by Marikana werklik te deurgrond. Dit was ’n groot voorreg om sy vertroue te wen en sy verhaal te vertel.
Die dokumentêr is opreg en eerlik. Watter uitdagings of kompromieë moes julle hanteer om getrou te bly aan julle visie?
Xolani: Ons het die besoek aan die Marikana-koppie heel laaste geskiet. Felix was deurgaans kalm tydens die onderhoude, maar op die koppie het die herinneringe hom soos ’n opslagbrander getref. Hy’t net begin praat – ek kon hom nie eers sy sit laat kry vir die onderhoud nie. Ek moes al my planne laat vaar en net die kamera laat rol.
Daardie oomblik bo-op die koppie wanneer hy sê: “Dit was stil, jy kon ’n speld hoor val” – dit was totaal onbeplan. Ek het besluit om sy emosies vas te lê en het hom net laat begaan. Agterna het ek vir die Silwerskerm-mentors vertel dat my planne by die venster uit is, en hulle raad was: “Laat die chaos vir jou werk.”
Ons het geweet die Marikana-storie is ingewikkeld. Maar met ons beperkte tyd en begroting het ons besluit om dit vanuit Felix se perspektief aan te bied. Dis hoe ons ons fokus kon behou.
Hoewel die dokumentêr konsentreer op gebeure van meer as ’n dekade gelede, voel die boodskap oor joernalistiek kraakvars. Wat hoop julle sal kykers daaruit kry?
Hancu: Die belangrikheid van joernalistiek in ons jong demokrasie. Die belangrikheid van waarheid en eerlike verslaggewing. Die persoonlike tol wat dit van joernaliste eis, veral fotojoernaliste. Die moed en opoffering van mense soos Felix, wat meestal anoniem bly. Die aandadigheid van almal wat vir Marikana verantwoordelik was, en hoe ’n komplekse gebeurtenis dit in werklikheid was. Ek dink nie dit sal ooit ten volle opgeklaar word nie. En uiteindelik: die vermoë van ’n man en sy kamera om die waarheid vir die wêreld sigbaar te maak.
Die dokumentêr bevat baie aangrypende foto’s uit daardie tyd, waarvan baie nog nooit voorheen gewys is nie. Hoe het julle besluit watter foto’s om in te sluit?
Xolani: Felix was so gaaf om vir my toegang tot sy argief te gee. Ek het die foto’s deurgegaan terwyl ek na ons onderhoude geluister het, en só kon ek ’n prentjie in my kop kry van hoe om dit in die film te gebruik. Ek het van hulle laat druk omdat ek geweet het hoe dit die narratief gaan belig en Felix gaan help om die belangrikste oomblikke oor te dra. Party was net eenvoudig chaoties: jy kon sien Felix het sy vinger heeltyd op die sluiter gehad. So, ek het besluit om daardie beelde soos flits-animasie in die dokumentêr aaneen te string.